Mense in die Bybel: Tomas

Mense in die Bybel: Tomas – Coen Slabber

Ons lees maar min van Tomas in die Bybel. In die drie sinoptiese evangelies kry ons net sy naam in die lys van twaalf dissipels/apostels (Matteus 10:3; Markus 3:18; Lukas 6:15 – ook in Handelinge 1:13). Dit is slegs in die Johannes evangelie wat ons meer van hom lees.

Tomas wat ook Didimus genoem is. Tomas is ‘n Aramese woord wat “tweeling” beteken; Didimus is die Griekse woord vir “tweeling.”

 

Jesus hoor dat Lasarus siek is. Na twee dae sê Jesus vir sy dissipels: Kom ons gaan terug na Judea toe (Johannes 11:7). Die dissipels probeer om Hom om te praat om dit nie te doen nie: Nou die dag wou die Jode U stenig, en gaan U weer daarheen? Jesus lig hulle in dat Lasarus dood is en dat Hy na Lasarus toe wou gaan. Tomas sê toe vir die ander dissipels: Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe – allermins die woorde van ‘n lafaard of iemand wat bedenkinge oor Jesus het. Maar Tomas, net soos die ander dissipels, het Jesus verlaat toe Hy gevange geneem is.

Jesus en sy dissipels sit aan die tafel. Dit was net voor die paasfees. Jesus gesels met sy dissipels en sê vir hulle dat Hy weggaan. Dan is dit Tomas wat vra: Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken? Dan antwoord Jesus hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe (Johannes 14:5 – 6).

Ons onthou egter vir Tomas veral omdat hy nie wou aanvaar dat Jesus opgestaan het, nadat die ander apostels hom daarvan vertel het nie: As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie – ongelowige Tomas (Johannes 20:25). Selfs sy tien vriende kon nie vir Tomas oortuig dat Jesus opgestaan het nie. Agt dae later verskyn Jesus weer aan sy dissipels – en Tomas is ook daar. Jesus nooi vir Tomas uit en vra hom om na sy hande te kyk, sy vinger in die spykermerke te steek en sy hand in sy sy. Of Tomas dit gedoen het, weet ons nie. Wat ons wel lees, is sy belydenis: My Here en my God. Daarna lees ons ook Jesus se teregwysing: Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo (Johannes 20:26 – 29).

 

thomas

Skildery: Die ongelowigheid van Tomas deur Caravaggio 

Tomas was ook een van die dissipels wat teenwoordig was toe Jesus aan ‘n paar van hulle by die See van Tiberias verskyn het (Johannes 21:2). Dit is wat ons met sekerheid van Tomas weet.

Daar is egter heelwat apokriewe en pseudepigrafiese (= vals geskrifte of geskrifte geskryf onder ‘n skuilnaam, veral Joodse geskrifte, wat toegeskryf word aan die patriarge, profete of apostels in die Bybel) materiaal oor Tomas. Daar is ook sekere geskiedkundige data  wat daarop dui dat van hierdie materiaal wel stukkies waarheid bevat. Daar is veral twee dokumente van belang:

(1) Die Evangelie van Tomas. Hierdie is ‘n gnostiese geskrif van ongeveer 140 nC. [Gnostisisme = Filosofiese en godsdienstige stelsel  van die 1ste tot die 6de eeu, wat geleer het dat kennis eerder as geloof die sleutel tot die saligheid is – HAT.] Hierdie geskrif is in 1945 by Nag Hammadi in Egipte gevind. Dit bevat 114 gesegdes van Jesus wat deur Tomas behou is. Prof Adrio König het ‘n artikel oor hierdie evangelie op die webblad geskryf.

(2) Die Handelinge van Tomas (die Acta Thomae). Hierdie is ook van gnostiese oorsprong en baie besonderhede is erg oordrewe. So word onder meer beweer dat Tomas die tweelingbroer van Jesus was. Dit word beweer dat die apostels die destydse wêreld in bedieningsgebiede verdeel het. Tomas word so verantwoordelik vir Indië. Hy het die evangelie aan die Jode in Kerala verkondig. (As gevolg van die vervolging van Jode en Christene het sommige Jode selfs so ver as Indië uitgewyk.)

