Die “wettelose mens” en die opstand teen God kort voor die Wederkoms

Die “wettelose mens” en die opstand teen God kort voor die Wederkoms – Dirk Venter

Willie Esterhuizen vra:

In 2 Tessalonisense 2 vanaf vers 3 praat Paulus. Hy sê:” Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die opstand eers gekom het nie en die wettelose mens , die mens wat vernietiging bring , na vore getree het nie .” My vraag is wat beteken die opstand waarna hier verwys word en wie die wettelose mens is?

Antwoord:

Ds. Dirk Venter antwoord:

Die “wettelose mens” en die opstand teen God kort voor die Wederkoms

‘n Leser vra: “In 2 Tessalonisense 2 vanaf vers 3 sê Paulus: ‘Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die opstand eers gekom het nie en die wettelose mens, die mens wat vernietiging bring, na vore getree het nie.’ My vraag is wat beteken die opstand waarna hier verwys word en wie die wettelose mens is.” (Aangehaal uit die Nuwe Lewende Vertaling).

Die opstand waarna hier verwys word, word in die Nuwe Afrikaanse Vertaling (1983) vertaal as “die laaste afvalligheid”. Dit gaan oor die tydperk kort voor die Wederkoms van Jesus Christus, wanneer goddeloosheid en opstand teen God erg sal toeneem en ‘n hoogtepunt sal bereik. Matteus 24 en 25 vertel ons baie van wat Jesus Self oor hierdie tyd gesê het, soos byvoorbeeld dat God dit gelukkig sal inkort (Matteus 24:22). Sekerlik die hartseerste van hierdie tydperk, is dat mense wat met die evangelie bekend is, ook van God en Christus sal wegdraai en deel sal word van die opstand teen Hom (vgl. Matteus 24:10-13).  Allerlei vals profete en vals christusse sal verskyn en hulle sal selfs wondertekens verrig om die mense daardeur te mislei. Gelukkig sal dit nie vir hulle moontlik wees om die uitverkorenes van God te mislei nie, al sal hulle probeer (Matteus 24:24), want die uitverkorenes is dié wat (in teenstelling met die afvalliges) wel “die waarheid liefgehad en tot hul redding aanvaar het” (2 Tessalonisense 2:10; ook 2:13-17) en wat tot die einde toe sal volhard (Matteus 24:13).

Die “wettelose mens” wat in hierdie tyd sal verskyn, is die laaste in ‘n lyn van verskeie “antichriste” wat deur die eeue heen teen God en Christus opgetree het, en hy sal die ergste van hulle almal wees (vgl. 1 Johannes 2:18, 2 Johannes 7). Hy sal, as agent van die Satan, bekragtig wees om wonders te doen en mense te mislei (2 Tessalonisense 2:9-10). Hy sal homself ook bo alle ander gode en als wat heilig is verhef en voorgee dat hy God is (2:4). Tog is hy van die begin af reeds bestem vir die verderf (2:3), en hy sal meteens deur Christus verdelg word wanneer Hy terugkeer (2:8).

Baie van dit wat in 2 Tessalonisense 2 van die “wettelose mens” gesê word, se wortels is terug te vind in die boek Daniël (Daniël 7 en 8), en na alle waarskynlikheid is die eerste historiese persoon op wie hierdie prentjie van toepassing was, ‘n man met die naam Antiogus (IV) Epifanes (175-164 vC). Hy was heerser van die ryk van die Grieks-Seleukiede, wat Israel op daardie stadium oorheers het. Dié man het besluit om die Joodse geloof te vernietig deur die Jode te dwing om die Griekse godsdiens en kultuur aan te neem en hulle te verbied om langer gehoorsaam te wees aan die wet van Moses. Baie Jode hét gevolglik vergrieks en dus as’t ware afvallig geword (dit wil sê: in opstand gekom teen God en sy wet). Die boek 1 Makkabeërs (apokrief, waarskynlik tussen 134 en 104 vC geskryf) vertel ons baie van hierdie geskiedenis, insluitende van laasgenoemde afvalligheid (1 Makkabeërs 1:11-15, 43). As deel van Antiogus se program van vergrieksing, het hy die Joodse offers in die tempel verbied, sowel as die hou van die godsdienstige feeste en die sabbat. Hy het ook al die boeke met die wet van Moses wat sy manne in die hande kon kry, laat opskeur en verbrand. In die plek hiervan moes die Jode nou heidense feeste vier en offers bring op heidense altare wat hy oral laat oprig het. Hy het selfs sovêr gegaan as om die altaar van God in die Allerheiligste van die tempel te laat afbreek, en ‘n afgodsaltaar vir Zeus daar te laat bou, waarop daar maandeliks offers gebring is.

In 2 Tessalonisense 2 voorsien Paulus, gelei deur die woorde van die profeet Daniël en van Jesus Self en deur die inspirasie van die Gees, dat hierdie geskiedenis homself in vele opsigte gaan herhaal. Net soos wat daar voor die eerste koms van Christus ‘n tyd van erge afvalligheid en ‘n besondere “wettelose” regeerder was (wat hom teen God verset het en verhef het bo al wat heilig is), so sal dit weer wees kort voor Christus se Wederkoms ook, tot die ergste mate ooit.

 

Skrywer: Ds Dirk Venter