Pornografie

Pornografie – Francois Malan

Yvette vra:

Wil net graag weet waar in die Bybel staan die woord pornografie? Ek weet dis verkeerd en doen nie sulke dinge nie. Dit is vir my seun wat vir ‘n vriend van hom wil wys hy’s besig met sonde en nou wil hy weet waar dit staan!!

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die woord pornografie staan nie in die Bybel nie, maar die saak word dwarsdeur die Bybel aangespreek.

Pornografie kom van die Grieks pornos ‘n hoer, ‘n seksueel onsedelike persoon, en grafein om te skryf. Dit is ‘n uitbeelding in skrif en deur die film, ens. van die seksuele op obsene/onwelvoeglike wyse, om te prikkel Dit beteken gewoonlik om die hele liggaam of dele van ‘n man of vrou se liggaam te ontbloot wat ander mense seksueel kan prikkel (porne vroulike prostituut; pornos manlike prostituut;  porneia seksuele onsedelikheid, hoerery, ontug; vgl. bv. ‘n paar van die tekse waar die woord porne, pornos,of porneia voorkom: Num 25:1; Deutr.23:17; Spreuke 6:26; 23:27; 29:3; Jeremia 3:3; Eseg.16:33; Luk 15:30; 1 Kor 5:9-11; 6:15,16; Efesiërs 5:5; Hebr 13:4; Judas 7).

Genesis 2:24,25 sê ‘n man sal sy pa en ma verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een word (letterlik: ‘een vlees wees’) wat die seksuele omgang insluit as die bevestiging van hulle lewenseenheid. Hulle twee, Adam en Eva, was kaal, maar hulle was nie skaam nie. Dit is God se doel met die seksuele lewe van man en vrou om in die huwelik ook liggaamlik een te wees.

Genesis 3:7 vertel reeds hoe die mense, nadat hulle ongehoorsaam was aan die Here en in sonde verval het, vir die eerste keer besef het hulle is kaal en probeer het om hulle naaktheid te bedek. Nadat die Here aan die mense hulle straf opgelê het, het Hy uit sy groot genade vir hulle velklere gemaak, en hulle dit aangetrek (Gen 3:21).

Maar in die nageslag van Kaïn was Lameg reeds nie tevrede met een vrou nie, en het homself ook aan ‘n tweede vrou ontbloot (Gen.4:19) en sy suster Naäma (lieflike vriendelike) was volgens haar naam waarskynlik ‘n prostituut wat haar aan mans ontbloot het (Gen4:22).

Reeds in Gen. 6:5,6 was die Here bedroef dat Hy die mense gemaak het, want hulle verdorwenheid was so groot en dat hulle hulle lewenslank net slegte dinge bedink het, en die Here almal behalwe Noag en sy gesin uitgewis het.

Nadat die Here Israel van hulle slaweskap van byna 400 jaar verlos het uit Egipte, het hulle, toe Moses lank by die Here op die berg Sinai gebly het om die wet te ontvang, ‘n goue bulkalf gemaak as hulle god, en wellustig fees gevier om soos bulle en koeie kaal met mekaar te verkeer (Gen.32:3-6; vgl. 1 Korintiërs 10:7; Numeri 25:1-15 waar hulle net voor hulle Kanaän ingaan met die Moabitiese meisies in die Baältempel gemeenskap gehad het, 1 Kor 10:8 se waarskuwing teen daardie onsedelikheid onder Christene).

Daarna het Israel vir 40 jaar in die woestyn geswerf en het hulle kinders Kanaän ingeval. Teen daardie tyd het die ongeregtigheid van die Amoriete, die verskillende stamme van Kanaän, hulle volle maat van sonde bereik en moes Israel hulle uitroei (Gen 15:16). Die Kanaäniete het die bulgod Baäl gedien en die vroulike Astarte of Asjera, en onder elke groen boom en op die heuwels en berge hulle kaal uitgetrek en soos bulle en koeie gemeenskap gehad om vrugbaarheid te kry.

Israel het dieselfde pad gevolg en die Here verlaat om soos die Kanaäniete seksueel te lewe. In Jesaja 57 sê die Here: Israel is gebore uit owerspel en hoerery (v3), hulle dien die afgode met hulle wellus onder die groot bome, onder elke groen boom (v5), hulle verkies die afgodsbeelde in die laagte (v6), op die hoë berge het hulle ‘n plek ingerig vir onsedelikheid en daarheen opgeklim om offers te bring (v7), agter hulle deur en aan hulle kosyne het hulle beeldjies opgehang. In jou ontrou aan My, het jy jou kaal uitgetrek, op jou bed geklim en vir jou minnaars plek gemaak. Jy het jou verbind aan dié saam met wie jy graag geslaap het. Jy het hulle naaktheid geniet (v8; Astartebeeldjies was van vroue met ontblote borste, en Baälbulle met vergrote geslagsdele), jou wellus het jou aanhou oorweldig, daarom het jy nie opgehou nie (v10).

Om vir al die sondes van die wêreld versoening te doen, ook vir al die seksuele oortredings, het God self gekom, mens geword, en sy eie volk, die Jode, het Hom laat kruisig. Die Romeinse soldate wat Jesus moes kruisig het Hom kaal uitgetrek en aan die kruis gespyker (Johannes 19:23-24).

En nou moet ons lewe as mense wat deur Jesus se offer gereinig is van ons sonde. Jesus het sy Heilige Gees gestuur om in ons te woon en ons te leer om soos kinders van God te lewe (Romeine 8:3-17). Jesus het reeds gesê: elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg (Matteus 5:28). Paulus sê: Dir is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van die onsedelikheid. Elkeen moet weet om sy vrou met heiligheid en eerbaarheid te verkry en saam te lewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie (1 Tessalonisense 4:3-5). In 1 Korintiërs 6:19-20 sê hy: Of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: Julle is gekoop, en die prys is betaal (deur Christus aan die kruis). Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.

God het reeds Adam en Eva se liggame bedek met klere van vel. Maar wanneer mans en vroue weer begin om so veel as moontlik van hulle liggame te ontbloot, moet hulle weet dit prikkel mekaar en lei tot seksuele begeertes wat weglei van die Here en sy pad af. Paulus sê in Filippense 4:8: alles wat waar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of watter lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. Maar as ons begin pornografiese boeke en tydskrifte met kaal mans en meisies begin lees, en pornografiese TV programme en foto’s ook op rekenaars en selfone begin kyk, beweeg ons lynreg weg van die Here en die beste pad vir ons lewe.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Pornografie – Vraag

Pornografie – Vraag – Jan van der Watt

Chris vra:

Ek wil weet wat behels pornografie. As n mens op ‘n  dateline gesels en kaal fotos word rondgestuur is dit pornografie of as n mens seks praat(dirty talk) kan dit ook beskou word as  pornografie?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Wanneer is iets Pornografie?

Pornografie het te doen met die misbruik van seks op sekere wyses. Om die vraag te beantwoord moet ons dus eers so bietjie kyk wat die Bybel sê oor seksualiteit.

a) Opvattings oor seksualiteit is sterk sosiaal en kultureel bepaald. Mense in Europa trek anders aan as mense in die middel van Afrika of Suid-Amerika wat tradisioneel nog sonder bostukke of net met deurtrekkers rondloop. Toe ek 50 jaar gelede die eerste maal op die strand in Durban geloop het, het al die vroue swemklere gedra wat ‘n mens laat dink het aan mummies wat toegedraai is. Vandag lyk dit soms of daar materiaal skaarste is. In al die gevalle word daar gevoel dat daar nie noodwendig verkeerd opgetree word nie. So skuif en verskil opvattings oor wat seksueel aanvaarbaar is en wat nie. Daarom sal sommige mense anders oordeel as ander oor waar die grense lê en wat toelaatbaar is en wat nie.