Dat Tomas die evangelie in Indië verkondig het, word in beide die Ooste en die Weste aanvaar. Of hy wel so ver suid as Madras gereis het, kan nie bewys word nie. Volgens oorlewering is hy daar met spiese gemartel totdat hy gesterf het. Daar word beweer dat hy in Edessa begrawe is.  Aan die weskus van Indië is daar wel ‘n groepie Christene wat ‘n Siriese dialek in hulle liturgie gebruik. Of hierdie groepie se oorsprong na Tomas se bediening teruggevoer kan word, is onseker. As Tomas in Indië die evangelie verkondig het, was hy waarskynlik die enigste apostel wat die evangelie buite die Romeinse Ryk verkondig het.

Ons is geneig om Tomas in ‘n baie negatiewe lig te sien – die ongelowige Tomas. Tomas se twyfel het egter ‘n doel gehad – hy wou agter die waarheid kom. Daarom sy vraag aan Jesus: As ons nie weet waarheen U gaan nie, hoe kan ons die pad soontoe kry? Twyfel is nie altyd negatief nie, want dit laat ons weer dink oor wat ons glo. Dit mag egter nooit ‘n permanente gesindheid word nie. Jesus Christus verwerp nie eerlike twyfel nie.

Twyfel en ongeloof is twee heeltemal verskillende dinge. As ons twyfel, en alle gelowiges twyfel op een of ander stadium, moet ons doen wat Tomas gedoen het: ons moet ons twyfel na Jesus Christus neem en Hom toelaat om ons van die waarheid te oortuig.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




Die evangelie van Tomas

Die evangelie van Tomas – Jan van der Watt

Maarten vra:

Hoekom is die “Gospel of Thomas” uit die Bybel verwyder?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die Evangelie van Tomas was nooit deel van die kanon (Bybel) nie. Dit is dus nooit verwyder nie. Dit is later as die Boeke in die Bybel geskryf en boonop deur ‘n groep wat as afsplitsing deur die vroeë Christene gesien is.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Die Evangelie van Tomas

Die Evangelie van Tomas

Die Evangelie van Tomas is een van die bekende apokriewe Evangelies. Dit is nie regtig deur Tomas geskryf nie, maar ‘n hele ruk ná die Nuwe Testament deur iemand anders. Dit is nie ‘n Evangelie soos die vier Evangelies wat ons in die Nuwe Testament het nie, maar bestaan net uit ‘n lys goed wat Jesus sou gesê het. Hierdie evangelie begin só:

Wat hier volg, is die geheime uitsprake van die lewende Jesus. Didimus Judas Tomas het dit neergeskryf:

1. Jesus het gesê: “Almal wat die betekenis van hierdie woorde ontdek, sal nooit doodgaan nie.”

2. Jesus het gesê: “Almal wat soek, moet aanhou soek totdat hulle kry wat hulle soek. Wanneer hulle kry wat hulle soek, sal hulle ontsteld wees. Wanneer hulle ontsteld is, sal hulle verbaas wees, en hulle sal oor alles regeer.

3. Jesus het gesê: “Julle leiers sê dalk vir julle die Koninkryk is in die lug. Maar dan sal die voëls wat in die lug vlieg, voor julle in die Koninkryk ingaan! Of hulle sê dalk vir julle dit is in die see. Maar dan sal die visse voor julle in die Koninkryk ingaan! Nee, dit is nie waar nie! Die Koninkryk is binne julle en ook buite julle! As julle julleself ken, sal julle geken word, en julle sal besef julle is kinders van die lewende Vader. Maar as julle julleself nie ken nie, sal julle in armoede leef. Ja, júlle sal self die armoede wees.”

4. Jesus het gesê: “Mense wat al stokoud is, sal nie huiwer om ‘n kind van sewe dae te vra waar ‘n mens die ware lewe kry nie, en dan sal hulle dit kry, want baie wat eerste is, sal laaste wees en hulle sal één word.”

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie