Vergifnis: Johann Voges

As die onvergeeflike jou vergewe is, behoort jy die onverskoonbare teenoor jou te kan vergewe.

Matteus 1821 35

 (Hoofstuk uit Jesus se preekstories. Johann Voges 2023. Groep7 Drukkers en UItgewers. Bl175-186))

Onvoorwaardelik

 

Wedersydse respek en waardering vir mekaar se annersgeit is amper onmoontlik in ʼn onverduurlike oor en weer verwyt dis ook nie ‘maak net wat jy wil’ maar ‘los my seblief net uit’ miskien eerder hoe jy God in my raaksien in wat ek besluit. om jou te kan gun om te wees wie jy rêrig is sonder verwyt

 

Onvoorwaardelik teenoor jou begin of ek dit myself ook gun sou ek met myself kon saamleef sonder enige verwyt da’in sou ek kan tuiswees in my eie vel omdat ek liefgehê is da’in ek sal eerder berispe raak deur diegene wat my rêrig liefhet as dat hulle wat my rêrig liefhet niks meer vir my te sê het.

 

Vir jou ‘om-te-gee’ is nie ʼn moet, maar keuse wat ek maak sommamanet omgee daai dag as jy omgee rêrig nodig het Dis nie gee my onvoorwaarlik op voorwaardes wat ek maak dis net ʼn omgee soos wat jy dit op daai oomblik nodig het dis ʼn omgee sonder hoeke en toutjies daaraan vasgemaak

 

Al hoe jy dit kan regkry om iets onvoorwaardeliks te maak is wat jy vir my beteken sonder dat iets teruggedoen raak Hoe onvoorwaardelik liefhê by enig iemand ʼn verskil maak is nie wat jy daarmee regkry, maar wie jy daardeur raak

of my manier van lewe in joune ook ʼn rêrige verskil maak

 

Onvoorwaardelik is om jou te aanvaar vir wie jy rêrig is presies net soos wat die Here jou bedoel het om te wees Dis tog immers hoe God my aanvaar het vir wie ek ook is en tog help Hy my om te word wat Hy weet ek kan wees Here, help my ‘onvoorwaardelik’ te verstaan vir wat dit is!

 

Hoekom moet ek ander vergewe as ek nie wil nie?

 

Ek kan aan ʼn hele mondvol verskonings en redes dink hoekom ek nie iemand hoef te vergewe wat my moedswillig te na kom of seer- maak nie … dis tyd dat ek hierdie kind ʼn les geleer kry oor die gevolge van onverantwoordelik wees, jou ‘sorrygeit’ kan nie regmaak wat jy moedswillig of per ongeluk gebreek het nie … ek sal eers ʼn bietjie wag met my vergewery en kyk of die knaap met sy agterna spyt ook kan loop regmaak waar hy drooggemaak het … ek is die een wat hier te na gekom is, hoekom moet ek askies sê terwyl hulle g’n jammerte het oor wat hulle my aangedoen het nie. So bly ons allerhande naby en ver strepe vir mekaar trek oor die vergifnis waarvoor ek kans sien of die ene wat ek dink jy aan my verskuldig is.

Dis hoekom Petrus hier in Matteus 18 vir Jesus ook vra waar ʼn

mens daai ‘dis-nou-genoeg-vergewe’ streep kan loop trek teenoor al daai mense wat dink dat jy met askies-sê enige foute reggetimmer

 

