1

Oordeel of lewe? – ’n verstaan van Openbaring 20

Oordeel of lewe? – ‘n verstaan van Openbaring 20

1.   Inleiding:

Ons leef onder die indruk dat almal op die laaste dag geoordeel gaan word.  Maar is dit regtig so?  As ‘n mens na Openbaring 20 kyk, wil dit lyk asof daar ‘n duidelike onderskeid gaan wees tussen gelowiges en ongelowiges by die oordeel, amper te vergelyk met Matteus 25. 

2.   Gelowiges se situasie (Openb. 20:4-6):

Hierdie paar verse gee vir ons ‘n belangrike agtergrond oor die posisie van gelowiges op die laaste dag.  Johannes sien die siele van die gelowiges waar hulle saam met Jesus regeer vir die volle duisend jaar.  Dat hulle op trone sit en regeer, bevestig dat hulle lewendig is.  Dat dit al die gelowiges verteenwoordig, word onderstreep deur die belangrike onderskeid wat in vers 6 gemaak word tussen die eerste opstanding en die tweede dood.  Slegs die wat aan die eerste opstanding deel het, sal nie deur die tweede dood (die ewige dood) getref word nie.  Dus verteenwoordig hierdie groep al die gelowiges van alle eeue wat in Christus sterf.  Anders sou dit beteken dat gelowiges wat nie aan die eerste opstanding deel het nie, die tweede dood moet ontvang.  Dit sou teenstrydig wees met die uitspraak dat elkeen wat sy klere in die bloed van die Lam was, gered word. 

Die feit dat hierdie gelowiges lewendig is, beteken dat hulle nie geraak word deur die oordeel waarvan ons in Openbaring 20:11-15 lees nie.  Hulle is immers nie dood op die dag van oordeel nie.  Hulle is lewend vir die volle tydperk tot op daardie dag.  Vir gelowiges is daar dus, aldus Johannes, niks om te vrees op die dag van oordeel nie.

 

3.   Ongelowiges se situasie (Openb. 20:11-15):

Vir die ongelowiges geld die oordeel van God soos ons in Openbaring 20:11-15 lees.  Hulle het nie saam met die gelowiges deel aan die eerste opstanding nie (vgl. Openb. 20:6).  Die uiteinde vir hierdie mense is die tweede dood, of ewige dood. 

In Openbaring 20:12-13 lees ons dat hierdie mense, die dooies, deur die dood teruggegee word vir die oordeel.  Interessant is dat Johannes homself ook daarvan weerhou om te sê dat hierdie mense lewendig geword het.  Hulle word slegs deur die dood en die doderyk en die see teruggegee.  Hierdie mense word dan geoordeel “volgens wat daar in die boeke staan oor alles wat hulle gedoen het.” (vgl. Openb. 20:12).  Hulle dade word die bepalende faktor vir toegang tot die lewe of verwerping in die hel.  En omdat hulle dade die bepalende faktor is, kry God nie hulle name in die boek van die lewe nie (vgl. Openb. 20:15).  Hulle uiteinde is dus die hel. 

Hier is ‘n verdere belangrike punt wat gelowiges se posisie onderstreep by die oordeelsdag.  Gelowiges word nie geoordeel volgens hulle dade nie, maar op grond van Christus se verlossingsdaad aan die kruis.  Wie sy klere was in die bloed van die Lam (Openb. 7:14 en 22:14) het deel aan die ewige lewe.  Hulle sal ook deel hê aan die eerste opstanding en dus nie die straf van die tweede dood hoef deur te gaan nie.  

 

4.   En wat van die duisend jaar?:

Oor die duisend jaar is daar wyduiteenlopende menings.  As ons dit simbolies sou verstaan, verwys die duisend jaar na die tydperk tussen Jesus se hemelvaart en sy wederkoms.  In hierdie tydperk sal al die gelowiges wat doodgaan, saam met Christus regeer.  Hulle sal opstaan in die eerste opstanding waarvan ons in Openbaring 20:4-6 lees.  Aan die einde van die duisend jaar is die oordeel van God.  Gelowiges word egter nie geoordeel nie, omdat hulle hulle klere gewas het en dit wit gemaak het in die bloed van die Lam.  Hulle sal net voortgaan met lewe in ewigheid in God se nuwe wêreld.  

 

Skrywer: Ds Fanie Rudolph