Skatte in die Hemel

Skatte in die Hemel – Jan van der Watt

Daan Smit vra:

Jesus sê: ons moet skatte in die hemel bymekaar maak – nou wonder ek – wat wil ek met skatte in die hemel maak, en ook – is dit dan verkeerd om op aarde skatte bymekaar te maak om voorsiening te maak vir die dag wat ek nie meer kan werk nie

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die beroemde kerkvader Augustinus het ook die gedeelte gelees en toe gevra hoe mens jou aardse skatte in die hemel kry? Hy kan nie eers sy skatte van een stad na ‘n ander op sy donkie vervoer nie. Nadat hy nagedink het, besef hy dat as hy sy aardse goed vir die mense gee wat almal oppad is hemel toe, kan hy alles bymekaar maak as hy eendag in die hemel kom. Die verwysing na die skatte is natuurlik simbolies. Ons moet onthou dat die meeste mense aan wie die Nuwe Testament geskryf is, brandarm was. 80% van die mense het onder die broodlyn geleef. Om skatte te hê was vir hulle maar net iets om van te droom. Hulle het ook geweet wat dit beteken om te werk vir geld. Om skatte bymekaar te maak het baie werk en toewyding gevra. Die beeld om skatte in die hemel bymekaar te maak beteken dus dat ons al ons energie moet gebruik om vir God te werk. God sal ons dan beloon (met hemelse ‘skatte’).

Omdat die beeld figuurlik bedoel is, beteken dit alles behalwe dat jy nie op aarde geld en versekering vir jou oudag bymekaar mag maak nie. As jy dit nie doen nie, is jy in die moeilikheid. Dit gaan egter meer oor jou gesindheid. Dit moet nie aan die aardse vasgroei nie, maar altyd die hemelse perspektief bly behou.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Opgevaar na die Hemel

Opgevaar na die Hemel – Marius Nel

ʼn Leser vra:

Kan julle asb. vir my die name gee van die persone wat opgevaar het na die hemel (wat nie gesterf het nie). Ek is nie seker hoeveel daar was nie.

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Volgens die Bybel was dit Henog en Elia. Volgens buite-Bybelse bronne het Moses en Jesaja ook opgevaar na die hemel. Hierdie kry ons egter nie so in die Bybel nie.

Outeur: Dr Marius Nel




Is die hemel ʼn werklikheid?

Is die hemel ʼn werklikheid? – Jan van der Watt

ʼn Leser vra:

Is die hemel ‘n werklikheid?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt  antwoord:

Hierdie is ʼn kort maar kragtige vraag. Die antwoord is ook kort en kragtig: daar is werklik ʼn hemel. Die vraag is egter wat ons met ‘hemel’ bedoel. Kom ons kyk na drie gedeeltes wat oor die hemel handel.

a)      Lees 1 Tessalonisense 4:15-17. Daar gaan dit oor mense wat in die grafte sal wees as Jesus weer kom. Hulle sal eers opgewek word en dan sal al die gelowiges saam na die hemel toe opvaar: daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees.’ Hier word die hemel as bo voorgestel – ons sal daarheen opvaar en dan die belangrike punt: ons sal by die Here wees.

b)      Lees 2 Petrus 3:10-13. Daar word vertel dat die ou aarde en hemel met vuur sal verbrand en dat daar ‘n nuwe hemel en aarde sal wees. Ons sal dus nie hemel toe gaan nie, maar op die nuwe aarde bly en daar naby die Here leef (sy wil sal daar heers). Dit is dus ‘n ander beeld as by 1 Tessalonisense waar die mense die hemel in is.

c)       Lees Openbaring 21:1-8. Daar kry ons ‘n soortgelyke beeld as by Petrus, naamlik dat die ou aarde verbygaan en die nuwe hemel en aarde sal kom. Mense sal op die aarde bly. Daar word egter meer gesê: ‘Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.’ Dit beteken dat God die hemel sal ‘verlaat’ en op die aarde sal kom bly. Die nuwe Jerusalem gaan op die aarde wees. Die belangrike punt hier is ook dat God by hulle gaan wees.

Wat moet ons hieruit aflei? Wel, dat daar nie ‘n duidelike beeld in die Bybel is oor hoe die hemel gaan lyk nie. Al drie beelde verskil. Tog stem al drie beelde saam oor een ding – God gaan by sy mense wees en hulle gaan by God wees. Dit is die werklike essensie van die hemel: ons gaan by God wees. Hoe dit presies gaan wees, weet niemand nou nog nie. Dit is ‘n verrassing wat vir ons wag. Intussen kan ons maar net drome droom of voorstelle uitdink van hoe dit gaan wees. As ons ons beste drome vat, het ons egter nog maar net ‘n fraksie van hoe dit werklik gaan wees. Daarvoor gaan God sorg.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Is daar vlakke in die hemel?

Is daar vlakke in die hemel? – Jan van der Watt

Esther vra:

Is daar verskillende vlakke in die hemel waar die afgestorwenes hulle bevind?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Niemand was nog regtig in die ‘hemel’ nie. (Kyk by die ander artikels wat regtig met die ‘hemel’ bedoel word). Daarom kan ons ons nie voorstel hoe dit daar lyk nie. Openbaring 21 gebruik ‘n beeld van ‘n wonderlike stad van edelgesteentes en goud waar alles in oorvloed bestaan. Dit is die plek waar God self is en dit is die wonderlikste van alles.

Nou is die vraag of daar verskillende ‘vlakke’ in die hemel is waar die dooies hulle bevind? Daar was in daardie tyd die ideë dat daar sewe hemele is (Paulus praat van 3 hemele – 2 Korintiërs 12:2).  Die ideë wat daar agter lê kan ‘n mens vergelyk met ‘n groot paleis. Daar is die troonkamer (Openbaring 4) waar die Koning sy gaste ontvang, maar hoe dieper ‘n mens in die paleis ingaan hoe meer ‘privaat’ of heilig raak dit. As ‘n mens dus in die ‘sewende hemel’ kom, is jy in die heel heiligste deel.

Dit gesê, moet ‘n mens dadelik erken dat die Nuwe Testament glad nie die gedagte ken dat mense wat dood is, hulle op ‘verskillende vlakke’ bevind nie. Die Nuwe Testament sê liewer dat God al sy kinders dieselfde hanteer. Hy maak nie onderskeid nie. As jy ‘n kind van God is, is jy ‘n kind van God. Jy is nie meer of minder kind van God as ander nie. Daarom sal daar nie verskillende vlakke wees nie. (Waar die dooies self is as hulle doodgaan, word in ‘n ander artikel behandel – kyk asb daar).

Outeur: Prof Jan van der Watt