kan kry sonder dat enige haan daarna iets oor te kraai het. As Petrus hier vra of sewe keer genoeg sou wees voor ʼn mens daai hokaai streep kan trek Matteus 18:21, is dit meer as wat jy van sy destydse samelewing sou kon verwag. Die rabbi’s van hulle tyd het gesê drie maal is die meeste wat jy van enige ordentlike mens kan verwag om jou te vergewe. Volgens hulle is dit die voorbeeld wat die Here self vir ons daar in Amos gestel het oor vergifnis Amos 1:3, 6, 9, 11 en 13 en 2:1, 4 en 6. Vir driemaal se droogmaak kan jy nog op vergifnis reken, as jy rêrig jammer is oor wat jy gedoen het, maar met die vierde maal moet jy die straf vat wat daarmee saamgaan. Want dan maak enige selfverwyt of agterna jammergeit nie meer saak nie, omdat jou spytgeit dan ’n mosterd na die maal is. Die vergifnis grens wat Petrus dus hier by Jesus kom toets, is tweemaal verder as wat hulle destydse Rabbynse wet van enige iemand verwag het. Petrus sit toe sommer nog so ʼn ekstra vergifnissie by net om sy ‘vroom dinkery’ oor hierdie vergewe storie te wys. Dis net hier waar Jesus dan die dammetjie helemal onder Petrus se eendjie uitruk met sy sewentig maal sewe keer antwoord Matteus 18:22. Dis Jesus se manier om eintlik te sê: “Petrus as dit by vergifnis kom, trek ʼn mens nie strepe nie … jy ver- gewe ‘elke keer’ waar daar vergifnis gevra word”. Lukas vertel hoedat Petrus en die dissipels met Jesus se antwoord gevoel het dat hul geloof nie groot genoeg is om Jesus se manier van vergewe ooit te kan regkry nie Lukas 17:5e.v.. Dan te moet hoor dis nie hoe ‘groot’ of ‘sterk’ jou geloof hiervoor moet wees nie, maar as jy die geloof wat jy hét gebruik, sal jy ook kan vergewe waar en vir wie jy moet.

 

Vergifnis is meer as om net ʼn sondelysie uitgevee te kry

 

Dis na aanleiding hiervan dat Jesus dan in Matteus 18 ʼn storie vertel om aan sy dissipels te probeer verduidelik … ‘dat vergifnis meer is as watse geloof jy daarvoor nodig sou hê of watse redes of verskonings jy het om nie te kan vergewe of iemand hoef te ver- gewe as jy nie wil nie’.

Die dissipels het nogal gesukkel om Jesus se bedoeling oor vergifnis te snap met die gelykenis wat Hy hier gebruik het om dit mee te verduidelik. Natuurlik het die verstaan hiervan vir ons tyd se mense net verder vertroebel geraak deur die kerkgeskiedenis bladsye met die kerkvaders se ‘allegoriese’ verstaan van wat hulle gedink het Jesus met die gelykenis wou sê. Die ou kerkvader Origines 182 254nC het byvoorbeeld vanuit sy oortuiging gesê dat hierdie ‘skuld’ wat beide slawe in hierdie gelykenis oor en weer skuld niks anders is as ʼn verwysing na elkeen van ons se ‘sonde teen God en ons medemens’ wat vergewe moet raak nie. Dat Jesus met sy gelykenis, volgens hierdie verstaan daarvan, wou sê: “As God bereid is om ons sondes te vergewe, behoort ons mekaar s’n ook te kan vergewe, anders belemmer ons God se vergifnis vir ons”. In die- selfde asem word dan ook sommer ons verstaan van daai stukkie bede uit die ‘Onse Vader’ hierby gehark van ‘vergewe ons ons skulde omdat ons ook hulle vergeef het wat teenoor ons skuldig staanMatteus 6:12. Die dilemma om op dié manier Jesus se gelykenis te wil verstaan, beteken dan dat ‘God se vergifnis van my sonde dan begin afhang van hoe ek ander mense kan of wil vergewe wat nie reg

 

teenoor my opgetree het nie’. Daarmee is ons natuurlik presies by Petrus se vraag oor waar jy die streep kan of moet trek as dit by enige vergifnis kom. Terwyl Jesus met sy storie wou sê dat dit in vergifnis nooit gaan oor ‘hoeveel redes of verskonings’ nodig is om iemand te kan of wil vergewe nie, maar eerder ‘waarom’ dink jy behoort ons mekaar te vergewe?

 

Wat vergifnis nie is nie

 

Miskien net eers gou ʼn kantaantekening oor wat ek dink vergifnis glad nié is nie … vergifnis beteken nie om van enige oortreding te maak asof dit nie gebeur het of nie so erg is as wat dit lyk nie … dis ook nie om toe te laat dat iemand anders van jou goedhartigheid misbruik maak en jy moet maar net geduldig wees en verstaan waarom jy nou per ongeluk moes seerkry of te nagekom is oor wat nou hier gebeur het nie. Die Griekse woord wat met ‘vergifnis’ in Afrikaans vertaal is, beteken eerder dat as jy iemand vergewe, skryf jy daai persoon se skuld af, waarvoor jy eintlik vergoed moes word … óf as jy vergifnis ontvang word jy daarmee vrygestel van enige vereistes wat jy verskuldig sou wees om terug te betaal. Dis juis waarin die moeilikste van vergifnis lê … nie net om iemand anders te kan vergewe nie en daarna te vergeet wat jy vergewe het, maar ook om jouself te kan vergewe wanneer jy vergewe is en askies te kan sê toe jy gedink het: “Waar was God toe ek seergekry het of te nagekom is”?

