Toegepaste teologie – twee beginsels wat Paulus laat besluit het om nie van die Korintiërs bydraes vir sy persoonlike onderhoud te aanvaar nie

Toegepaste teologie – twee beginsels wat Paulus laat besluit het om nie van die Korintiërs bydraes vir sy persoonlike onderhoud te aanvaar nie

Dit word reeds in 1 Kor. 9 duidelik dat Paulus besluit het om nie van die Korintiërs bydraes vir sy persoonlike onderhoud te aanvaar nie, hoewel hy as apostel eintlik daarop geregtig is.  2 Korintiërs werp verdere lig op Paulus se motivering in dié verband.  Twee diepere teologiese oorwegings motiveer hom om hul aanbod van die hand te wys: 1) is dit in belang van die evangelie? en 2) is dit in belang van die gemeente? 

1.    In belang van die evangelie

In die tyd van Paulus se sendingreise was daar baie rondreisende filosowe en predikers wat hul boodskappe gebruik het as ‘n manier om hulleself te onderhou, en mense dikwels uitgebuit het om hulleself te verryk.  Paulus wou duidelik maak dat hy nie maar net nog ‘n “boodskap te koop” aanbied nie.  Dit was ter wille van die geloofwaardigheid en uniekheid van die evangelie noodsaaklik dat Paulus homself (ten minste in Korinte) van hierdie rondreisende predikers onderskei, en die mees ooglopende manier om dit te doen, was om die winsmotief (waarmee hulle geopereer het) irrelevant te maak.  Dus sou hy die evangelie gratis verkondig (11:7), ter geestelike verryking van die gemeente (6:10), terwyl hy homself verneder tot ‘n armoedige bestaan en hande-arbeid (1 Kor. 9:6).  Sodoende sou hy ook die vrye genade van die evangelie wat hy verkondig, en die vernedering van Christus ter wille van die geestelike verryking van die gelowiges, prakties onderstreep (4:10-12). 

Daar was juis boodskappers in die Korintiërs se midde, wat wel die gemeente se geld aanvaar het (1 Kor. 9:12; 2:17) en daarop aanspraak gemaak het dat hulle apostels is (11:12).  Paulus beskryf hulle egter as vals apostels (11:13) vanweë belangrike verskille tussen hulle “evangelie” en Paulus s’n (11:4).  Die gemeente is deur hulle bedrieg en uitgebuit, ondermeer ook finansieel (11:18-20).  Om homself duidelik van hierdie vals apostels te onderskei, en ook die waarheid van die evangelie (van Christus se selfverloëning) te onderstreep en dit te onderskei van hulle heerlikheidsteologie (wat gepaardgaan met selfverheffing ten koste van ander), het Paulus hom voorgeneem om beslis nie die Korintiërs se aanbod tot finansiële ondersteuning, te aanvaar nie (11:12). 

Die Korintiërs het ook Paulus se rol as hulle apostel van vroeg af reeds verkeerd verstaan.  Paulus onderskei dat die gemeente die rol van “weldoeners” teenoor hom wil inneem, met die implikasie dat hy in die rol van “kliënt” sou beland.  Met ander woorde: hy het rede gehad om te glo dat die gemeente deur middel van hul bydraes ‘n mate van sosiale beheer oor hom wou/sou verkry.  Dit sou Paulus se vryheid en onafhanklikheid as apostel, maar ook die onafhanklikheid van die evangelie, in gedrang bring – ‘n moontlikheid wat fatale gevolge vir die onverdunde evangelieboodskap sou hê, aangesien Paulus nodig gehad het om sekere (prominente en invloedryke) gemeentelede te sensureer vanweë hul gedrag.  In die lig hiervan word die moontlikheid om die gemeente se geld aan te neem (en stil te bly oor dit wat verkeerd is) vir Paulus sinoniem daaraan om die evangelie uit te verkoop ter wille van geldelike wins (vgl. 2:17, 4:2).

Hieruit is dit duidelik dat die bevordering van die evangelie, en die bevestiging van die evangelieboodskap deur die praktyk van die evangeliedienaar, vir Paulus van kardinale belang was.  Die vraag of hy van ‘n gemeente bydraes vir sy persoonlike onderhoud sou aanvaar of nie, het afgehang van die antwoord op ‘n belangriker vraag, naamlik of dit (in daardie bepaalde praktiese omstandighede) die saak van die evangelie sou bevorder of nie.  Sou sy aanvaarding van hul bydraes op een of ander wyse ‘n struikelblok in die weg van die evangelie lê, sou hy dit juis om daardie rede nie aanvaar nie (1 Kor. 9:12).  Sou dit egter geen afbreuk aan die evangelieboodskap doen nie, kon hy dit inderdaad van ‘n gemeente aanneem, soos ten minste in die geval van die gemeente in Filippi (Masedonië, 11:8-9).

