God is met ons – Matteus se evangelie in een sin

God is met ons – Matteus se evangelie in een sin – Fanie Rudolph 

Inleiding:

Matteus skryf sy evangelie aan oorwegend Joodse lesers.  Hy doen baie moeite om Jesus as die verwagte Messias uit te wys, spesifiek met behulp van aanhalings uit die Ou Testament.  Sy uitstaande aanhaling is egter die een in Matteus 1:23 : “Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.”  Hiermee bevestig Matteus dat die koninkryk van God gekom het – in die persoon van Jesus Christus self. 

Die koninkryk van God het naby gekom:

Matteus wil die feit sterk beklemtoon dat die koninkryk van God naby gekom het met die geboorte van Jesus as die Messias wat voorspel en verwag is.  Jesus begin sy bediening met die aankondiging van God se koninkryk (vgl. Matt. 4:17).  Hierna wys Jesus se lering, sy wonders, sy lewe dat die koninkryk van God naby gekom het.  Uiteindelik vra Jesus sy dissipels om ook die boodskap van God se koninkryk (i.e. Jesus se verlossing) te verkondig (Matt. 24:14) in die toekoms (i.e. na sy sterwe, opstanding en hemelvaart).

God het tasbaar naby gekom (Matt. 1:23 en 28:20):

Rondom hierdie belangrike motief van die koninkryk van God wat naby gekom, vind ons die belangrike motief wat Matteus se evangelie in geheel rig: God is by ons.  Die frase self kom net twee keer in die evangelie voor (Matt. 1:23 en 28:20).  Die hele evangelie speel egter binne hierdie twee frases af.  Hierdie kernboodskap is meer as net ‘n mooi teologiese benaming.  Die lewe van Jesus onderstreep die waarheid van Jesus.  “God is met ons” is ‘n praktiese waarheid wat mense kan beleef in hulle elke dag se lewe.  Mense kan die uitwerking daarvan oral rondom hulle sien.  Alles wat in Matteus se evangelie gemeld word, dra die merkteken van God wat by sy mense is:

  •          Jesus se lering vertel van God se koninkryk wat tasbaar naby mense gekom het.  Elke lering van Jesus in Matteus handel oor die koninkryk van God (vgl. veral Matt. 13).  Jesus kom maak die koninkryk bekend, sodat mense dit weer kan raaksien, en so God se verlossing deur die koms van die koninkryk kan ontvang.  
  •          Jesus se wonders bevestig dat God se koninkryk naby gekom het.  Sy geraak word.  Dit bevestig dat Hy wat hierdie wonders doen, met Goddelike gesag optree, i.e. dat Hy deur God gestuur is om verlossing te bring.
  •          Sy vergifnis van mense bevestig dat Hy die mag oor sonde het.  Hy kan as Seun van die Mens regspreek oor sonde en dit vergewe. 
  •          Die feit dat hierdie dinge deur Jesus self gedoen word terwyl Hy tussen die mense beweeg, hulle aan Hom kan raak en Hom kan sien en hoor, bevestig dat hierdie God-gestuurde Persoon God se teenwoordigheid tussen hulle kom vestig het. 
  •          Die frases bevestig net soveel Jesus se Goddelikheid as sy met-ons-wees.  Jesus kom maak God bekend deur sy lewe.  Dit kan Hy net volledig doen as Hy self Goddelik is.

Al hierdie dinge wil een belangrike feit beklemtoon: Jesus is God by ons. 

In Matteus 28:20 wil Jesus beklemtoon dat die koninkryk van God nie verdwyn omdat Hy gaan terugkeer na sy Vader toe nie.  Sy dissipels kan (en moet) die boodskap van die koninkryk verder dra.  Hulle moet verteenwoordigers van God se nuwe koninkryk word, net soos Adam verteenwoordiger van God in die skepping was (vgl. Gen. 1:26-27).  Terwyl hulle dit doen, kan hulle vir seker weet dat Jesus by hulle is.  Die verlossing wat Jesus gebring het, reik verby sy hemelvaart.  God se koninkryk is nooit weer weg van die gelowiges af nie, want gelowiges is nooit weer sonder Jesus nie. 

God is by ons.  Hierdie sentrale motief sê uiteindelik alles oor die evangelie van Jesus Christus, oor die diepte van sy verlossing, die grootheid van sy lyding (God hang aan ‘n kruis – Moltmann), sy liefde vir die mense wat Hy kom red het. 

