Verhoudings teenoor reëls; ander se menings teenoor verhouding met God

Verhoudings teenoor reëls; ander se menings teenoor verhouding met God – Jan van der Watt

Izak du Plessis vra:

Ek lees verskeie stukke hier raak aangaande “kerk” en Sondag of Sabbat. My kwessie is egter die feit dat ek van mening is dat ons die punt mis. Jou teologiese agtergrond, denominale verwantskap of persoonlike ervarings, is soms die faktore wat jou dryf tot ‘n spesifieke oortuiging. Ons hang grotendeels oortuigings aan van ander mense en daardeur het ons nie ons eie unieke verhoudings met God nie. Bewyse hiervan is vrae soos die oor vryery, Sabbat of Sondag byeenkomste, Kerk toe gaan of huisgemeentes, selfs aspekte soos kleredrag. Ons is so geneig om mense van wette te oortuig dat verhoudings daardeur skade kry. Ons moet ophou om denominasies en teoloë se oortuigings te vra en ons moet konsentreer op die Een wat nou in my woonagtig is – die Heilige Gees, en daardeur vir ieder en elke skepsel van God hier op aarde die liefde demonstreer wat alle verstand te bowe gaan. Jammer as hierdie nie die forum is om aspekte soos hierdie genoem mag word nie, maar iemand kan my dalk reghelp daarmee. Die vraag moet egter bly – “Waarvan is ek oortuig deur die Gees van God wat in my woon?”

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die volgende twee punte kom in sy brief na vore en gaan aandag kry:

a)      Die belang van verhoudings bo reëls

b)      Die aanhang van ander se opinies wat hy dan teenoor die verhouding met God stel.

Izak is 100% reg wanneer hy sê dat die kern van Christenskap oor verhoudings gaan. In die eerste plek gaan dit oor ‘n liefdevolle God was sy verhouding met mense wil herstel. Dit is wat geloof doen: dit wil ons hand in die hand van God sit. Omtrent alle beskrywings wat gebruik word om die redding van mense mee uit te druk gaan oor die herstel van die verhouding tussen God en mens, bv. om regverdig te word, is om in die hof van al jou skuld vrygespreek te word, die skuld wat jou gekeer het om in God se teenwoordigheid te kom; of om losgekoop te word – jy word uit die mag van die sonde gekoop sodat jy vry saam met God kan wees; weergeboorte – jy word weer gebore om as kind van God te kan leef, ens. Met sondebelydenis laat God jou nie vir elke sonde betaal nie, maar vra dat jy jou verhouding met Hom sal herstel, met ander woorde, dat jy ʼn goeie kind van Hom sal bly deur die verkeerde dinge vaarwel toe te roep. Dit gaan oor verhoudings, en nie net teenoor God nie, maar ook teenoor jou naaste. Jy moet jou naaste so liefhê soos jy vir God het. Die belangrikste is om goeie verhoudings met jou naaste te bly handhaaf.

Oor Izak se tweede onderskeiding, naamlik tussen die opinies van ander en die verhouding met God, moet ietsie meer gesê word. In die Christendom kan kennis nie van verhoudings geskei word nie. In die Nuwe Testament word geestelike volwassenheid (wat volwasse verhoudings met God en jou naaste insluit) altyd aan die regte kennis gebind. Immers, jy moet gedurig besluite neem en dit moet die regte besluite wees. Hoe gaan jy die regte besluite neem as jy nie die kennis het om te weet wat reg of verkeerd is nie (m.a.w. wat God eintlik van jou verwag nie)? Verhoudings bou dus op die manier op kennis. Ons verhouding met God groei as ons weet hoe om Hom tevrede te stel en wat sy wil is. Kolossense 1:8-12 beklemtoon juis dat hoe meer ons weet hoe beter gaan ons leef en hoe meer ons van God se wil in die lewe leer ken hoe, meer gaan ons van Hom self leer ken. Die twee dinge hang saam.

