Hoe moet gelowiges hulle bestaan in die Hemel voorstel?

HOE MOET GELOWIGES HULLE BESTAAN IN DIE HEMEL VOORSTEL?

Hoe moet gelowiges hulle bestaan in die hemel – die sogenaamde tussentoestand, tussen dood en opstanding – voorstel? Dit sal ‘n tyd wees waar die verlossing van alles wat belemmerend op die verhouding met God en naaste ingewerk het, gevier kan word, waar verdere groei kan plaasvind, en waar mens verder kan meewerk aan die koms van God se koninkryk. Dis geen plek en tyd vir verveling nie.

Hoe moet mens die hemelse bestaanswyse voorstel?

Die hemelse bestaanswyse moet onderskei word van die opstanding. Die hemel is die sogenaamde tussentoestand – tussen ons dood en die einde van die wêreld. Laasgenoemde hou in: die eindoordeel, die opstanding van die dooies, en die nuwe hemel en aarde.

Maar oor hierdie onderskeid stem teoloë nie saam nie. Want die Bybel is nie baie duidelik hieroor nie. Die Bybel praat baie meer oor die transformasie van hierdie sondige bedeling as oor ons bestaan in die hemel. Dit praat oor die opstanding(sliggaam), die koms van God se koninkryk, en die nuwe hemel en aarde. Daarom sê sommige: Ons hemelse bestaan is niks anders nie as die begin van ons bestaan in die nuwe hemel en aarde. Christus dien hier as voorbeeld: Hy het gesterf, en na drie dae opgestaan met ‘n verheerlikte liggaam.

Die teenargument is egter: Nog net Christus het so opgestaan. Hy is die eersteling uit die dood en verteenwoordig ons verheerlikte bestaan tans by die Vader. Na die dood deel gelowiges weliswaar voorlopig hierin, want ons is by Christus. Maar God se koninkryk moet eers finaal kom voordat gelowiges beklee word met verheerlikte liggame.

Indien ons aansluit by laasgenoemde siening, waarin bestaan ons lewe in die hemel dan?

1.         Teoloë is dit eens dat menswees, Bybels gesien, ‘n eenheid van gees, siel, en liggaam is. Die dood is dus nie ‘n skeiding van siel en liggaam met die liggaam wat vergaan en die onsterflike siel wat na God terugkeer nie. Nee, die dood is ‘n afbraak van ons totale menswees – gees, siel en liggaam. Ons kan wel sê dat dit wat essensieel ek is, deur God bewaar word in die dood. Paulus sê immers (Filippense 1:23): “Ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees.” Dis daardie “ek” -die volle mens – wat die hemel saam met Christus bewoon.

2.         Ons hemelse bestaanswyse is verder ‘n verloste bestaan. Die hemel is dus veral ‘n verlossingsbegrip. Dikwels, by die dood van iemand wat lank gely het, sê ons: sy/haar dood was ‘n verlossing. Bybels gesien nie ‘n verlossing van die aardse, liggaamlike bestaan, asof dit iets sleg is nie. Daar was inderdaad in die antieke tyd so ‘n standpunt, die gnostiek genoem, wat gesê het dat ons siele gevange gehou word deur ons aardse liggame. Slegs deur kennis kan ons ontkom aan die aardse, met die dood as finale verlossing.

Nee, die hemel is nie ‘n verlossing in hierdie sin nie, maar wel: verlossing van die broosheid, gebrokenheid, lyding en sonde wat die lewe kenmerk. Daarom staan Christus sentraal in die hemel. Daar is geen hemel sonder Christus nie. Die hemelse bestaanswyse het dus twee kante: Enersyds word ons bevry van dit wat altyd gekeer het dat ons voluit mens na God se bedoeling kan wees. Die Hebreërboek praat daarom van die uitstaande Sabbatsrus. Ons rus dan van dit wat ons afgerem en moeg gemaak het. Andersyds: Dan kan die lewe wat God in ons begin het tot volle ontplooiing kom. Dis die lewe in geloof, hoop en liefde, waarvan die liefde die grootste is. Dit waaraan God gebou het tydens ons aardse lewe, breek dan in sy volle glorie deur.