 

Outeur:  Dr Fanie Rudolph

 




TBN TV – Vraag

TBN TV – Vraag

Marguerite van Niekerk vra:

Die TBN TV kanaal (op DSTV) het my baie verwar en onseker laat voel. Moet ek as kind van God daarna kyk? Is dit nie teenstrydig met die Woord van God nie? Baie dankie vir die diens. Ek dink mense het regtig n behoefte daaraan.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die vraag raak ʼn baie wyer probleem aan as net die TBN kanaal. ʼn Kanaal kan nie regtig teenstrydig met die Woord van God wees nie, maar wel die materiaal wat op ʼn TV kanaal aangebied word. Kom ons neem ʼn voorbeeld: om te gaan fliek is nie teen die Woord van God nie, maar as ʼn mens ʼn fliek gaan kyk wat godslasterlik is of wat jou in jou geestelike lewe of gemoed afbreek, sou ʼn mens weer moet dink. Die Here wil nie hê dat sy  kinders moet seerkry nie. Dit gaan dus hier veral oor wat iets aan ʼn mens self doen – bou dit jou op of breek dit jou af.

Daar is dus twee dinge wat duidelik hier ʼn rol speel.

  •          ʼn Ding kan eenvoudig teen God wil wees, omdat dit verkeerd is en ʼn mens weet dit, onder andere uit God se Woord. Dan moet ʼn mens dit nie doen nie.

ʼn Ding, soos ʼn televisieprogram, ʼn gesprek, ʼn tydskrif, selfs ʼn hangertjie of armband, mag my nie opbou nie. Dit pla my en ek voel nie lekker om dit te kyk nie – my gewete pla my daarna. Dan moet jy dit liewer nie doen nie – waarom wil jy as dit jou nie opbou nie. Vir ander Christene mag dit miskien nie pla nie, maar dit is nie jou saak nie. Jy kan wel jou standpunt in ʼn gesprek stel, maar jy hoef nie jou opinie op ander af te dwing nie. Dus: as dit jou pla, moet dit nie doen nie en dan hoef jy ook nie sleg te voel daaroor nie. Lees gerus Romeine 14:1-9Die Boodskap vertaal dit veral mooi:

“…n Christen wie se geloof sterk is, het nie ʼn probleem om verskillende soorte kos te eet nie. Maar ʼn Christen wie se geloof nog nie so groot is nie, sal weier om kos te eet wat deur die Jode as onrein beskou word, of kos wat deur ongelowiges aan hulle afgode gewy is. Nou moet hierdie gelowiges egter nie die fout maak om mekaar te veroordeel oor wat hulle eet, of oor wat hulle nie eet nie, want God het plek vir albei van hulle… mense wat in God glo, al doen hulle dit op ʼn ander manier as jy, sal gered word. Die Here sal daarvoor sorg.

Daar is mense wat sê dat sekere dae heiliger as ander dae is. En daar is mense wat sê dat alle dae presies dieselfde is. Geen dag is vir hulle heiliger as ʼn ander dag nie. Elkeen moet in hierdie geval maar self besluit wat reg is. Wat wel belangrik is, is dat albei van hulle God se eer voorop sal stel. Wat ek bedoel, is dit: as jy besluit om een dag heiliger as ʼn ander dag te hou, doen dit dan tot eer van God. As jy besluit om alle kos te eet, doen dit tot eer van God. Sê vir Hom dankie daarvoor. As jy egter besluit om sekere soorte kos nie te eet nie omdat dit met jou geloofsbeskouinge bots, doen dit ook tot eer van God. Sê dan vir God dankie vir daardie kos wat jy wel eet. Onthou, nie een van ons leef of sterf vir onsself nie. Nee, ons almal staan in voltydse diens van die Here. Daarom moet ons voluit vir Hom leef en doodgaan. Letterlik alles wat ons doen, moet tot eer van die Here gedoen word, want ons behoort aan Hom, geheel en al“.

  •          Marguerite, jou gesindheid waarmee ʼn mens dinge doen, is sentraal belangrik in alles wat ʼn Christen doen. Lees wat sê Paulus in Kolossense 3:17 (Die Boodskap):

Jesus moet uit julle hele lewe straal. Of julle praat of iets anders doen, Jesus moet daarin gesien kan word. Julle lewe moet een groot dankie vir God wees. En dit kan alleen so wees as julle alles doen asof Jesus elke tree saam met julle gee.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Die idee van die wegraping [5]

Die idee van die wegraping [5] – Dirk Venter

 