 

Dis maklik om oor vergifnis te praat totdat ek die dag iemand moet vergewe

Kom ons blaai terug in Matteus se wêreld, toe Jesus sy storie oor vergifnis vir die eerste keer vertel het. Die vraag waaroor Jesus hier in Matteus 18 van ons verwag om elkeen in ons eie lewe te moet loop nadink, is: “Hoe vat ons as medegelowiges vir mekaar verant- woordelikheid vir die skande- en droogmakery wat daar soms tussen ons kan gebeur?”

Die kernstorie in Jesus se gelykenis gaan oor ʼn koning wat iemand sy onberekenbare groot skuld vergewe en die persoon se onvermoë om daarna iemand anders se berekenbare bietjie skuld te kan vergewe. Daarmee vra Jesus met die vertel van sy storie na wat veroorsaak hierdie onvermoë in mense om ander te kan of te wil vergewe terwyl hulleself altyd vergewe wil wees? CS Lewis se opmerking hieroor was, dat ‘die meeste van ons glo dat vergifnis ʼn wonderlike idee is en dat dit ook ewe reg en noodsaaklik in die samelewing is, totdat ek die dag self iemand anders moet vergewe’. Die ander lastige vraag om geantwoord te kry, is of Jesus se bedoeling met sy opmerking in vers 35 beteken dat, as ek nie kan vergewe nie, God my ook nie sal vergewe nie? Is dit dalk ook wat ge-impliseer word met die wyse waarop die koning in die gelykenis die persoon, se onvermoë om te vergewe, later straf óók vir dit waarvoor hy self reeds vergewe was? Matteus 18:32e.v.

 

Leef die vergifnis wat jy ontvang het

 

Daar is ʼn paar weetgoete wat jy in hierdie gelykenis raakgelees moet kry om te verstaan wat Jesus rêrig oor vergifnis wou sê…

1 Hier is ʼn interessante magspel in die gelykenis aan die gang waaroor ons hedendaagse opvattings en manier van dink waarskynlik nie sensitief genoeg sal wees om op te tel nie. Dit lê in die verstaan van waarom die koning aanvanklik besluit om die slaaf wat hom geld skuld, te straf Matteus 18:25en hom dan alles net so kwytskeld sonder om enige iets terug te verwag Matteus 18:27 en later weer van besluit verander en hom wel straf vir sy onvergewingsgesindheid Matteus 18:34. Dis nogal tipies van hoe iemand destyds beheer van sy sake sou vat en dan gerespekteer sou word wat hy ookal besluit om te doen. Dit maak nie saak hoe regverdig of onregverdig dit dalk vir enige iemand anders mag klink nie.

2 Daarom is die slaaf wat hier op sy knieë by die koning staan, doodtevrede met die tweede viool wat hy in die koningsorkes gespeel moet kry, vandaar sy laag buig respekte wat hy vir die koning hier wys Matteus 18:26a. Want hy weet hy is in groot moeilikheid waaruit daar g’n uitkomkans is nie, al smeek hy vir geduldig wees om alles terug te betaal Matteus 18:26b. Hy en die koning weet dis onmoontlik .

3 Maar as hy daar uitstap, met sy onbetaalbare en onvergeeflike skuld afgeskryf en vergete en hy daarna iemand raakloop wat hom ʼn ietsie skuld, verruil hy daai tweede viool net daar vir ʼn eerste viool in sy eie orkes en druk as’t ware sy tweede viool in daai ander ou se keel af Matteus 18:28. Hoe sy nederigheid in ʼn

 

arrogansie ontaard hoor jy in hoe hy die persoon aanspreek wat hom iets skuld: “Betaal wat jy my skuld” Matteus 18:28. In die Griekse teks is daar nie die woorde ‘ek’ of ‘my’ in nie. Wat hy dus eintlik sê is: “Betaal jou skuld soos wat ʼn mens van enige ordentlike mens sou verwag om te doen”. Die ironie is dat hy eintlik daarmee bedoel: “Ek verwag van jou iets wat ek self nie hoef te doen as ek nie sou wou nie”. Dis hierdie gesindheid wat oneer teenoor die koning en gemeenskap veroorsaak wat sy kierangtjies gebraai kry.

