Die Groot Geloofswoordeboek: God se almag, alomteenwoordigheid en alwetendheid

Die Groot Geloofswoordeboek: God se almag, alomteenwoordigheid en alwetendheid

Die algemene betekenis wat mense aan hierdie begrippe heg, word kortliks hier bespreek. Maar die probleme en die betekenis wat ons in die Bybel kry, word bespreek onder *God.

Die “al” vooraan elke woord is opvallend. Dit is ‘n intensief, ‘n alles­oortreffende trap van vergelyking. Dit beteken dat God se mag, sy teenwoordigheid en sy kennis onoortreflik is, die hoogs moont­like vorme van mag, kennis, teenwoordigheid.

Dit is ‘n bekende manier om iets oor God te probeer sê. As mense aan God dink, dink hulle groot, hoog, heerlik. Anselmus het God selfs beskryf as: Een, groter as wie ons niks kan dink nie. Dit beteken ons kan nie eens dink aan iemand wat groter as Hy is nie, wat meer mag of kennis het nie.

In ‘n reeks ander woorde oor God kry ons weer die “on-” voor­setsel. God is ondenkbaar, onmeetlik, oneindig, on­ver­an­derlik. Dit is net so tipies om só oor Hom te praat. Dit is die manier om te sê dat Hy nie net groter nie, maar heeltemal anders is as ons. Hy is groter as wat ons kan dink of meet (on­denkbaar, onmeetlik); ons het ‘n einde, Hy nie (oneindig); ons verander, Hy nie (onveranderlik).

Op hierdie manier dink mense oor God en kom tot insigte wat vir sommige baie beteken. Mense is oortuig dat dit by God pas dat sy mag almag is. Hy moet enigiets kan doen, en ook presies wanneer Hy wil. En Hy moet oral wees, en selfs gelyktydig oral. En Hy moet alles weet, selfs alles wat ooit in die toekoms gaan gebeur.

Dit is die manier waarop daar dikwels in die verlede oor God gedink is. Dit is hoe die beginsel van Anselmus werk: God is gro­ter as enigiemand of enigiets waaraan ons kan dink.

 

Almag

Die gangbare siening is dat God almagtig is, en dat dit beteken Hy kan enige oomblik enigiets doen wat Hy wil. Vir baie mense is dit dan ook inderdaad dié eienskap van God.

Daar is in die verlede interessante vrae oor hierdie siening van sy almag gevra. Kan God regtig enigiets doen wat Hy wil? Kan Hy byvoorbeeld ‘n klip maak wat so groot is dat Hy dit nie kan optel nie? As jy sê omdat Hy almagtig is, kan Hy so ‘n klip maak, is Hy natuurlik nie almagtig nie, want Hy kan nie die klip optel nie. En as Hy nie so ‘n klip kan maak nie, is Hy ook nie almagtig nie. Dieselfde geld vir die vraag of Hy ‘n vierkantige sirkel kan maak.

Maar daar is ook ander vrae. Kan God die verlede verander? Kan Hy byvoorbeeld die feit verander dat Hy Israel se God is wat Hom aan Abraham, Isak en Jakob verbind het?

Terwyl ‘n mens oor hierdie vrae dink, begin jy besef dat dit nie die soort vrae is wat in die Bybel na vore kom nie. Dis eerder die manier waarop sekere Griekse filosowe oor God gedink het. In die bespreking oor *God sal ons sien dat die Bybel heeltemal ‘n ander benadering het tot die vraag wie God is en watter soort mag Hy het.

 

Alomteenwoordigheid

Oor God se alomteenwoordigheid kan ons ook maklik dink. Hy moet altyd oral wees, glad nie aan plek gebonde nie. Trouens, Hy moet ook altyd in alle tye teenwoordig wees, ook nie aan tyd ge­bonde nie. Hy is nou saam met Adam in die tuin van Eden, saam met Abraham by die groot bome van Mamre, saam met Jesus aan die kruis, saam met ons by die huis, én saam met ons op die nuwe aarde. Hy is mos nie aan plek of tyd gebonde nie. Maar ons is. Is Hy saam met my dáár terwyl ek nog hier is en nie daar nie? Is Hy nou saam met Abraham by die bome van Mamre terwyl Abraham nie meer daar is nie?

Of kry jy die gevoel dat ons al weer met ander vrae besig is as wat ons in die Bybel kry? Sou die Bybel dalk anders dink oor sy teenwoordigheid as wat ons nou doen? In die bespreking oor *God sal ons sien.

 

Alwetendheid

As ons voortgaan op hierdie dink-pad sal ons natuurlik dink God moet alles weet. Hy is dan God. Hy moet alles weet wat ooit gebeur het. Maar Hy moet ook alles weet wat nog gaan gebeur. Omdat ons meen Hy is nie aan tyd gebonde nie, is Hy nou reeds dáár waar ons in die toekoms iets gaan doen. Hy weet dus nou al wat ons gaan doen. Of ons kan selfs dink dat Hy vooruit bepaal wat ons gaan doen, en dat dit eintlik dáárom is dat Hy vooraf alles weet wat gaan gebeur. Maar kom ons regtig op sulke gedagtes in die Bybel af? Ons sal sien in die bespreking oor *God.