3.         Die hemelse bestaan is nie vervelig nie. Baie keer wonder mense: Maar wat gaan ons heeldag doen in die hemel? Teoloë is dit al meer eens dat daar in die hemel steeds ruimte vir verdere arbeid en ontwikkeling sal wees – ‘n verinniging van wat God reeds in ons begin het. Mens kan jou indink dat die moordenaar aan die kruis ‘n paar dinge sal wil regmaak met God en sy naaste. Of dat iemand wat as klein kindjie gesterf het, die wonder van sy of haar kindskap van God verder wil ontdek. Of dat mense wat met allerlei gestremdhede geworstel het, hulle nuutgevonde vryheid sal wil eksploiteer. Ja, daar sal nie een van ons wees wat nie behoefte sal hê aan verdere groei nie. En die hemel is die ideale plek daarvoor. Daar sal ons voluit kan meewerk aan die koms van God se koninkryk. Want dít is die uiteindelike doel van God: die nuwe hemel en aarde. Punt is: die hemel is nie ‘n vervelige plek nie.

Is bogenoemde te spekulatief? Wel, die Bybel nooi ons uit om saam te dink oor waarheen God met ons oppad is, ook oor ons hemelse bestaanswyse. Want dit is ons bestemming, ten minste as ons aan Christus behoort. Solank mens net binne die bane bly wat die Bybel vir ons aanwys, kan mens maar seker bietjie gelowig spekuleer.

 

Skrywer: Prof Hermie C van Zyl 

 




Heilige Skrif

Heilige Skrif

Dogmenhistories is dit duidelik dat die Protestantse skolastiek die sola scriptura oorspan het. Dit is losgemaak van die regverdigingsleer wat alleen deur Christus kan geskied en deur die ander sola-uitsprake gekwalifiseer moet word.

Inderdaad word die indruk dan geskep dat die Bybel by die Protestante, die plek van die kerk by die Rooms-Katolieke Kerk ingeneem het. Dit voer ook tot die futiele vraag wat eerste is, die kerk of die Bybel? Ons moet fundamenteel tussen die Skrif, die Woord en die openbaring onderskei. Dit is prinsipieel korrek om by die openbaring te begin as synde die gratia praeveniens van God, maar is noëties gewoon nie moontlik nie. Openbaring kan ook nie as die loodregte inbreuk van bo gesien word wat in die Skrif gestol het nie. Die Bybel is nie ‘n stuk sediment van die openbaring waarop greep uitgeoefen kan word nie. Openbaring kan nooit verobjektiveer word nie. Openbaring is immers nie iets van God nie, maar God sélf wat genadiglik na sy skepping toe uitreik. Dit is inderdaad ook ‘n vraag of die woord openbaring enigsins nog die debat dien. Die verskillende modelle van openbaring dui daarop dat die teologie in elk geval eerder met ‘n hibriede verstaan van openbaring sal moet klaarkom. Waarskynlik is die coram Deo of “God met ons”, gunstige alternatiewe om in hierdie opsig te oorweeg; nie net die geskiedenis nie, maar ook die natuur word sodoende verreken.