4 Die vraag wat die gelykenis dus vra is nie hoeveel keer kan enige iemand op vergifnis aanspraak maak of wat is onvergeeflik of onverskoonbaar vir enige vergifnis nie? Dit gaan eerder oor hoe leef ek daai vergifnis uit, dit wat ek vir myself toe-eien of verwag om te kry, teenoor diegene vir wie ek moet of behoort te vergewe?

5 Ek moet myself ook afvra ‘hoekom moet ons mekaar ver- gewe’? Dit gaan nie oor wat wie daaruit kan terugkry of oor wie eerste askies moet kan nie. Ek kan slegs iemand anders vergewe omdat ek daai persoon wil vergewe, omdat ek vergewe én liefgehê is vir wie ek is en nie vir die foute of skande wat ek dalk gemaak het nie.

Om te vergewe is glad nie so maklik en eenvoudig as wat dit klink nie. Want as jy iemand vergewe beteken dit ten minste vier dinge. Die een is om nie die onreg wat teenoor jou gepleeg is te probeer terug doen aan wie jy ookal daarvoor verdink nie. Die tweede is om nie met ander daaroor te praat of daarvan ʼn skinderstorie te probeer maak nie. Die derde ene is om nie self gedurig daaraan te

 

bly dink of dit elke keer as ʼn ou koei uit die sloot uit nader te sleep om die een wat jy vergewe het by te kom of skuldig te laat voel oor wat vergewe is nie. En laastens om te weet dat as God jou kon vergewe behoort jy jouself én ander ook te kan vergewe, net so onvoorwaardelik as wat jy deur God liefgehê is.

Om ʼn christen te wees beteken dat jy bereid sal moet wees om die onverskoonbare in ander te kan vergeef omdat die Here die onvergeeflike in jou vergewe het.

 

Vergifnis vra is meer as om net verskoning te vra…

 

Niemand in Jesus se storie vra eintlik rêrig om ‘vergifnis’ vir wat hy skuld of gedoen het nie, maar maak eerder ‘verskoning’ by die koning of medeslaaf vir die skuld wat hy gemaak het en vra om nog ʼn kans gegun te word om sy fout te kan regstel Matteus 18:26 en 29. CS Lewis verduidelik dit so: “As ek vir God of enige iemand anders vra om my te vergewe, bedoel ek partykeer eintlik helemal iets anders as wat ek vra. Ek vra eintlik nie om vergewe te word nie (‘to be forgiven’), maar om verskoning (‘to be excused’) vir die skandemaak wat ek veroorsaak het. Dan het ek ook gewoonlik ʼn klomp redes en verskonings om my askies-tog mee te probeer motiveer. As my versko- nings of redes, waarom ek iets verkeerd gedoen het en my apologie daaroor aanvaar word, dan het ek mos nie eintlik vergifnis nodig nie. Ek vra mos om verskoning en dit word aanvaar en daarmee is die saak afgehandel op grond van die redes wat hierdie verskoning sou regverdig. Terwyl ek met vergifnis erken dat ek eintlik geen geldige

 

verskoning het vir wat ek gedoen het nie … ek vra dus met vergifnis dat die onverskoonbare of onvergeeflike my vergewe sal word”.