 

2.    In belang van die gemeente

‘n Verdere beginsel, wat ten nouste saamhang met die vraag of iets in belang van die evangelie sal wees of nie, is dat daar ook in belang van die evangelie-aanhoorders opgetree moet word (vgl. 4:15).  Paulus beklemtoon dat hy sy besluit om nie hulle bydraes vir sy persoonlike onderhoud te aanvaar nie, in die gemeente se belang geneem het.  “Alles wat ons doen, geliefdes, is in belang van julle geestelike opbou” (12:19).  Terwyl die Korintiërs aflei dat hy nie hulle bydraes wil hê nie omdat hy hulle nie liefhet nie, is Paulus se besluit juis gegrond op sy liefde vir hulle (11:11).  Hy is bereid om alles te gee in hulle belang, selfs sy eie lewe as dit nodig sou wees (12:15; let op hoe dit ooreenstem met die evangelie wat hy verkondig).  Uiteindelik is dit in hulle belang om die suiwere evangelie te glo!  ‘n Vervalste evangelie kan geestelik fataal wees!  Paulus het geoordeel dat sy aanvaarding van hul bydraes die suiwerheid van die evangelie in gedrang sou bring (om die redes hierbo genoem).  Gevolglik wys hy hul aanbod konsekwent van die hand, in hul eie belang. 

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 




Paulus verduidelik waarom ‘n apostel geregtig is op die finansiële steun van ‘n gemeente

Paulus verduidelik waarom ‘n apostel geregtig is op die finansiële steun van ‘n gemeente

Paulus verduidelik in 1 Korintiërs 9 dat ‘n apostel daarop geregtig is om vir sy lewensonderhoud vergoed te word deur die gemeente(s) wat hy bedien.  Hy gebruik voorbeelde uit die alledaagse lewe, sowel as uit die wet en tempeldiens, om dit te bevestig. 

Paulus is gelyktydig met twee redenasies besig in 1 Korintiërs 9.  Aan die een kant verduidelik hy waarom ‘n apostel wel geregtig is op die finansiële steun van ‘n gemeente.  Dit word verder in hierdie artikel bespreek.  Aan die ander kant verduidelik hy hoedat hy (in die Korintiërs se geval) besluit het om nie van hierdie reg gebruik te maak nie.  Dit word bespreek onder ‘n ander artikel met die titel “Waarom Paulus nie die Korintiërs se aanbod om finansiële steun wou aanvaar nie”.

Paulus bevestig dat ‘n apostel die reg het op lewensonderhoud, betaal deur die gemeente(s) wat hy bedien (9:4-12).  Hierdie reg op lewensonderhoud sluit ook die reg op reiskoste, vir ‘n apostel en sy vrou in (9:5), sowel as die reg om op te hou met handearbeid om hulleself daarmee te onderhou (9:6). 

Hy verduidelik hierdie reg op lewensonderhoud eerstens met drie algemene (“alledaagse”, 9:8) voorbeelde, en ‘n uitgebreide voorbeeld vanuit die wet (9:8-12).  Die algemene voorbeelde (9:7) is: soldate dien nie op eie koste nie maar verdien hul loon; ‘n boer wat ‘n wingerd geplant het, is geregtig daarop om die vrugte wat dit voortbring te eet; ‘n veewagter is geregtig daarop om die vee wat hy oppas te melk vir eie gebruik. 

Die uitgebreide voorbeeld vanuit die wet, berus op die proses van saaiery en die oes wat daarop volg.  Die wet sê immers dat die bees waarmee jy dors, toegelaat moet word om te eet van die graan waarin dit werk (9:9).  Paulus pas dit egter op die apostels toe (9:10-11).  Hulle “bearbei” immers die gemeente(s), soortgelyk aan ‘n boer wat die grond bearbei, saad saai en met oestyd die graan dors, met die gevolg dat hy ook uiteindelik sy deel daaruit ontvang.  Soos hierdie boer, is die apostels ook geregtig op ‘n “oes” vir hul persoonlike lewensonderhoud.  Paulus ondersteun sy argument hierna met ‘n vraag (9:12a): daar is ander wat in die gemeente van hierdie reg gebruik maak, het Paulus (as hulle geestelike vader en apostel) dan nie nog meer die reg daarop as hulle nie?  Hiermee verwys hy waarskynlik na rondreisende boodskappers wat in die gemeente werksaam geraak en hulleself mettertyd bewys het as “valse apostels” wat die gemeente eintlik uitgebuit het (2 Korintiërs 11:1-15, 20). Dit was ‘n groot bydraende faktor in Paulus se besluit om nie in die Korintiërs se geval finansiële steun te aanvaar nie (9:12b).

Hy noem nog ‘n laaste voorbeeld wat bevestig dat hy eintlik daarop geregtig sou wees.  Die priesters en Leviete is in ooreenstemming met die Torah geregtig op ‘n deel van die volk se offerandes, vir persoonlike gebruik.  Netso het Christus Self bepaal dat die wat die evangelie verkondig, hulle lewensonderhoud moet ontvang vanaf diegene aan wie die evangelie verkondig word (9:13-14).  Laasgenoemde stelling is dan ook die hoogtepunt van sy redenasie dat ‘n apostel geregtig is op finansiële steun: die Here Self het bepaal dat dit so is.

Lees gerus die ander artikel: “Waarom Paulus nie die Korintiërs se aanbod om finansiële steun wou aanvaar nie”. 

 

Skrywer: Ds Dirk Venter