God kom tot spreke in Jesus Christus, of dalk beter geformuleer, “Jesus Christus is die Spreker van God se Woord in die geskiedenis.” Dit beteken minstens die volgende vyf perspektiewe: dat God in die menslike geskiedenis inkom en met die mens in gesprek tree; God se openbaring is nie onhistories, metafisies of orakelagtig nie; God het op ‘n baie spesifieke tyd en plek Homself geopenbaar en is soos elkeen van ons in ‘n konkrete situasie te interpreteer; omdat Jesus die Spreker van Gód is, het die uitwerking universele draagwydte en oorstyg dit ruimte en tyd; en laastens, God praat met die mens in ‘n menslike taal en bedoel dus om gehoor en verstaan te word. As Christengelowiges kan ons nie by hierdie saak verbygaan nie en durf ons ons nie veroorloof om “agter die skerms” insig te bekom nie. Ons kan alleen oor God in sy ekonomie van heil praat. Dit is sowel eksegeties as hermeneuties onhoudbaar om die Skrif so uit te lê dat dit ‘n immanente prinsipe kommunikeer. ‘n Ontologie van die Skrif bestaan eenvoudig nie.  Daarvoor is die diversiteit van getuienis net te vanselfsprekend. Die gelowige kan egter vanuit persoonlike oortuiging en gevorm deur sy of haar simboliese universum, in die Bybel wel onderskei tussen middelpunt en omtrek, pieke en vlaktes, sonder om formeel ‘n kanon in die kanon te probeer daarstel. Daarvoor is ons insigte immers te subjektief en voorlopig. Bybelse begronding beteken dus ook nie om Bybelversies te siteer nie. Nie alleen doen dit onreg aan die integriteit van die teks in sy geheel nie, maar verdoesel dit ‘n voorveronderstelling waaruit gelees word. Bybelse begronding is om God se spreke in Jesus Christus soos getuig in die Skrif en geïnterpreteer deur die geloofsgemeenskap, te laat hoor. Die Bybelse begronding vind plaas wanneer die integriteit van die Skrif erken word, ‘n gees van afwagting en oortuiging bestaan en God in die tweede persoon enkelvoud, as die “U” (Buber), gehoor word. Die Skrif verklaar homself is dus geen eksegetiese tegniek nie, maar die oortuiging dat God in Jesus Christus tot spreke kom. Te midde van ‘n ná moderne pluralisme, is hierdie die “meta-narratief” waaraan die Christelike kerk ononderhandelbaar bly vaskleef.

Geloof is daarom die sine qua non om die Skrif in hierdie lig te lees en te verstaan. Wedergeboorte is om deur die Gees van God aangeraak te word en te erken dat Jesus die Christus is. Konfrontasie hiermee disoriënteer die mens, maar heroriënteer ook. Daarom sal die appèl tot bekering en versoening in Skrifverstaan ook altyd gehoor en nagestreef moet word. Die leser kom altyd met ‘n bepaalde verwagting na die teks toe en hierdie verwagting moet in terme van eksistensieel-kontekstuele vrae interpreteer word wat weer aan Bybelse antwoorde korreleer. Webster is waarskynlik reg wanneer hy die uitwerking van God se openbaring in die heiligmaking en inspirasie sien. Hierdie geloofsverhouding as uitgangspunt vra uiteraard dat die Adam in ons gekruisig moet word. Die Evangelie druis teen alle natuur in en vanselfsprekende antwoorde is juis onevangeliese antwoorde! Die Skrif Alleen begin met spanning en konflik – dit spreek so anders as wat menslik gesproke, dikwels graag gehoor wil word. Calvyn stel dat wanneer die Woord van God deur die Bybel wel tot spreke kom, dit die lesers verras, oorweldig, uitdaag, ontstel, konfronteer, verbaas. Dit is die Gees wat by die letter kom, die evangelie by die wet, die belofte op die vervulling. Die gesag van die Skrif is dus ‘n ontmoetingsbegrip wat ‘n Jeremia kon laat sê: “U was te sterk vir my, U het gewen” (Jeremia 20:7).

Maar dis nie net ‘n saak tussen my en God nie. Die ek-U relasie kort ook die derde term van hy/dit. Die mens is altyd ingebed binne ‘n kultuur-linguistiese nis wat alle verstaan bepaal of minstens beïnvloed. Gister se openbaring is vandag se tradisie en dit weer vorm die basis vir môre se insigte. Openbaring moet vasgelê word, maar tegelyk ook “deurvertaal” word. Sonder vertolking verstar die geloof in proposisies en sonder vaslegging vervloei dit in persoonlike opinies. Die Heilige Skrif is dus die vaslegging van die getuienis van God se betrokkenheid in die geskiedenis. Dit is daarom altyd ook geïnterpreteerde Skrif. Dit is nie die openbaring self nie – net die getuienis daarvan. Karl Barth het waarskynlik te ver gegaan om die Woord drievoudig te verstaan: slegs die geïnkarneerde Woord is die openbaring van God – die ander is getuienis. In hierdie opsig is tradisie ook van dieselfde aard as die Skrif. Die Skrif interpreteer egter alle ervaring en moet derhalwe ook die tradisie yk. Dit is dus die ooreengekome maatstaf wat deur die geloofsgemeenskap erken word. Erken ja, want daar kan nie werklik uit die sirkelredenasie ontsnap word dat die kerk die kanon bepaal en die kanon weer op sy beurt die kerk konstitueer nie. Tog wil die geloof ook hê dat die Skrif as norm herken word, dat die Skrif die resultaat van ‘n lang teologiese – én ander – oorwegings was. Daarom is die Skrifprinsipe eerder ‘n kerkprinsipe. Dit word vandag wyd aanvaar dat die narratief (“storie”) sowel wat die Skrif as die geïnkorporeerde geskiedenis betref, die mees toepaslike genre is om die boodskap in Jesus by ons te laat tuiskom. Dit skep ‘n interaktiewe Gestalt met die geloofsgemeenskap wat die individu tot ‘n eksistensiële beslissing bring (“closure”) en doen daarom reg aan die sogenaamde resepsie van die boodskap.