b)  Kom ‘n mens nader aan die Bybel, dan kry ‘n mens ‘n behoudende standpunt. In die Ou Testament word seksualiteit primêr gesien as iets wat vir voortplanting bedoel is. Die man is gewoonlik as die draer van die karaktertrekke van die familie of stam gesien. By wyse van voorbeeld: die vrou was soos die saailand waarin die plantjie geplant word en groei. Sy dra nie tot die karakter van die plantjie by nie, die man wel. As ‘n stam of familie egter suiwer wil bly, mag daar nie vreemde plantjies in die saailand geplant word nie, want dan verander die aard en karakter van die stam en dit wil niemand hê nie. Daarom was daar baie spesifieke reëls dat vreemde mans nie met die vroue van ‘n stam moes meng nie. Dieselfde het gegeld vir die gesin. ‘n Ander man mag nie met ‘n getroude vrou saam wees nie, want dit stel die karakter van die hele gesin in gevaar en tas so die eer van die huweliksmaat ook aan.

c) Die Christendom staan in die tradisie van die Ou Testament en die Jodendom waar die beoefening van seks volgens streng riglyne beperk is. Natuurlik het die Christene in plekke soos Korinte of in Turkye in die gemeentes van Petrus met die heidene in dieselfde dorpe saamgeleef. Die heidene het in die meeste gevalle seks heeltemal anders gesien. Onder hulle was daar ‘n groot groep ‘vrymense’, met ander woorde, nie slawe nie. Ten einde hulle vryheid te bewys het hulle gesê dat jy jou deur niks aan bande moes laat lê nie. Daarom het hulle wilde partytjies gehou  waar hulle hulle vryheid ten volle beoefen het, beide ten opsigte van drank en seks (gewoonlik met vroue wat nie getroud was nie). Dit is ook meestal waarna die woord ‘porneia’ in die Nuwe Testament verwys. Dan was daar ook sogenaamde tempelprostitute wat vir die gode gewerk het en al hulle geld vir die tempel gegee het. Om seks met hulle te hê is gesien as om die godin aan wie die prostituut verbonde was te eer.

Die Christen het dus tussen in sulke losbandinge situasies geleef. Natuurlik het die vry opvattings van die heidene nie met hulle konserwatiewe Joodse opvattings gestrook  nie. Hulle het eenvoudig besluit om nie daaraan mee te doen nie. Dit is duidelik uit byvoorbeeld 1 Petrus 4:1-6 – lees die volgende: ‘3In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg- en drinkpartye en afskuwelike afgodery. 4Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle’. Kyk net: die heidene vind dit vreemd dat die gelowiges nie meer aan hulle wilde partytjie deelneem nie, want vir hulle was dit normaal! En nou die belangrike punt: die kuise opvattings oor seks het dus die Christene van die losbandige heidene onderskei. Dit het langsamerhand die manier geword waarop jy die Christene sigbaar van die heidene kon onderskei. Die Christene was kuis en was baie behoudend as dit by seks kom, soos die Ou Testament ook geleer het. In die vroeë geskiedenis van die Kerk, met die kerkvaders, het die konserwatiewe opvattings oor seks deel van die kerk se opvattings gebly en in baie gevalle is daar geglo dat seks die basis van alle sonde is. Van die kerkvaders het dan ook gedink dat mens glad nie seks moet beoefen nie.

Die konserwatiewe siening is vandag nog deel van ons Christelike en Westerse samelewing.

d) Die argument het egter met die loop van tyd verder ontwikkel. Sake soos die respek vir ander persone, die persoonlike eer van mense, en nog ander sake het deel van die gesprek geword. Om iemand anders se liggaam sonder toestemming te neem het ’n taboe in ons kulturele opset gebly. Tog is die diskussie heftig. Doen mens iemand skade aan deur na sy of haar foto te kyk, sou  sommige vra, veral in die lig van die gedagte dat sommige argumente teen pornografie berus op die argument dat dit die model in die foto oneer aandoen. Dit maak die debat moeilik – daar is nooit net een sy van die saak in die debat nie.