 

Ek vergewe jou omdat ek vergewe is

 

Met Jesus se gevolgtrekking in die laaste teksvers:“My Vader in die hemel sal net soos hierdie koning met julle maak as julle weier om mekaar van harte te vergeweMatteus 18:35, wil Hy juis sê dat vergifnis met ʼn hartsverandering te make het wat jy nie op ʼn quid pro quo basis kan bereken nie. Oprah Winfrey 24 het eenmaal gesê: “True (self)forgiveness is to forget that you can ever change the past, about that you can merely say ‘thank you for the experience’ and then move on”. Wat Jesus met hierdie gelykenis in Matteus 18 wou weet, is: “Hoe leef ek wat klaar vergewe is tussen ander mense wat nog vergewe moet word?” … óf “Om vergewe te wees het niks te doen met wie nog wat en waar iets skuld nie, maar eerder hoe om met ander mense te kan klaarkom wat nog vergewe moet word”. Dit kan ek net doen as ek weet wat dit is om self vergewe te wees. Iemand het eenkeer gesê: “Om te vergewe is om ʼn gevangene vry te stel en dan uit te vind dat die gevangene toe al die tyd ekself was”. Die Duitse teoloog Helmut Thielicke het op ʼn keer gesê: “God se vergifnis is soos ʼn aflosstokkie waarmee ek in ‘n aflosspan hardloop, ek kan net in die aflos oorwinning deel as ek die stokkie aangegee het toe ek moes. As ek die stokkie vir myself hou self alleen daarmee verder

 
   

 

24 https://www.oprahdaily.com/life/a37117486/oprah-forgiveness/

 

hardloop … selfs al kom ek daarmee eerste by die wenpaal aan, sal ek gediskwalifiseer word want die aflos reël sê jy moet die aflosstokkie aangee na die volgende atleet in jou span”. Hoekom moet ek jou vergewe? Eintlik is daar nie ʼn mondvol verskonings of redes voor nie. Al wat ek hieroor weet, is dat ek jou kan en wil vergewe omdat ek vergewe is … omdat ek liefgehê is vir wie ek is en nie vir foute wat ek moedswillig of onwetend maak nie!

 
   

Wie kan oor God se onbeskryflike, onbegryplike, onverdiende genade en vergifnis iets nuuts probeer sê? Dalk is die beste om iets van die effek daarvan te illustreer met ’n anekdote oor hoe die blote lied ‘Amazing grace’ mense kon beïnvloed. Die vertelling is ’n samevatting van ’n hoofstuk in Philip Yancey se bekende boek ‘What’s so amazing about grace?’ (New York: Doubleday) 25. Toe die nuwe demokratiese bedeling in Suid-Afrika met die 1994- verkiesing ’n werklikheid geword het, is daar in Londen se Wembley-stadion ’n feeskonsert gehou om die gebeure te vier. Verskillende rock-orkeste het opgetree, maar om die een of ander rede het die promotors ’n operasangeres, Jessye Norman, gevra om die slotnommer van die aand te lewer. Twaalf ure aaneen het popgroepe die skare oordonder met hul musiek deur luidsprekers so groot soos huise. Met elke nuwe groep se verskyning is die toeskouers – teen dié tyd al klaar taamlik “hoog” op drank en dwelms – nog verder opgesweep. Toe die voorlaaste groep, Guns ’n

 

25 Stories vir die lewe-omnibus: ʼn Boek oor lewenswaardes. Piet Naude. 2003. Lux Verbi. Bl 102

 

Roses, begin speel, was daar nagenoeg massahisterie. Toe hulle die verhoog verlaat om plek te maak vir Jessye Norman, was die skare ontevrede. Stadig en statig het dié Afro-Amerikaanse vrou, geklee in haar Afrika-dasjiki, die verhoog betree. Sonder ’n begeleidende orkes. Sonder enige musiekinstrument om haar stem te ondersteun. Net Jessye, haar stem en die mikrofoon. Die skare ken nie die opera-diva nie. Dis nie die soort musiek waaroor hulle baie kundig is nie. Hulle is rusteloos. Hier en daar boe! iemand. ’n Stem uit die skare dring aan op nog ’n Guns ’n Roses-nommer. Die kreet word opgeneem deur ’n groot deel van die skare. Dinge begin lelik lyk. Toe begin Jessye Norman sing, alleen, a capella, baie stadig: “Amazing grace, how sweet the sound that saved a wretch like me! I once was lost but now am found – was blind but now I see”. ’n Snaakse ding het daai aand in Wembley-stadion gebeur waar 70,000 oproerige rock-musiekondersteuners stilgeraak het deur ’n operasangeres se rustige aria oor God se genade. Toe sy met die tweede vers begin het:‘Twas grace that taught my heart to fear. And grace my fears relieved …” , kon dié sopraan die gehoor om haar pinkie draai. Toe sy met die vierde vers besig was:“Tis grace has brought me safe thus far. And grace will lead me home” , begin derduisende van die toeskouers saamsing. Met die aanhoor van Jessye se woorde is hulle herinneringe en behoefte aan vergiffenis weer losgewoel en het dit stuk-stuk na hulle begin terugkom: “When we’ve been here ten thousand years … Bright shining as the sun … We’ve no less days to sing God’s praise … Than when we first