Die wisselwerking tussen God, mens en skepping vind in Jesus Christus ‘n konkreet-historiese gestalte. Dialoog is daarom ewe belangrik met die wêreld as met die verskillende wetenskappe wat eweneens trag om die werklikheid te begryp. Dit is die teologie se beskeie oortuiging dat hy nie net by hierdie dialoog kan baat nie, maar selfs ook ‘n bydrae kan maak. Vergelyk byvoorbeeld die aanbod wat Wentzel van Huyssteen tot die paleoantropologie maak. Waar die Skrif verstaan word in terme van Jesus Christus as die spreke van God se taal in die geskiedenis (oftewel skepping), raak hierdie gesprek soveel te meer onontbeerlik. Dit gee ons ook insig op sake veral soos die natuur, die tyd, die kwaad, die goeie en die mens. Omdat die Skrif nie ontologies as bron verstaan kan word nie, maar as getuienis daarvan, is die felle debat met die RKK oor die tradisie ook grootliks gerelativeer. Die kerk kan ook nie deur ander getuienis onaangeraak wees nie. Die verskil tussen voorlopig en volkome (kyk weer Art 7 van die NGB) is weliswaar gradueel, dog nie prinsipieel nie. Maar hiermee word die terrein van die eskatologie betree.  

 

Skrywer: Prof Johan Buitendag

 




Die Doop

Die Doop

Daar is seker in die teologie of kerk nie nóg ‘n onderwerp waaroor meer ver­skil word as die doop nie. Waarskynlik sal dit ook nie baie anders in hierdie kring wees nie. Ek gaan ook nie nou poog om ‘n breedvoerige teologiese daarstelling van die doop met al die tersaaklike probleme te bied nie, maar gaan ‘n soort van klankbord daarstel waarteen die twee voorgestelde formuliere geresoneer kan word.

Die Westerse teologie het die doop vanuit ‘n subjek-objekskema beoordeel. Hiervolgens is die klem óf op die objektiewe handeling van die doop óf op die subjektief-persoonlike ingesteldheid van die dopeling gelê. Die RKK het geleer dat die doop ‘n insigself werkende krag (ex opere operato) het en ook die erfsonde afwas (Augustinus). En omdat gemeen is dat ook babas in sonde ontvang en gebore word, was die argument, het hulle beslis ook die doop nodig. Die amptelike bediening van die doop deur die kerk (ex opere operantis) was ook van beslissende belang, soos in die stryd met die Donatiste al na vore gekom het.

Soos die Weste gaandeweg al hoe meer plek vir die individu en die mens se intrinsieke goedheid gemaak het, is die suigelingsdoop toe gevolglik deur die Waldense, Anabaptiste en Baptiste verwerp. Veral in Amerika het die Baptiste Beweging met ‘n sterk nadruk op die persoonlike geloofsbeslissing geweldig uitgebrei. Die doop word dus net aan belydende gelowiges bedien (believer’s baptism). Die 20e-eeuse Pinksterbeweging het hierdie opvatting oorgeneem en ook Karl Barth het die kinderdoop (alhoewel met ander argumente) afgewys.