Nou is die vraag of ons na die idees van ander moet luister. Eers moet gesê word dat ons eintlik net na God moet luister, maar God se wil kom (ook) deur ander na ons toe. In die eerste plek hoor ons God se woorde in die Woord van God. Ons kan dus maar gerus luister na wat mense daaroor sê. Maar dan moet ook gesê word dat ons met goeie onderskeiding moet luister. Ons moet nie sommer alles vir soetkoek opvreet nie (1 Johannes 4:1-2). Ons moet dus die opinies van ander weeg aan die Woord. Dit beteken dus dat ons nooit mag dink ons weet alles of dat net ons reg is nie. Waarheid word gewoonlik saam ontdek. Die saam sluit ook die miljoene Christene in wat voor ons die pad van Christenskap gestap het (ons noem dit die Christelike tradisie). Hulle het ook met die Woord en die vrae van die lewe geworstel. Ons kan baie by hulle leer, al was hulle partymaal heeltemal verkeerd. Dan kan ons ten minste uit hulle foute leer en nie dieselfde foute maak nie.

Ons moet ook versigtig wees om nie te vinnig te sê dat ons net op die Gees staatmaak nie. Natuurlik is die Gees die Een wat in ons werk en getuig, maar die Gees getuig nooit anders as wat Jesus getuig het nie. Sy boodskap sal altyd met die boodskap van Jesus ooreenstem. En as ons nie weet wat Jesus sê nie (die Woord leer nie), hoe kan ons weet of dit die Gees is wat met ons praat. In 1 Johannes 4:1-2 sê Johannes dat ons maklik ‘n valse gees (of selfs ons eie gees) met die ware Gees kan verwar. Die manier om die verwarring teen te werk en seker te maak dat dit die Gees is wat werk, is om dit met die boodskap van Jesus te vergelyk. Daarvoor het ons kennis nodig, asook die insig wat ander ons kan gee.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Hoe bou ek ‘n verhouding? (Deel 2)

Hoe bou ek ‘n verhouding? (Deel 2) – Wynand de Wet en Anna Steyn

Ons kyk na blywende gemeenskaplikhede as ʼn gesonder alternatief vir emosionele gemeenskaplikhede. In so ʼn verhouding moet ek eers bepaal wie ekself is. Daarna kan ek soek na blywende gemeenskaplikhede.

In deel 1 van ons bespreking oor die tipe dinge wat ek moet vind om n’ verhouding met n’ lewensmaat te bou is uitgewys dat “emosionele gemeenskaplikhede” n’ moontlike hulpmiddel kan wees, maar tog ook heelwat gevare inhou. In hierdie gedeelte word na “blywende gemeenskaplikhede” as n’ gesonder alternatief gekyk:

Blywende gemeenskaplikhede is die dinge wat uit my wortels kom. Die dinge wat ek geleer het daar waar ek groot geword het en wat vir my lekker is. Ek hou dalk van kleinsaf van fliek, stap, kampeer, teater, bergklim, rugby, kerklike bedrywighede, ensomeer.

By die bou van ʼn verhouding of die keuse van ʼn lewensmaat moet ek eerstens bepaal wie ekself is, wat is die dinge waarvan ek hou en daarvolgens moet ek ʼn maat kies. Dit is nie selfsugtig nie. Blywende gemeenskaplikhede het ook op sy beurt slagysters waarop ek bedag moet wees. Só moet ek ook versigtig wees om nie net die dinge te doen wat vir my meisie belangrik is soos, swem, draf en gym nie. Ek kan my dalk verbeel dat dit ook my belangstellings is en  ek is dalk vol ywer en entoesiasme om dit te doen, maar kort voor lank gaan al hierdie aktiwiteite nie meer vir my lekker wees nie, want dit is nie ek nie. Ek gaan nie meer só gelukkig wees nie en die verhouding gaan begin verflou en verwydering gaan intree. Ja, ek kan dalk met ʼn masker op daarmee volhou, maar met hoeveel spanning en konflik gaan só ʼn verhouding gepaard? Is dit wat ek regtig wil? Watter effek het só ʼn verhouding op my gesin en die mense om my?  Soms tree ons ook so vinnig in die huwelik dat wanneer hierdie gemeenskaplikhede begin verflou, is ons reeds getroud en raak ʼn egskeiding die oplossing, omdat ons nie eerlik met onsself en met mekaar was nie.

