1

Is God ’n oneerlike bestuurder? (Lukas 16:1-13)

Is God ‘n oneerlike bestuurder? (Lukas 16:1-13) – Fanie Rudolph

1. Inleiding:

Met die eerste lees van hierdie gelykenis lyk dit asof Jesus ten gunste is van die oneerlike optrede van hierdie bestuurder.  As ‘n mens vinnig deurlees, wil dit selfs voorkom asof Jesus mense aanmoedig om so met geld om te gaan.  Kan dit regtig die geval wees, veral in ‘n boek waar rykdom en uitbuitery sterk veroordeel word?

2. Jesus se gebruik van gelykenisse:

Jesus het baie in gelykenisse gepraat.  So het Hy die mense belangrike lesse oor die lewe, en veral oor die koninkryk van God (vgl. Matteus 13), vertel.  Deur hierdie lesse aan die alledaagse lewe te koppel, wys Hy sy dissipels dat hierdie lesse in die lewe sin maak.

3. ‘n Oneerlike bestuurder:

Waar meeste van die gelykenisse reguit is (met óf ‘n sterk “nee”, óf ‘n sterk “ja” as antwoord), kom Jesus hier met ‘n “ja” na vore wat eintlik ‘n “nee” moet wees.  Die oneerlike bestuurder sorg vir homself deur ander mense om te koop (met sy baas se geld), sodat hulle vir hom kan sorg as hy dalk afgedank word (Lukas 16:4).  Die skandes in die gelykenis kring verder uit wanneer die baas dit agterkom en uiteindelik die oneerlike bestuurder prys vir sy oneerlikheid (Lukas 16:8).  Die toneel klink amper heel hedendaags.  Ons hoor en sien dit daagliks in die lewe.  Dit is hierdie gebeure wat amper die idee skep dat Jesus die oneerlikhede goedkeur.

Jesus se verklaring in vers 9 bring die gelykenis in ‘n heel ander lig.  Dit is amper asof Jesus met sarkasme reageer op die optrede van die bestuurder en sy baas.  En Hy trek hierdie sarkasme deur na die alledaagse lewe.  As jy net daarop ingestel is om na jouself te kyk, sê Jesus by implikasie, dan is hierdie die manier waarop jy mag optree.  Dan maak etiek en God se wil mos nie vir jou saak nie.  En ja, die mense van hierdie wêreld wat dieselfde dinge doen, gaan waarskynlik vir jou sorg as jy in die moeilikheid land.  Jy het immers vir hulle gesorg om jou eie bas te red.  Hulle sal jou wel in hulle “ewige wonings” ontvang.  Hulle ewige wonings verskil egter sterk van God se ewige woning.  Dit is ‘n ewige woning van verderf, nie van God se heerlikheid en lewe nie.  Lukas se sterk ingesteldheid teen die rykes kom ook hier na vore in die sin dat Jesus die “oneerlike mammon” (geld) as die wortel van die kwaad alhier uitlig.  Tog moet ons erken dat Jesus (en Lukas) ‘n punt beet het.  Geld word al te maklik misbruik om mense om te koop of te beïnvloed.  Mense se gierigheid en selfgerigtheid kom duidelik na vore in die wyse waarop hulle met geld omgaan.

4. ‘n Betroubare God:

In vers 10-12 stel Jesus die gelykenis in die regte perspektief.  Dit gaan oor betroubaarheid.  God (en ander mense) vertrou ons met sekere dinge.  As ons nie eers betroubaar kan wees in die klein dingetjies wat nie ewigheidswaarde het nie (lees geld), hoe kan ons vertrou word met die groot dinge, die geestelike en ewige dinge?  Hoe kan ons as God se bestuurders optree (vgl. Genesis 1:26-27), as ons nie eers ons eie self betroubaar en eerlik kan bestuur nie?  As ons onsself, geld en ons besittings aanbid, kan ons nie genoeg aandag gee aan God, wie ons eintlik moet aanbid, nie.

In ‘n samelewing waar korrupsie en bedrog en omkopery hoogty vier, is hierdie uiteindelik ‘n belangrike gelykenis om in die oog te hou.  As gelowiges kan ons nie onsself uitverkoop aan die gierigheid en verkeerde praktyke van hierdie wêreld nie.  Ons het ‘n taak en roeping om deurentyd te soek na God se wil vir ons lewens.  En die etiese waardes van sy koninkryk gaan nie oor my belange en begeertes nie, maar oor God se etiek en wil.

Outeur: Dr Fanie Rudolph