Hierdie twee pole van objektiwiteit en subjektiwiteit staan dus teenoor mekaar (uit die perspektief van die mens), soos gawe en opgawe, passie en aksie. Metafories sou ons kon sê dat eers­genoemde is soos om in ‘n familie gebore te word en laasgenoemde is soos om in ‘n familie te trou. Albei hierdie aksente het ook stewige Bybelse grond.

Die probleem kom egter na vore wanneer die “Protestantse beginsel” (Paul Tillich) van die genade wat in geloof ontvang word, by die doop van ‘n kind ter sprake gebring word. Zwingli byvoorbeeld het daarom ‘n ander argument vir die regverdiging van die kinderdoop gevolg as Augustinus met sy erfsonde-leer, naamlik dat die doop die vaandel van die inlywing in die geloofs­gemeenskap is. Luther erken ook die band tussen geloof en doop onteenseglik, maar ontken ‘n voorskriftelikheid in die kronologie van die lewe van die individu. Verwerping van die kinderdoop, sê hy, en die gepaardgaande vereiste van die individu se persoonlike geloof, is volgens hom net ‘n bedekte vorm van werkgeregtigheid.

Dit behoort reeds duidelik wees dat ons in terme van hierdie twee pole, nie tussen die een of die ander hoef te kies nie. Ons kan en moet albei hierdie pole erken. Dit is immers ook ‘n misverstand dat sekere kerke téén grootdoop is – hulle verwerp net dat mense oorgedoop moet word. Boonop het Calvyn reeds gesê dat die doop altyd slegs kinderlik ontvang kan word – “alle” doop is dus wesenlik kinderdoop, ook grootdoop.

Die volgende drie stellings is samevattend vir ons van belang:

  • Die doop konstitueer die Christelike identiteit

Die gedoopte is één met Christus (se dood en opstanding) en is daarom ‘n nuwe mens. Die doop is dus meer as ‘n teken; die status van die betrokkene word verander. Dit is alleen moontlik omdat Gód sy Heilige Gees as die Bron van die lewe skenk. P T Forsyth sê dan ook dat soos wat doop op grond van geloof plaasvind, dit egter ook verstaan kan word as dat doop die induksie (inleiding) in die geloof (-gemeenskap) is.

  • Die doop het ‘n onlosmaaklike plek in die heilsgebeure

Geloof, bekering en wedergeboorte word dikwels met die doop in die NT verbind. Boonop word dit ook heel eksistensieel gedoen. Luther beklemtoon daarom ook die noue verband tussen doop en byvoorbeeld berou. Die eens-en-vir-altyd-wees (Romeine 6:10) van die doop in Christus word dus daagliks deur die gedoopte in die bekering bevestig. Die doop moet dus komprehensief verstaan word en wel in die sin dat die toekomstige dood en opstanding nou reeds (antisipatories) uitdrukking vind. Dit is ook die rede waarom die Nagmaal komplementêr tot die doop verstaan moet word: hierdie toe-eiening van die heilsgebeure duur die mens se hele lewe lank.

  • Die doop is inwydingsrite van die kerk

Die doop is altyd ‘n kerklike handeling. Dit gaan immers om die inlywing in die gemeenskap van gelowiges. Tog is die primaat die individu se gemeenskap met Christus. Die klassieke uitleg van die Twaalf Artikels se communio sanctorum, nl. dat die gemeenskap aan die “heilige dinge” (d i die sakramente, dus Christus), die gemeenskap aan die “heilige mense” voorafgaan, is dus ook hier van toepassing. Hierdie is ook die rede waarom die doop vandag toenemend in die ekumene diensbaar gemaak word.

Ten slotte moet ons altyd daarop bedag wees dat ons nie tradisie-ryke sakraments­teologieë in NT tekste indra nie (illegitimate totality transfer). Daar is seker min ander woorde in die Bybel wat soos ‘n “konsertina” (James Dunn) aangewend word. Tog beteken dit ook nie dat daar nou by twee duisend jaar se intense worsteling hieroor verbygegaan durf word nie. Oor ons koppe is immers die “sacred canopy” (Peter Berger) wat ons verwysingsraamwerk omspan. Ons betoog moet vanuit ‘n konsistente teologiese ontwerp geskied, en in ons geval, Bybels-Reformatories.