Ander teksgedeeltes waarby die wegraping ingelees word

  • 2 Tessalonisense 2:6-8 – die een wat die wettelose teëhou.  Wanneer die wegrapingsidee van buite af by hierdie teks ingelees word (want, net soos in die geval van Matteus 24:36-44 en ander teksgedeeltes, gee die teks self geen aanduiding daarvan nie), word daar veronderstel dat die kerk die een is wat die wettelose (antichris) teëhou, en dat die manier waarop die kerk “uit die weg” geneem word, die wegraping is.
Teenoor hierdie interpretasie staan ʼn belangrike beginsel wat deur Jesus verkondig is (in die gelykenis van die onkruid tussen die koring, Matteus 13).  Sy volgelinge én die duiwel se volgelinge (waarvan die antichris tog die vernaamste is) moet saam in die wêreld verkeer tot op die dag van die oes, wat sinoniem is met die dag waarop daar finaal onderskeid getref sal word (oordeel) en die duiwel se volgelinge “in die brandende oond” gegooi sal word, terwyl die gelowiges “sal skitter soos die son” by die Here (Matteus 13:42-43).  Die “een wat die wettelose teëhou” kan dus nie sondermeer met die kerk gelykgestel word om so die noodsaaklikheid van die wegraping te verduidelik nie.  Verklaarders het baie verskillende teorieë vir wie (of wat) die “een wat die wettelose teëhou” moontlik kan wees, maar dis nie nodig om daarop in te gaan vir die doel van hierdie artikel nie.  Die gelykenis van die onkruid tussen die koring (Matteus 13:24-30, 36-43), tot op die dag wanneer sommiges in die vuur gegooi sal word en ander die koninkryk sal binnegaan, spreek eintlik baie duidelik teen die wegrapingsidee dat die gelowiges uit die sisteem gehaal gaan word lank voordat die oordeel aanbreek!
  • 1 Korintiërs 15:51-52 – die verandering van verganklikheid na onverganklikheid.  Hierdie teksgedeelte hoef net vinnig deurgelees te word om raak te sien dat daar (weereens) geen sprake van die wegraping as sulks, daarin voorkom nie.  Tog word dit gereeld aangetref in artikels wat die idee van die wegraping verduidelik, om te verklaar hoe die lewendes ʼn verheerlikte liggaam sal kry voordat hulle die Hemel sal ingaan.  Wegraping al dan nie, “by die laaste trompet sal… die dooies as onverganklikes opgewek word, en ons [die lewendes] sal verander word”.
  • Johannes 14:1-3 – Jesus gaan om vir ons plek gereed te maak.  Nogmaals word dié teksgedeelte dikwels in dieselfde asem as die wegraping genoem, maar hoef dit selfs net vinnig deurgelees te word om raak te sien dat dit nie melding maak van die idee van die wegraping as sulks nie.  Christus kom terug om die gelowiges te kom haal, sodat ons kan wees waar Hy is, en dit is in die Hemel by die Vader.
  • Daar is selfs nog meer sulke teksgedeeltes.  Die patroon bly egter deurlopend dieselfde, en gevolglik word almal nie hier genoem nie.

Enkele konklusies

Na hierdie reeks artikels oor die idee van die wegraping, kan ondermeer die volgende konklusies gemaak word:

1.    Die besonderhede oor Christus se koms is nie so belangrik as die feit dat Hy terugkom en dat ʼn mens moet sorg dat jy gereed is vir daardie geleentheid nie.

2.    Die debat oor die wegraping handel oor besonderhede van Christus se Wederkoms, en is dus van sekondêre belang.  Dis byvoorbeeld nie belangrik genoeg om jouself op grond van ʼn verskil hieroor te distansieer van ʼn medegelowige nie.

3.    Die idee van die wegraping is deel van ʼn redelik gekompliseerde uiteensetting van ʼn reeks gebeure in die eindtyd, en is dus eintlik verwant aan die vraag oor die duisendjarige vrederyk, die vasbinding en loslating van die satan ens., waarop hierdie reeks artikels glad nie ingegaan het nie.

4.    Veral 1 Tessalonisense 4:16-17 en Matteus 24:15-18 (saamgelees met Daniël 9:24-27) word misverstaan en tot hoë prominensie verhef.  Sodoende word die idee van die wegraping gevorm, wat eintlik nie meer ooreenstem met die bedoeling van die teksgedeeltes waaruit dit afgelei word, of die res van die Nuwe Testament se verstaan van die Wederkoms nie.

5.    Word hierdie idee van buite af toegepas op ander teksgedeeltes in die Nuwe Testament (Bybel), mag dit op die oog af dalk lyk of dit mekaar aanvul, maar inderwaarheid word daardie besondere teksgedeeltes (wat in eie reg iets oor die Wederkoms te sê het) dan geforseer om iets te “sê” wat dit nie bedoel nie.