 

Woorde gemerk met ʼn * sal later bespreek word

 

Outeur: Prof. Adrio König




Het God engele nodig?

Het God engele nodig? – Jan van der Watt

ʼn Leser vra:

Nadat Jesus gedoop is het die Heilige Gees Hom in die woestyn ingeneem om deur die duiwel versoek te word. Hier het Hy die oorwinning behaal deur telkens die Woord van God as swaard te gebruik. In Openbaring, waar die duiwel gebind en vir 1000 jaar weggesluit word, steur Jesus Hom inderdaad nie verder aan die ou slang nie, maar gee opdrag aan ʼn engel om die nodige te doen. In God se almag wonder mens waarom ‘n leermag van engele dan nodig sou wees as God slegs deur die asem van Sy mond ‘n einde aan alles kan maak.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

God kan inderdaad aan alles ʼn einde maak deur net een woord te spreek. Sy mag is onbeperk. Nou is die vraag waarom hy dan engele nodig het. Die manier waarop die Bybel vir ons verduidelik hoe God werk, is dat Hy gekies het om deur profete of engele of uiteindelik deur Christus te werk. Ons kan dus dieselfde vraag vra: waarom het Hy profete of Jesus gebruik? Dit is die manier wat God gekies het om te werk. Nou moet ons net duidelikheid kry oor wie die engele is. Elders op die webblad word dit in detail bespreek- hier net weer enkele punte. Die Bybel vergelyk God se heerskappy met die van die magtigste koning van destyds, naamlik die Persiese koningshof. Die koning het op die troon gesit en hoef eintlik baie min te doen, want hy het soveel diensknegte gehad. Hulle het namens hom opgetree en sy opdragte uitgevoer. As Hy dus iets wou doen, het Hy dit deur die diensknegte van hom gedoen. Daarom kom gee engele vir Jesus kos, kom kondig ʼn engel Jesus se geboorte aan, veg die engel Migael in Openbaring 12 teen die duiwel, ens. God bestuur sy ryk deur engele. Hy kon dit seker anders ook gedoen het, maar dit is hoe die Bybel sê God dit gedoen het.

Outeur: Prof Jan van der Watt




Die Drie-eenheid

Die Drie-eenheid – Marius Nel

ʼn Leser vra:

Net eers iets waarvan ek effens kennis van dra: Die Boek van Jasher is “Die Boek van die Opregte” waarna daar in Josua 10 na verwys word. Die Boek van Henog behoort meer mense kennis van te neem. In my uitreik na die mense van Israel het ek na dié Boeke verwys en hulle was vertroud daarmee. Die vraag waarmee ek worstel gaan oor ons kennis van God. Ek erken die Heilige Vader en die Heilige Seun en daarom ook die Heilige Gees as my Heilige HERE GOD. Tog fokus ek meer op die Enigheid van God en nie eintlik op die op die Drie-enigheid van God nie. Kan u my asseblief help?

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Terwyl jy onder Jode gewerk het, sal jy weet dat hulle daaglikse belydenis (Deuteronomium 6:4) beklemtoon dat God Een is.  Die vroegste Christene het gestoei met die vraag na die verband tussen Jesus en God en daaruit is mettertyd die leer van die Drie-Eenheid geformuleer. Die kerk het egter nooit bedoel dat ons die Drie los van die Een moet sien nie. Jy is na my opinie korrek om te fokus op die Eenheid. Die beeld wat soms in die vroeë kerk gebruik is (en soos alle beelde het dit bepaalde tekortkominge) is van die Griekse akteur wat aan ʼn drama deelneem en drie rolle tegelyk vertolk (Griekse dramas is geskryf om dit te fasiliteer). Hy trek ʼn kleed aan, sit ʼn masker op en verander sy stem om nou ʼn vrouekarakter te wees (vrouens mag nie aan dramas deelgeneem het nie), dan gaan hy van die verhoog, trek ʼn ander kleed aan en sit ʼn ander masker voor en verander sy stem om soos ʼn soldaat te klink. En daarna speel hy die rol van ʼn oumens. Dit is een en dieselfde persoon. Maak dit sin?

 

Outeur: Dr Marius Nel

 




God se huwelik met sy volk

God se huwelik met sy volk – Marius Nel

ʼn Leser vra:

God Se huwelik met Sy volk. Vanuit die Ou Testament deur die Verbond gesluit deur Moses en die verbreking van hierdie Verbond deur die Volk dat God die vrou skei. Kan u uitbrei op hierdie saak?

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

U som die Ou Testament baie mooi op, vanuit die analogie waarvoor die profete lief was: God het sy volk liefgehad soos ʼn minnaar sy vriendin. In die woestyn het Hy ʼn verhouding met haar aangeknoop en in die Beloofde land met haar getrou. Kort hierna was sy vrou egter ontrou aan Hom deur agter ander gode aan te loop. Sy het die geskenke wat haar Man haar gegee het, vir haar minnaars gegee. En daarom het haar Eggenoot, nadat Hy herhaaldelik by haar gepleit het, haar gedagvaar tot ʼn egskeiding. Die egskeiding was die ballingskap, maar steeds kom die genadewoord: ‘n oorblyfsel sal terugkom en weer in die Beloofde land leef.

 

Dankie dat u die saak geopper het.

 

Outeur: Dr Marius Nel