Verder kan ʼn meisie dalk só beïndruk wees met die mooi jong man se sangtalent of sy posisie in ʼn sportspan of al sy besittings dat sy haarself totaal en al daarin inleef en heeltemal van gemeenskaplikhede en haar eie behoeftes vergeet. ʼn Verhouding of huwelik wat op sulke gronde gebaseer word, gaan van my baie opofferings vra en my eie menswees en belangstellings gaan waarskynlik nooit ter sprake kom nie? Gaan ons dalk maar net “saam wees” in die kalklig en nie regtig “gelukkig getroud” wees nie. Wanneer ʼn jong man ʼn mooi geboude meisie kies, met ʼn bepaalde haarkleur, gewig, ensomeer is ek weer besig met eienskappe van verbygaande aard en met verloop van tyd het hierdie eienskappe verdwyn en het ons niks meer in gemeen nie en is “ons maar net saam.” Ek moet dus baie versigtig wees met my motief in die keuse van ʼn lewensmaat.

As ek, as jongmens, vir ʼn tydperk bietjie wil wegbreek van my gesin van herkoms na ʼn nagklub en bietjie iets anders wil ondervind, kan ek dalk daar ook ʼn lewensmaat ontmoet. Die vraag is of ek my op die lang duur met hierdie aktiwiteite kan vereenselwig as ek nie so groot geword het nie? Is dit werklik ek of gryp ek tydelik hierna om anders te wees, om aanvaarding te kry of ʼn “statement” te probeer maak? Die gevaar is dat ek in hierdie tydperk ʼn verhouding kan aangaan wat ek lewenslank kan berou, omdat ek op die lang duur uitvind dat dit nie is wat ek regtig wil nie.

Suksesvolle verhoudings kom, soos reeds genoem, tot stand deur ʼn lewensmaat te kies aan die hand van wie ekself is en waar ek my bevind. As ek daarvan hou om te fliek, kan dit dalk ook die plek wees waar ek ʼn lewensmaat gaan vind, want dit is dalk ons albei se belangstelling van kleinsaf. Dit sal ek weet as ons oor ʼn tydperk mekaar telkens by die fliek raakloop en ons  oor die verskillende flieks begin gesels en wat ons voor- en afkeure is en watter nuwe flieks eersdaags gaan vertoon. Só gaan ons oor ʼn tydperk agterkom watter ander gemeenskaplikhede ons  ook  het. As gelowige en op my geloofspad vind ek ook ʼn gelowige maat met wie ek ʼn klomp dinge ten opsigte van my geloof kan deel. Die gemeenskaplikhede bevorder ons kommunikasie, ons kennis van mekaar en ons begin om al meer dinge saam te doen en só word ons geesgenote en begin vir mekaar lief word en raak onafskeidbaar van mekaar.

Die samebindende faktore van ʼn suksesvolle verhouding is die blywende gemeenskaplikhede, dit wil sê die dinge wat uit my en my lewensmaat se wortels kom. Dit is ook belangrik dat ons na soveel as moontlik blywende gemeenskaplikhede moet kyk, want hoe meer sulke gemeenskaplikhede daar is, hoe meer het ons vir mekaar te sê en hoe meer saamdoen geleenthede is daar, wat ons verhouding al sterker maak. Ons moet ook aanvaar dat daar verskille sal wees, aangesien ons uit twee verskillende wêrelde kom. Ons moet ons verskille respekteer en met behulp van effektiewe, oop kommunikasie uitbalanseer. Ons moet altyd geleenthede effektief benut, waarvan die volgende ʼn voorbeeld is:

Meneer Y hou daarvan om te gaan rugby kyk, maar dit is nie sy vrou se belangstelling nie. Mevrou Y het ʼn vriendin, waarvan meneer Y nie hou nie. Só, as meneer Y gaan rugby kyk, kuier mevrou Y by haar vriendin. Vanaand gaan eet meneer en mevrou Y saam uit, waarvan albei hou en almal is gelukkig.