Outeur: Ds Dirk Venter

 




Die idee van die wegraping [4]

Die idee van die wegraping [4] – Dirk Venter

 

Ander teksgedeeltes waarby die wegraping ingelees word

Benewens die kern-teksgedeeltes waarop die wegrapingsidee geskoei word (1 Tessalonisense 4:17; Matteus 24:15-28 plus Daniël 9:24-27), word die idee ook by ʼn aantal ander teksgedeeltes ingelees.  Die vernaamstes hiervan word hieronder gegee, en daar word kortliks genoem waarom hierdie teksgedeeltes nie op die wegraping dui nie. 

  •          Matteus 24:36-44 – twee sal saam werk, die een word saamgeneem en die ander een agtergelaat.  Die punt van hierdie uitspraak van Jesus is nie die wyse waarop (soos met ʼn “wegraping”) die wederkoms gaan plaasvind nie, maar dat dit “kom op ʼn uur dat julle dit nie verwag nie” (24:44b, ook 24:36, 40; let op hoe die tema van die tekseenheid duidelik gestel word aan die begin en die einde daarvan).  Die uitvloeisel van hierdie feit, is dat die gelowiges moet sorg dat hulle gereed is (24:42, 44a).  Die verwysing daarna dat twee saam sal werk (“op die land”, 24:40; “by die meul”, 24:41) is om te illustreer hoedat mense sal besig wees met hulle alledaagse lewens, dat hulle soos altyd sal eet en drink en trou (24:38), sommige van hulle gereed vir sy koms en ander nie (vgl. ook Matteus 25:1-13).  Wanneer Hy kom, sal dié wat gereed was, gered word, terwyl dié wat nie gereed was nie, nie gered sal word nie.  Die punt van die een wat “saamgeneem” word en die een wat “agtergelaat” word, is dus nie dat sommiges weggeraap sal word nie, maar bloot dat die gelowiges moet seker maak dat hulle gereed is vir sy koms aangesien dit ʼn baie algemene verskynsel sal wees dat mense nie gereed is nie (figuurlik gesproke 1 uit 2, of 5 uit 10 in terme van Matteus 25:2)!  Binne hierdie punt wat Jesus wil maak, tref Hy ʼn vergelyking met Noag se tyd (24:37vv).  Net soos die mense daardie tyd nie gereed was nie en net aangegaan het met hul alledaagse lewens, netso sal die mense ook aan die gang wees met die alledaagse wanneer Christus weer kom.  Hy neem die vergelyking ook verder – net soos wat Noag gered is omdat hy gereed was (en in die ark kon ingaan), maar dié wat nie gereed was nie, deur die vloed weggesleur is, so sal dit met Christus se koms ook wees.  Sommiges sal gereed wees, maar ander nie.  Die wat gereed is, word “saamgeneem” (asof hulle die ark ingegaan het, bloot ʼn metafoor daarvoor dat hulle gereed is en daarom die oordeel vryspring).  Die wat nie gereed is nie, word “agtergelaat” (ʼn metaforiese manier om te sê hulle gaan wel veroordeel word, net soos die mense in Noag se tyd, omdat hulle nie gereed was toe die oordeel aangebreek het nie).  “Saamgeneem” en “agtergelaat” word dus nie letterlik bedoel nie, maar is die verlenging van die Noag-vergelyking, en dui bloot op “verlossing” vs. “veroordeling”.

Die teksgedeelte self verkondig dus nie die idee van die wegraping nie.  Wanneer die wegrapingsidee van buite af by die teks ingelees word, lyk dit egter of dit mooi pas, omdat die woorde “saamgeneem” en “agtergelaat” soveel dieselfde klink as die wegrapingsidee!  Hiervoor moet ʼn mens egter baie versigtig wees!  Want “dieselfde klink” is nog nie “dieselfde” nie.  (Dink maar aan kere wat jyself iemand misverstaan het, omdat dit wat gesê is jou aan iets anders laat dink het wat baie dieselfde “klink”!)  Praat die teksgedeelte (Matteus 24:36-44) self van gelowiges wat “weggeruk” word om die Here tussen hemel en aarde te ontmoet, of dat die kerk die groot verdrukking gaan vryspring?  Nêrens nie.  Gevolglik moet die wegrapingsidee nie so maklik daarin raakgelees word op grond van oppervlakkige ooreenkomste (“klink dieselfde”) nie.  Dis ʼn resep vir misverstand.  Ook hier is dit dus waar dat, wanneer die idee van die wegraping van buite af op hierdie teksgedeelte toegepas word, die teks eintlik geforseer word om iets te sê wat dit nie bedoel nie. 

 

Outeur: Ds Dirk Venter