 

Skrywer: Prof Johan Buitendag

 




Blote Toeval?

Blote Toeval?

‘n Mens hoor al meer mense sê: lewe op aarde het toevallig ontstaan.  Dit was eintlik ‘n ongeluk in die geskiedenis.  Lewe moet aan die noodlot toegeskryf word.

En dit terwyl die mens die vonk van rasionaliteit in hom/haar het wat die sleutel tot die diep geheime wat die heelal bevat, kan ontsluit.  Ons het die vermoë om ons wêreld te verstaan.  Jy kan navors hoe ons heelal lyk, en dit snap.  Want God het jou die vermoë, en opdrag (in Genesis 1:28-30), gegee om jou wêreld te verstaan.

Die bekende natuurwetenskaplike, Paul Davies, erken dat die mens nie sy doel op aarde ooit kan verstaan as hy/sy slegs op natuurwetenskaplike waarneming aangewys is nie.  Hy sê voorts dat as ‘n mens aanvaar dat God nie die Ontwerper en Doelsteller van die mens is nie, jy gedwing word om te sê dat lewe op aarde toevallig ontstaan het, en dat die mens geen doel op aarde het nie.

Maar hoe waarskynlik is dit dat lewe in ons heelal sou ontstaan?  ‘n Groep wetenskaplikes oor ‘n breë spektrum van dissiplines het al die veranderlikes ondersoek wat korrek moes wees voor lewe op ‘n planeet in die heelal sou ontstaan, en uiteindelik ‘n formule gebruik om die moontlikheid van lewe te bepaal.  Die kans dat lewe op ‘n planeet in die heelal sou ontstaan, bevind hulle, is (10×10)²³ tot die mag 6.

PSALM 8

2 Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! 3 Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het. So word u teëstanders, die vyande en wraakgieriges, tot swye gebring.  4 As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, 5 wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? 6 U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, 7 U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp: 8 skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld, 9 die voëls in die lug, en die visse in die see wat die oseane deurkruis. 10 Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde.

 

TOEVAL?

Dit lyk of die heelal met die mens in die oog gemaak is.  Die heelal moet net oud genoeg en groot genoeg wees, en net genoeg tyd moes verloop het sodat die swaar elemente ontstaan het.  Genoeg tyd was ook nodig sodat tweede geslag sterre soos ons son kon ontstaan het.  ‘n Mens kan nie anders as om te sê nie: dit lyk of ‘n groot Hand omstandighede geskik het sodat lewe op ons klein planeetjie kon ontstaan.

Kom ek noem enkele voorbeelde.  Daar is honderde ander.  As die heelal digter as drie atome/kubieke meter was, sou die heelal te vinnig uitgesit het en sou lewe nooit kon ontstaan nie.  As die heelal minder dig was, sou dit op sigself ineengestort het.  As die uitsetting van die heelal vinniger was, sou materie (die twee en negentig elemente waaruit alles opgebou is) nie kon ontstaan nie.  As die uitsetting stadiger was, sou alles ineengestort het.  Die digtheid van die heelal moes akkuraat wees met ‘n faktor van sestig nulle.  Om dié akkuraatheid te demonstreer: jy sou ‘n teiken wat een millimeter groot is, moes kon tref oor ‘n distansie gelyk aan die deursnee van die heelal!

As materie eweredig oor die heelal voorgekom het, sou elemente nie kon vorm nie.  As materie weer oneweredig versprei was, sou groot swart gate of gravitasiekolke ontstaan het wat die heelal stuk-stuk sou opvreet.  Die verspreiding moes korrek wees tot ‘n gemiddeld van een deel in honderd duisend om te slaag.

Om op te som.  Die kans dat lewe op ons planeet toevallig sou ontstaan, is 10×10 tot die mag 23 tot die mag 6.  As jy dié som sou neerskryf, is daar meer nulle in jou formule as stofdeeltjies in heelal!

En jy dink lewe het toevallig ontstaan?  Dat daar nie ‘n God is nie?

 

Skrywer: Dr Marius Nel