Dit is dus van uiterste belang dat ʼn verhouding oor ʼn lang genoeg periode moet strek om die nuwe besem wat só skoon vee werklik te beproef. Dikwels is die enigste gemeenskaplikheid van ʼn oorhaastige huwelik, die kinders wat daaruit gebore word. Sodra die kinders die huis verlaat, land die huwelik in die skeihof, want nou is die enigste gemeenskaplikheid nie meer daar nie en jou lewe het ver gevorder en jy is maar weer alleen, maar nou met baie vrae, bitterheid en verwyte.

Dus:  gebruik jou TYD!!!  Kyk net na hierdie interessante teksgedeelte in Deuteronomium 24:5,

“Wanneer ‘n man pas getroud is, mag hy nie saam met die leër optrek om te gaan oorlog maak nie. Hy mag ook nie met enige verpligting belas word nie. ‘n Jaar lank moet hy van alles vrygestel wees om sy vrou met wie hy getroud is, gelukkig te maak.”

Gegewe die destydse gebruike van “mans” en “vrouens” wat oor die algemeen sommer deur ouers aan mekaar toegeken is, is dit tog só opvallend dat hulle steeds besef het hoe belangrik dit is dat hierdie twee mense wat nou saamgevoeg is wel voldoende TYD moet hê om mekaar deeglik te leer ken, hul “gemeenskaplikhede” te ontdek en werklik “gelukkig” te wees!

Deesdae is dit uiteraard anders:  ek en jy het die VRYHEID VAN KEUSE!  Daarom is dit só belangrik om nou vóór die huwelik TYD te gebruik om mekaar reeds in hiérdie fase deeglik te leer ken, blywende gemeenskaplikhede te identifiseer en dus seker te maak dat ons mekaar wel sal aanvul en gelukkig maak!

 

Outeur: Dr Wynand de Wet en Dr Anna Steyn

 




Hoe bou ek ‘n verhouding? (Deel 1)

Hoe bou ek ‘n verhouding? (Deel 1) – Wynand de Wet en Anna Steyn

Verhoudings is deel van die mens se lewe. Die voorvereiste vir ʼn gelukkige verhouding is ʼn persoonlike verhouding met God. Om my te help om my lewensmaat te kies, kan die identifisering van sekere “gemeenskaplikhede” my help. Emosionele  gemeenskaplikhede mag egter problematies wees.

Lees lekker rustig deur Genesis 2:18-24 en kyk bietjie na dit wat jou opval.

“Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”  Die Here God het toe uit grond al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens toe gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou noem; en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou sy naam wees.  Die mens gee toe name vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere, maar vir homself het hy nie ‘n helper, ‘n gelyke, gekry nie.  Toe het die Here God ‘n diep slaap oor die mens laat kom, sodat hy vas geslaap het. Die Here God neem toe ‘n ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op,  en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot ‘n vrou en bring haar na die mens toe.  Toe sê die mens:  “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek.  Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word;  sy is uit die man geneem.”  Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.”

Om in ‘n verhouding te staan, is van die skepping af deel van die mens se lewe, in besonder dan ook die huweliksverhouding!  Hiermee saam is dit net so duidelik dat God van dag een af die Een is aan Wie hierdie verhouding toegeskryf moet word.  Die ander kant van hierdie munt is dus net so waar:  wie nie ‘n verhouding met God het nie, sal eenvoudig nie in staat wees om ‘n ware, gelukkige verhouding met ‘n huweliksmaat te kan bou nie…  Anders gestel:  miskien sou twee mense wat God nie dien nie wel in ‘n verhouding met mekaar kon tree en selfs vir lank kon “saam” wees – tog, daar is mos ‘n groot verskil tussen “gelukkig getroud” wees en bloot “bymekaar wees”!  Met dit in gedagte, dink so bietjie na oor wat ons in Prediker 4:9-12 vind:

“Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets.  As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie.  As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word?  Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. ‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie.”

Om egter dié een te vind wat God vir my bedoel het en met hierdie lewensmaat dan ‘n verhouding te bou, is nie aldag so eenvoudig nie!

Die identifisering van sekere “gemeenskaplikhede” wat ek en my potensiële lewensmaat in gemeen het is wel ‘n spesiale hulpmiddel om my in hierdie belangrike taak te help:

Emosionele gemeenskaplikhede

Hierdie tipe gemeenskaplikheid gaan gewoonlik gepaard met een of ander trauma  in ons lewe soos egskeiding, dood, ongelukkige gesinsomstandighede, bomdreigemente, natuurrampe, kapings  ensomeer. Dit klink vreemd, maar in die praktyk is dit dikwels die goed wat mense bymekaar uitbring. Die volgende is ‘n eenvoudige voorbeeld uit die daaglikse praktyk:

Twee mense staan in ‘n ry by Telkom om ‘n rekening te betaal. Hulle ken mekaar glad nie en het ook niks vir mekaar te sê nie. Ewe skielik word almal gevra om die gebou te verlaat as gevolg van ‘n bomdreigement. Ewe skielik bring laasgenoemde ‘n gemeenskaplikheid mee. Twee mense begin met mekaar praat, terwyl hulle buite staan en wag en hulle kom meer van mekaar te wete soos, waar hulle werk en woon en van hulle vorige ervarings. Na hierdie dag se gebeure erken hulle mekaar weer op straat en groet dalk in die verbygaan, maar met verloop van tyd lyk die een dalk vir die ander bekend, maar hulle groet mekaar nie eers meer nie. Hulle gemeenskaplikheid was emosioneel van aard en het met verloop van tyd vervaag en hulle het weer soos aanvanklik niks meer vir mekaar te sê nie.

Hierdie voorbeeld is dikwels die slagyster in vele mense se mislukte verhoudings of huwelikslewens, wat groot hartseer en teleurstelling meebring. Twee mense met traumatiese ervarings, soos egskeiding, dood of ongelukkige gesinsomstandighede, kom by mekaar uit. Hulle het soveel emosie om te deel en kan ure in mekaar se geselskap deurbring, want hulle kliek dan só goed en beleef dat hulle net die regte twee vir mekaar is en hulle tree in die huwelik. Die volgende is ‘n goeie praktiese voorbeeld:

Meneer X, ‘n geskeide man, het weer in die huwelik getree en hy is hierdie vrou se vyfde man en nou wil sy hom skei. My vraag as huweliksberader aan hom was: “Hoekom het jy met hierdie vrou getrou?” Meneer X se antwoord was: “Sy het my só deur my egskeiding gedra.”

JA, SY KON SY TAAL PRAAT EN HOM VERSTAAN.

Die probleem met hierdie emosionele gemeenskaplikhede is, dat ons dit met verloop van tyd verwerk. Een mens verwerk dit binne twee jaar, ‘n ander neem vyf jaar of iemand anders neem ses maande. Na hierdie verwerkingsproses kom ek agter dat ek eintlik nie meer iets in gemeen het met hierdie nuwe lewensmaat van my nie. Ons egskeidings is oor en uit en ons aanvanklike goeie kommunikasie bestaan nie meer nie. Nou begin ek weer perspektief kry op die lewe en ek kom allerlei verskille agter tussen my en my lewensmaat en die een probleem na die ander begin opduik. Ek voel of ek die mure wil uitklim van frustrasie, want die aanvanklike vele gemeenskaplikhede bestaan nie meer nie en “ons is nou maar net saam”. Wat het nou van ons “gelukkig getroud” geword? Moet dus nie huweliksverhoudings op emosionele gemeenskaplikhede bou nie. Hierdie riglyn geld  vir alle mense wat deur traumatiese gebeurtenisse gaan, só ook jong mense wat uit ongelukkige gesinsomstandighede kom. Ek moet dus nie toelaat dat my ongelukkige gesinsomstandighede my gemeenskaplikheid of motivering tot ‘n huwelik is nie. Ek moet eerder konsentreer op blywende gemeenskaplikhede, wat in die volgende deel meer breedvoerig bespreek sal word.

 

Outeur: Dr Wynand de Wet en Dr Anna Steyn