e) Dit bring ons nou by pornografie as sodanig. In lande wat post-Christelik is (soos in dele van Europa), word die verkoop van naakte foto’s en selfs prostitusie toegelaat, omdat hulle sê dat as twee volwassenes toestem om dit te doen, al is dit teen betaling, kan dit nie gekeer word nie, omdat die vryheid van keuse nie so ingeperk kan word nie. Dit geld ook vir Suid-Afrika wat sulke foto’s toelaat op grond van die vryheid van die individu. Kinders word egter steeds beskerm. In Nederland, waar ek bly, kry jy pornografiese TV kanale as deel van jou televisiepakket wat jy koop. Dit is eenvoudig deel daarvan soos die nuuskanale of flieks of sport deel van die pakket is. Daar word geargumenteer dat dit deel van mens se persoonlike vryheid is om ook sulke kanale tot jou beskikking te hê as jy graag daarna wil kyk. Tog moet ek weer beklemtoon dat die debat daaroor steeds voortgaan. Binne so gemeenskap is daar heelwat diskussies oor die negatiewe effekte wat so ‘n vrye situasie op mense kan hê. Daarop gaan ek nie nou in nie.

Die meeste Christene, spesifiek ook in Suid-Afrika, sou egter die uitlokkende foto’s van naakte mense dadelik afwys, vanweë die feit dat kuisheid oor die eeue as ‘n belangrike teken vir goeie Christenskap gesien is. Tog wissel die siening ook – soos hierbo vermeld, 50 jaar gelede sou mense ‘n hartaanval gekry het as iemand met ‘n doodgewone hedendaagse swembroek op die strand loop. Opvattings skuif ook dus maar. Dit maak ons bewus daarvan dat daar nie noodwendig vaste grense is nie. Dit is in ‘n groot mate ‘n kwessie van die kultuur en wat die mense met wie jy jou assosieer daaroor dink. Veral gaan dit oor waarmee jy jouself voor die Here gemaklik voel. Dit gaan inderdaad oor wat jou motiewe is met wat jy doen.

Die vraag is nou, wat is pornografie. Vanuit ‘n Christelike hoek word dit negatief beoordeel omdat dit jou stimuleer om jou seksuele drange verkeerd te gebruik. (Ek gaan nie hier in op al die argumente dat die pornografie modelle uitgebuit word, of dat dit die vrou of man bloot ‘n objek van seks maak en so verdinglik nie. Dit is alles geldige argumente). Naakte liggame is nie noodwendig verkeerd nie – kyk maar na al die skilderye met naakte vroue wat as meesterwerke beskou word. In die grootste museums kry mens tale beelde van naakte vroue. Dit is nie al waaroor dit gaan nie. Dit gaan oor jouself en wat in jou gedagtes aangaan. Waarvoor kyk jy die foto’s, video’s of wat ook al? Wat wil jy daarmee maak? Watter gedagtes kom by jou op as jy dit kyk? Voel jy of jy ingetrek word in ‘n spiraal waaruit jy nie kan kom nie, omdat jy byna verslaaf voel.

As die antwoord op die vrae jou ongemaklik laat, as jy skaam is dat jou familie ongemaklik gaan voel, as jy moeiliker met God praat, dan moet die rooi ligte vir jou aangaan. Daar is nie ‘n vaste reël wat sê pornografie begin byvoorbeeld as die vrou nie meer ‘n top aanhet nie. Dit kan vir iemand vroeër of later al begin. Dit sou egter nie ver van die kol wees om te sê dat as jy ‘n Christen is, jy liewer maar nie te ver moet eksperimenteer nie. ‘n Kenmerk van Christene is steeds dat hulle kuis probeer leef en dit sluit in om nie die pad te loop waar naakte foto’s van die teenoorgestelde geslag hulle in die versoeking begin lei nie. Vermy dit liewer.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




ʼn Christen en pornografie

ʼn Christen en pornografie – Dirk Venter

ʼn Leser vra die volgende vraag: “Waar staan Christenskap en pornografiese materiaal met mekaar? Is ek as Christen verkeerd om daarna te kyk?”

Antwoord:

Ds. Dirk Venter antwoord:

Daar hoef by ons geen twyfel te bestaan daaroor dat God ʼn afkeur het aan pornografie nie. Die woord “pornografie” is afgelei vanuit twee Griekse woorde: “porneia”, wat verband hou met seksuele immoraliteit, en “grafo” wat te doen het met iets wat op skrif gestel word. Gewoonlik gaan “grafo” oor iets wat geskryf is, maar dit kan ook na sketse of prente verwys. Die woord porneia, en ander Griekse woorde wat daarvan afgelei is of daarmee verband hou, word meer as veertig keer in die Nuwe Testament gebruik (om nie eers die ander moontlike Griekse sinonieme daarvoor te noem nie), en telkens baie sterk afgekeur. Trouens, “porneia” (seksuele immoraliteit) kom dikwels voor in die lyste van algemene sondes wat vroeër deel van hul lewens was, maar waarmee die Christene nou gebreek het. Hoewel pornografie nie in sy moderne vorme in die antieke tyd voorgekom het nie, kan ons dit met reg beskou as maar net ʼn hedendaagse vertakking van ʼn baie ou lyn van die mens se sondige natuur – dié van seksuele immoraliteit.  Daarom is “pornografie” as beskrywing eintlik baie gepas: seksuele immoraliteit [porneia] op skrif [grafo] (en deesdae natuurlik ook op die skerm).

 

Om maar net enkele voorbeelde uit te lig van God se afkeur aan porneia:

Julle moet niks met seksuele losbandigheid [porneia] te doen hê nie. Elke ander sonde wat ‘n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam“. (1 Korintiërs 6:18)

Soos dit gelowiges betaam, moet daar van ontug [porneia], onsedelikheid in enige vorm, of gierigheid onder julle selfs geen sprake wees nie“. (Efesiërs 5:3)

Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid [porneia]. Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie. Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys. God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe. Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net ‘n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het.” (1 Tessalonisense 4:3-8)

 

ʼn Mens sou seker kon redeneer dat die meeste van hierdie verwysings gaan oor seksuele dade wat saam met ʼn ander persoon gedoen word, terwyl mans meestal alleen na pornografie kyk. Iemand sou selfs kon vra “as dit niks meer is as kyk nie, is dit seker nie so erg nie?” Sulke selfregverdigende redenasies mis egter die punt. Jesus sê duidelik in Matteus 5:28 “Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.” Is dit nie presies waaroor pornografie gaan nie?

God het die seksuele gemaak en vir die mens gegee as iets moois, heiligs, eerbaars, iets wat goed is en geniet kan word wanneer dit op die regte tyd en in die regte ruimte geskied, volgens die plan wat God van die begin af daarmee gehad het.  Daardie plan was dat dit ʼn uitdrukking sal wees van die intimiteit wat bestaan tussen ʼn man en vrou wat ʼn ewige verbintenis (“commitment”) met mekaar gesluit het. Waar die seksuele in hierdie ruimte geniet word, en huweliksmaats mekaar dien (motief van diens), ook met hulle liggame, is dit lewe-gewend en kosbaar. Waar iemand die seksuele egter gebruik as ʼn weg tot self-bevrediging (motief van selfsug), word God se doel daarmee heeltemal gemis. Dan word iets wat mooi is eintlik misbruik, en loop dit uit op allerlei hartseer vir die een wat daardeur verstrik word én vir die mense die heel naaste aan hom.

Wanneer God sy kinders dus waarsku om van alle vorme van seksuele immoraliteit af weg te bly, is dit nie om hulle ʼn wet op te lê wat swaar is om te hou, of om hul pret te bederf nie. Dit is wel omdat Hy weet watter vernietigende gevolge dit het wanneer hierdie diep dimensie van menswees misbruik word, maar ook hoe pragtig dit is wanneer die seksuele op die regte tyd en in die gepaste ruimte (die huwelik) geniet word! God wil vir jou die beste hê. Moet dus nie toelaat dat jy gevang word in die strik van ʼn bederfde, minderwaardige namaaksel nie.

 

Outeur: Ds Dirk Venter