 

begun”. Jessye Norman het later gesê dat sy geen idee het wat daardie aand gebeur het nie. Sy weet net daar het ’n krag op Wembley-stadion neergedaal soos sy nog nooit by enigeen van haar konserte ervaar het nie. Die wêreld smag na God se genade en versoening, met Hom en met hul naaste. Wanneer hulle van sy genade vir ons – so onbeskryflik groot – bewus gemaak word, soos daardie aand, word die wêreld stil. Of bars uit in sang.

Die uiterste punt van vergifnis is om meer om te gee vir die pyn van die een wat jou seergemaak het as vir jou eie seerkry, en dáárom te vergewe … vergifnis is om my reg om terug seer te maak, prys te gee!

Skrywer: Dr Johann Voges

 




Verstaan vryspraak (3)

I consider the principal enemies of the Gospel to be, not the pontiff of Rome, nor heretics…nor tyrants, but bad Christians ~ John Calvin

 

Verstaan vryspraak (3)

As ons verstaan wat vryspraak is, het ons nie die einde van die pad bereik nie. Uit vryspraak vloei daar sekere dinge:

  • Roeping. Ons was geestelik verlore en dan kom God en Hy roep ons: Kom. Roeping word dikwels in algemene en spesiale roeping verdeel. Algemene roeping kom van God na alle mense: Kom na My toe dat julle gered kan word, almal op die aarde, want Ek is God, daar is geen ander nie (Jesaja 45:22). Sommige mense ignoreer of weier hierdie roeping. Maar ons word nie aan onsself oorgelaat nie – God in sy genade trek ons na Jesus Christus toe: Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na my toe trek nie (Johannes 6:44). Hierdie is God se spesiale roeping. Hierdie roeping begin ‘n ketting van gebeure in ons: Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik (Romeine 8:20).
  • ‘n Nuwe geboorte (weergebore). God gee ‘n nuwe geestelike lewe aan ons – ‘n nuwe begin. Dit beteken ons was geestelik dood, maar is nou in Jesus Christus weer lewend gemaak. Die nuwe geboorte is meer as om net ‘n nuwe bladsy om te slaan. Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie (Romeine 6:6); Iemand  wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom (2 Korintiërs 5:17). As die Heilige Gees ons nuut maak, verander ons identiteit. Ons is nie meer ‘n sondaar nie, maar ‘n gelowige.
  • Bekering. Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie (Matteus 18:3). Bekering beteken om 180 grade te draai – weg van die sonde en ongeloof na Jesus Christus. Dit sluit in berou (ek is opreg jammer oor my sonde) en geloof. Bekering gaan altyd gepaard met dade wat by die bekering pas (Handelinge 26:20). As ek waarlik bekeer is, moet die manier waarop ek lewe dit wys.
  • Verlos deur genade. Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God (Efesiërs 2:8). God in sy genade verlos ons onder andere van die oorheersing deur sonde en ‘n lewe van vrees en selfsug. Veral red Hy ons van sy oordeel en toekomstige toorn. Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie (Romeine 8:1). God verlos ons nie net van sekere dinge nie, maar ook vir sekere dinge: om saam met God in liefde te leef.
  • Aanneming. Julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus (Romeine 8:15 – 17). ‘n Christen is dus iemand wat God as sy Vader het: Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word (Johannes 1:12). As kinders van God het ons al die regte en voorregte wat kom omdat ons sy kinders is. Ons is lede van sy gesin met al die voorregte, vryhede en beloftes om God as Vader te hê.

 

Volgende keer gaan ons na versoeking kyk.




Verstaan vryspraak (2)

God uses chronic pain and weakness, along with other afflictions, as his chisel for sculpting our lives. —J.I. Packer

Verstaan vryspraak (2)

Elke mens het ‘n ingebore sin van wat reg en wat verkeerd is. Daarom kom die vraag na vore: Hoe kan God mense vryspreek wat skuldig is en steeds ‘n regverdige regter wees? Omdat God ‘n regverdige regter is, moet Hy tog op een of ander manier sy sin vir geregtigheid bevredig as Hy ons vryspreek.

