1

Preek tydig en ontydig

There are two sources of unhappiness in life. One is not getting what you want; the other is getting it.” – George Bernard Shaw

Preek tydig en ontydig

Verkondig die woord, hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee (2 Timoteus 4:2).

In die moderne kultuur dink ons soos verbruikers. Ons soek spesiale aanbiedings. Ons soek goeie produkte so goedkoop as moontlik. Ons verwag om as konings behandel te word – die kliënt is immers koning! Ongelukkig kry ons hierdie gesindheid ook soms in die kerk. Ons wil gemaklik voel. Die musiek moet aan ons voorkeure voldoen; die bediening moet aan ons behoeftes voldoen. Die kerk moet aan ons die beste waarde vir ons insette gee.

 

Hierdie is niks nie. Sommige mense in die gemeente in Efese het dieselfde gesindheid gehad. Daar sal ‘n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor (4:3 – 4). Maar Paulus waarsku Timoteus in 4:2. Timoteus moet vashou aan die regte leer en moet die woord te alle tye en onder alle omstandighede  verkondig.

Paulus is ernstig as hy met Timoteus praat. Hy roep God en Christus Jesus in as getuies (4:1). Hy plaas sy woorde in die konteks van God se koninkryk en Jesus Christus se terugkeer. Timoteus se hooftaak  is om die woord te verkondig. Dit word onderverdeel in ander take: weerlê, bestraf, bemoedig, deur met alle geduld onderrig te gee.

Dit alles moet baie versigtig gedoen word. Om ander in die Skrif te onderrig, is ‘n ernstige verantwoordelikheid. Dit vereis geduld en dus verhoudings wat vas staan. Dit moet ook aanhoudend gedoen word – tydig en ontydig en nie net wanneer dit ons pas nie. Dit sal nie maklik wees nie: Maar bly in alle omstandighede nugter, verdra lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie, voer al die pligte van jou bediening uit (4:5). Wees gehoorsaam en voer jou roeping uit.




Preek asof jou geloof daarvan afhang

“Prayer is an earnest and familiar talking with God, to whom we declare our miseries, whose support and help we implore and desire in our adversities, and whom we laud and praise for our benefits received.” – John Knox

Preek asof jou geloof daarvan afhang

Time Magazine (25 Maart 2013) het ‘n reeks artikels oor tien groot idees gehad. Een daarvan was Preach like your Faith Depends on it. Hulle wys daarop dat meer en meer mense – veral jongmense – die kerk verlaat. Die Christelike geloof het sy oorheersing in die kultuur verloor. Hoe reageer die kerk hierop?

 

In plaas van die evangelieboodskap te versag om dit meer bemarkbaar te maak vir mense wat toenemend skepties is oor instellings, lê kerke toenemend klem op Jesus se Groot Opdrag (Matteus 28). Die basiese dinamika van die vroeë kerk word weer ontdek. Die passie om die Groot Opdrag uit te leef en die wêreld te bekeer het verlore gegaan, want die kultuur wat oorwegend Christelik was, het die kerk se werk vir hom gedoen.

Vandag is dit nie meer die geval nie – die kultuur is of teen die Christelike geloof of neutraal. Nou moet die kerk die evangelie by elke moontlike geleentheid verkondig en radikaal uitleef as hy enigsins wil groei. Ywer vir die verkondiging van die evangelie is nodig in vandag se wêreld. Die artikel eindig met die vraag: Sal die kerk reageer op hierdie uitdaging? Hulle eindig met ‘n aanhaling van G. K. Chesterton: The Christian ideal has not been tried and found wanting; it has been found difficult and left untried.

Ons het die evangelieboodskap vir die mense probeer aantreklik maak. In die proses het lidmate die kerk verlaat. Nou gaan ons terug na die vroeë kerk in Handelinge. Hierdie kerk het ook in ‘n vyandige kultuur geleef, maar deur by elke moontlike geleentheid te getuig en sy ywer vir evangelisasie het die kerk dramaties gegroei. Is dit nie die antwoord nie?




Was 1 Petrus ‘n brief of ‘n preek, en wat was die outeur se doel daarmee?

Was 1 Petrus ‘n brief of ‘n preek, en wat was die outeur se doel daarmee?

Sommige navorsers meen dat 1 Petrus miskien eers as ‘n preek geskryf is en later in ‘n briefvorm gegiet is. Daar word veral voorgestel dat dit miskien ‘n soort dooppreek kon wees. Dit is egter heel onwaarskynlik. Dit word algemeen aanvaar dat 1 Petrus ‘n oorspronklike brief is. Die hoofdoel daarvan was om gelowiges in Klein-Asië te bemoedig terwyl hulle deur die ongelowiges vervolg is, en om hulle op te roep tot onberispelike gedrag ten midde van hul omstandighede

Genre / vorm

Die doel van 1 Petrus hang in baie opsigte af van die slotsom waartoe ‘n mens kom ten opsigte van die genre / vorm van die geskrif.  So beskou sommige navorsers die geskrif as oorspronklik ‘n dooppreek, ‘n preek vir onlangs gedooptes of ‘n uitgewerkte doopliturgie (erediens).  Hoewel die tema van die doop wel in die geskrif voorkom (3:21), en daar tydens die skryf daarvan moontlik gebruik gemaak is van Christelike onderrig- (didaktiese) en liturgiese materiaal, is dit telkens aangewend om die groter doel van die geskrif te dien, soos wat hieronder beskryf word.

Die voorstelle dat 1 Petrus enige iets anders as ‘n ware brief is, is op baie min getuienis binne die teks self gebasseer, en bly gevolglik onoortuigend.  Daarteenoor is daar regdeur die geskrif elemente van ‘n ware brief teenwoordig, en is dit gevolglik die meeste navorsers se oortuiging dat 1 Petrus inderdaad ‘n oorspronklike brief is.

Hierby kan ook genoem word dat dit geskryf is as ‘n omsendbrief.  Die draer van die brief sou waarskynlik per boot arriveer vanaf Rome (waarvandaan die brief gestuur is) in ‘n stad in die Pontus-distrik, vandaar suidelik beweeg deur Galasië na Kapadosië, vandaar weswaarts na die provinsie Asië en laastens weer noordwaarts na Bitinië, vanwaar hy per boot kon terugreis na Rome (vgl. 1 Pet. 1:1).

Doel

Die outeur verwoord self sy doel met die brief soos volg: “Ek het geskrywe om julle te bemoedig en julle te verseker dat hierdie dinge die ware genade van God is.  Staan hierin vas!”  (1 Pet. 5:12b).  Dit is dan ook presies wat hy doen regdeur die brief.  Hy bemoedig die geadresseerdes op grond van die sekerhede van hulle geloof en hul nuwe identiteit in Christus.  Verder moedig hy hulle ook aan om (op grond van hul identiteit as bevoorregtes van God) standvastig te bly en onberispelik op te tree, ten midde van die diskriminasie en vervolging wat hulle beleef het, komende van die ongelowiges in hul gemeenskappe en selfs in hul eie huisgesinne (vgl. 1 Pet. 3:1-2).

 

Skrywer: Ds Dirk Venter