Judit

Judit

In die boek Judit, een van die Ou-Testamentiese apokriewe, word ‘n pragtige verhaal vertel van ‘n Joodse vrou wat op die Here vertrou en vrou alleen die magtige vyand ‘n nekslag toedoen.

Haar stad is deur die vyand omsingel en heeltemal uitgehonger. Toe die mense van die stad wou oorgee, het Judit geweier en ‘n slim plan uitgedink om die stad te red. Die uittreksel hieronder vertel hoe die eerste deel van haar plan gewerk het:

 

1 Toe het Judit opgehou om tot die God van Israel te bid om haar te help. 2 Sy het van die grond af opgestaan en haar slavin geroep. Toe het sy uit haar skuiling uitgegaan, af in die huis in waarin sy altyd op die Sabbat en op feesdae gebly het. 3 Sy het die rouklere wat sy aangehad het, uitgetrek, gebad en duur parfuum aangesmeer. Sy het haar hare geborsel, ‘n versiering op haar kop gesit en die vrolike klere aangetrek wat sy altyd gedra het toe haar man Manassa nog geleef het. 4 Sy het sandale aangetrek, armbande, ringe om haar enkels, vingers en ore en al haar ander juwele. Sy het haarself baie mooi gemaak sodat sy die oog van enige man wat haar sien, kon vang. 5 Sy het vir haar slavin ‘n leersak vol wyn en ‘n fles olie gegee, en ‘n sak vol geroosterde graan, koekies van gedroogde vye en die beste brood gepak. Sy het alles toegedraai en ingepak en dit vir die slavin gegee om te dra.

6 Hulle het na Betulua se stadspoort gegaan en vir Ussia daar gekry waar hy saam met die ander twee leiers, Gabris en Garmis gewag het. 7 Hulle het gesien sy lyk heeltemal anders en is anders aangetrek, en hulle was verstom oor sy so mooi was. Hulle het vir haar gesê: 8 “Ons bid dat die God van ons voorvaders vir jou goed sal wees en jou plan sal laat slaag. Dan sal die Israeliete bly wees en al die mense sal vertel hoe wonderlik Jerusalem is!” Judit het gebid 9 en toe vir hulle gesê: “Sê hulle moet die stadspoort vir my oopmaak sodat ek kan uitgaan en kan gaan doen waaroor ons gepraat het.” Hulle het vir die jongmans gesê om die poort vir haar oop te maak. 10 Toe die poort oop was, het Judit en haar slavin uitgegaan. Die stad se mans het haar dopgehou soos wat sy by die berg af gestap het, deur die vallei tot waar hulle haar nie meer kon sien nie.

11 Terwyl die twee reguit deur die vallei gestap het, het van die Assiriese wagte op Judit afgekom. 12 Hulle het haar in hegtenis geneem en gevra: “Van watter mense is jy? Waarvandaan kom jy en waarheen gaan jy?” Sy het geantwoord: “Ek is ‘n Hebreeuse vrou, maar ek is besig om van hulle te vlug, want hulle is op die punt om in julle hande te val en vernietig te word. 13 Ek is op pad na Holofernes, die hoof van julle leër, want ek wil vir hom goeie inligting gee. Ek sal vir hom ‘n pad wys waarlangs hy in die berge kan ingaan en dit alles kan inneem sonder om ‘n enkele man te verloor.”

14 Die hele tyd wat die manne na haar geluister het, het hulle na haar gestaar omdat sy so verskriklik mooi was. Hulle het vir haar gesê: 15 “Jy het jou lewe gered deur so vinnig hiernatoe te kom om generaal Holofernes te sien. Gaan dadelik na sy tent toe! ‘n Klomp van ons sal saam met jou gaan en jou na hom toe neem. 16 Moenie bang wees as jy by hom is nie, maar vertel vir hom alles wat jy vir ons vertel het. Dan sal hy vir jou goed wees.”

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie