Voedsel wat God gemaak het – Francois Malan

Jan vra:

In 1 Tim 4: 1- 5 verwys Paulus na die afval van die laaste dae en in vers 3 sê hy: “wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges wat die waarheid ken”.
Watse voedsel word hier bedoel, asseblief?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die dwaalleer in die Griekssprekende gemeente in Efese waar Timoteus gewerk het en wat Paulus hier bestry, is ‘n skynvroomheid wat die ware geloof in God die Vader, Seun en Heilige Gees se skepping en verlossingswerk omkeer in ‘n verlossing wat jy self moet bewerk deur jou askese en ‘n minagting van die goeie skepping van God is. Daartoe het Joodse wette oor rein en onrein voedsel bygedra sowel as die Griekse opvatting dat die onsterflike gees van die mens verlos moet word uit sy sterflike liggaam waarin hy gevange sit. Die setel van die kwaad word dan gesien in die natuurlike en liggaamlike lewe waaruit jy jouself moet verlos, en nie in die mens se sondige aard wat vir homself lewe en nie vir God, wat hom louter uit sy genade en liefde red nie.

Die voedsel wat hier bedoel word, slaan eerstens op die Joodse onderskeiding van rein en onrein kosse soos in Levitikus 11 en Deutr 14:1-21 uitgespel is, maar raak ook die Griekse probleem van vleis wat aan die afgode geoffer is en in die slaghuis, waar daar ook ‘n altaar van die afgod was, verkoop is of in die feeste van die Grieke voorgesit is, soos Paulus dit in 1 Kor 8 en10 behandel het, vgl. ook Paulus se opmerkings in Romeine 14 oor die wat nog swak is in die geloof, en oor die waardeloosheid van die streng beheersing van die liggaam, in Kolossense 2:20-23.

Agter die dwaalleraars se eis dat jy sekere kosse moet vermy, staan hulle verlossingsleer wat op die verdienste van die mens berus, en wat die verlossing deur God se genade deur geloof in Christus alleen, verwerp. Daarom bestempel Paulus hierdie ‘verlossingsleer’ as ‘leringe van demone/duiwels.’

Daarteenoor het Paulus twee uitgebreide redes om die dwaalleraars se askese te verwerp, wat die dwaalleraars as nodig vir verlossing voorhou: Eerstens: God se skepping waarin Hy alles baie goed gemaak het (Genesis 1:33). Die kwaad lê nie in wat God geskape het nie, maar in wat die mens daarmee doen. So het Jesus in Markus 7:14-23 verduidelik dat alles wat by jou mond ingaan jou nie onrein kan maak nie, maar wat by jou mond uit jou hart uitkom. En het Hy alle kos rein verklaar (Mk 7:19). Vir Petrus sê die Here oor die eet van diere wat die Jode as onrein beskou: Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie (Handelinge 10:15). Die tweede rede is die gebed voor die ete waarin jy die goedheid van die kos uit die hand van die Here bevestig en jou geloof in God en sy voorsiening dankbaar bely.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Is alle voedsel rein?

Is alle voedsel rein? – Marius Nel

Martie vra:

In Levitikus 11 het God gesê daar is diere wat mens nie mag eet nie, wat onrein is, maar in Romeine 14:20 “Moenie ter wille van voedsel die werk van God afbreek nie. Alles is wel rein, maar dit is verkeerd vir ’n mens om te eet as dit tot aanstoot is.” Sê die Skrif alles is wel rein? Kan u my dalk dit verduidelik asb?

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

 

Martie

 

Die Ou-Testamentiese verbond wat God met die mens gesluit het, het ingesluit dat die mens sekere offers moet bring – offers om skuld voor God te versoen (skuld- en soenoffers), en om dank en lof aan God uit te druk (dank- en lofoffers). Wat belangrik was, was dat die mens in die regte verhouding met God moes bly. En ‘n mens het dit gedoen deur sonde te vermy en rein te bly. Jy het rein gebly deur die voorskrifte van God na te kom.

 

Deel van God se voorskrifte was dat die mens slegs sekere diere mag eet, en dan ook slegs van dié diere offers aan Hom mag bring. Dit is die rein diere, teenoor die onrein diere wat ‘n mens onrein voor God maak.

 

In die Nuwe-Testamentiese bedeling het God voorsiening gemaak dat die mens nie deur offers na Hom kom nie. Jesus Christus het die finale offer gebring, vir eens en vir altyd asook vir alle mense.

 

Hy maak ons rein in God se oë. Of, om dit anders te stel, ons is in Hom en wanneer ons voor God kom staan, sien Hy eers sy Seun raak. En wanneer Hy dan ons raaksien, is daar reeds ‘n glimlag op sy gesig omdat sy Seun Hom behaag.

 

Daarom redeneer Paulus dat ons rein is en dat niks ons weer onrein kan maak nie, behalwe as ons soos ‘n vark teruggaan na die modder waarin ons vantevore gerol het (wat na ons sonde verwys waartoe ons geneig was voor ons Christus ontmoet het).

 

Ons probeer nie God behaag deur wat ons doen nie. Christus het Hom klaar behaag. Ons buig nou in dankbaarheid voor Christus, erken Hom as ons Here en lewe vir Hom.

 

Skrywer:  Prof Marius Nel