 

Maar daar is vir ons vryspraak betaal. Om dit te verstaan, is daar drie konsepte van belang:

 

  • Delging/verlossing. Dit is verlossing met ‘n prys. God het ons verlos, maar Hy het ‘n groot prys betaal daarvoor – die offer van sy eie Seun. Ons was slawe van die sonde, maar God betaal die losprys. Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde  sinnelose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekkeloos en sonder liggaamsgebrek is (1 Petrus 1:18 – 19).
  • Versoening. Jesus Christus se dood was die offer wat God se toorn verwyder het deur ‘n plaasvervangende offer. Maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien het, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo (Romeine 3:24 – 25). God gee self die offer – sy Seun; God gee self die losprys – Jesus Christus se bloed. God does not love us because Jesus Christ died for us; Christ died for us because God loves us (John Stott)
  • Toerekening.  Ons sonde word aan Jesus Christus toegereken; Jesus Christus se geregtigheid word aan ons toegereken. Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees (2 Korintiërs 5:21).

 

Nou kan ons verstaan hoekom God, as ons voor sy regbank staan, kan sê: Onskuldig. Vryspraak is nie ek en jy wat  goed genoeg is dat God ons kan vryspreek nie … dit is God wat vir ons intree en vir ons doen wat ons nooit self vir ons kan doen nie.

Volgende keer kyk ons vir oulaas na vryspraak.




Verstaan vryspraak (1)

The gospel is neither a discussion nor a debate. It is an announcement – Paul S. Rees

 Verstaan vryspraak (1)

Hoe kom ek in die hemel? Dit is ‘n algemene vraag waarop ons ‘n verskeidenheid antwoorde kry: wees ‘n goeie mens; moenie selfsugtig wees nie; moenie ander seermaak nie; doen wat reg is; onderhou die wette van God; ens. Lees ons egter die Nuwe Testament sien ons dat al hierdie dinge  werke genoem word. In alle gevalle werk ons om God se goedkeuring te kry – ons probeer vir ons verlossing werk.

 Maar dan kom Paulus en hy sê: Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel deur die wet leer ‘n mens wat sonde is (Romeine 3:20). Hier sien ons dat die wet vir my sê wat sonde is. Deur die wet te onderhou, kan ek nie vrygespreek word nie – in ieder geval kan ek nie die wet volkome onderhou nie. Die wet maak my bewus van my sonde – ek besef ek is ‘n sondaar.

 

 

As God my moes oordeel op die onderhouding van die tien gebooie, hoe sou ek vaar? Om goed te wees volgens God se definisie moet ek moreel volmaak wees. Omdat ons besef dat dit nie moontlik is nie, water ons die definisie af. Ongelukkig is dit net God se definisie wat tel. Wat is sy bevinding? Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie (Romeine 3:10).

 

Mense hou nie daarvan om te hoor dat hulle nie goed genoeg is om hemel toe te gaan nie. Dit is baie moeilik om te erken dat ons desperaat is. Ons is te trots om dit te erken. Maar net God is volmaak. Wat nou? Ek moet vrygespreek word. Wat beteken dit om vrygespreek te word? En tog weet ons dat ‘n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Jesus Christus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Jesus Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek  op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie (Galasiërs 2:16).

 

Vryspraak is ‘n woord wat in ‘n hof gebruik word. In ‘n hof word ons vrygespreek of veroordeel en gevonnis. God is die regverdige Regter oor die heelal. God verklaar dat ons vrygespreek is – geen veroordeling en geen vonnis nie. Dit beteken ons sonde is verwyder en dat ons vry van God se toorn is. Maar hierdie vryspraak is voorwaardelik: ons moet in Jesus Christus glo. As ek in Jesus Christus glo – dat Hy in my plek gesterf het en vir my die straf gedra het – word ek vrygespreek. Nou is ek vry van veroordeling.

 In die wêreld is ek onskuldig tot ek skuldig bevind word. Maar voor God is ek reeds skuldig bewys. Ek is skuldig totdat God my vryspreek.

 

Ons gaan volgende keer verder na vryspraak kyk.