As ‘n Christen afvallig word – kan hy/sy nooit weer terugkom nie!?

As ‘n Christen afvallig word – kan hy/sy nooit weer terugkom nie!? – Kobus Kok

Helene vra:
Kan u asseblief vir my meer duidelik gee oor Hebreërs 6:4-6? Kan dit met ‘n wedergebore Christen gebeur en op wie het dit betrekking? Baie dankie.

Antwoord:
Dr. Kobus Kok antwoord:

As ‘n Christen afvallig word – kan hy/sy nooit weer terugkom nie!?
Perspektiewe op Hebreërs 6:4, 6

In Hebreërs 6:4-9, volgens die Ou Afrikaanse vertaling, lees ons:
Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het-om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak. Want die grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val, en nuttige plante voortbring ter wille van hulle vir wie dit ook bewerk word, het deel aan die seën van God. Maar as dit dorings en distels oplewer, deug dit nie en is naby die vervloeking-die einde daarvan is verbranding.

In hierdie gedeelte poog die skrywer van Hebreërs om op oortuigende wyse retories die lesers te waarsku teen afvalligheid. Dit het in die vroeë kerk gebeur dat sommiges die geloof waartoe hulle gekom het, verlaat het. In die lig hiervan sê die skrywer dat dit onmoontlik is vir dié wat eers een keer die liefde en genade van God beleef het om ooit weer tot bekering te kom as hulle na hulle bekering weer ongelowig word. Daar moet egter in gedagte gehou word dat die wat afvallig word dit self doen en self die keuse teen God maak. Die skrywer gebruik die Griekse woord adunaton (onmoontlik), wat definitief ‘n sterk manier is om die saak ondubbelsinnig te stel dat dit onmoontlik is om terug te keer. Wat die skrywer hier bedoel is nie dat God hulle nie sal vergewe of dat daar nou een of ander onoorbrugbare kloof vir altyd sal bestaan nie. Die skrywer gebruik twee metafore – die een tipe mens is soos vrugbare grond (Hebreërs 6:7) en die ander tipe mens is soos dorre land (Hebreërs 6:8). Diegene wat die geloof verwerp het, is soos die dorre land wat nie vrug dra nie. Die skrywer probeer die leser oortuig om nie soos diegene te wees wat soos ‘n dorre land is nie. Die wat soos die vrugbare land is sal vrug dra – hulle sal hoop, geloof en liefde as deel van hulle lewe uitleef. Ons moet die hele NT in hierdie verband lees. Neem byvoorbeeld die geval van Petrus wat na sy verloëning van Jesus deur die verrese Jesus self herstel word, of vir die ongelowige Thomas wat in Johannes 20 deur Christus ‘n tweede kans gegee is.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok




Die “wettelose mens” en die opstand teen God kort voor die Wederkoms

Die “wettelose mens” en die opstand teen God kort voor die Wederkoms – Dirk Venter

Willie Esterhuizen vra:

In 2 Tessalonisense 2 vanaf vers 3 praat Paulus. Hy sê:” Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die opstand eers gekom het nie en die wettelose mens , die mens wat vernietiging bring , na vore getree het nie .” My vraag is wat beteken die opstand waarna hier verwys word en wie die wettelose mens is?

Antwoord:

Ds. Dirk Venter antwoord:

Die “wettelose mens” en die opstand teen God kort voor die Wederkoms

‘n Leser vra: “In 2 Tessalonisense 2 vanaf vers 3 sê Paulus: ‘Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die opstand eers gekom het nie en die wettelose mens, die mens wat vernietiging bring, na vore getree het nie.’ My vraag is wat beteken die opstand waarna hier verwys word en wie die wettelose mens is.” (Aangehaal uit die Nuwe Lewende Vertaling).

Die opstand waarna hier verwys word, word in die Nuwe Afrikaanse Vertaling (1983) vertaal as “die laaste afvalligheid”. Dit gaan oor die tydperk kort voor die Wederkoms van Jesus Christus, wanneer goddeloosheid en opstand teen God erg sal toeneem en ‘n hoogtepunt sal bereik. Matteus 24 en 25 vertel ons baie van wat Jesus Self oor hierdie tyd gesê het, soos byvoorbeeld dat God dit gelukkig sal inkort (Matteus 24:22). Sekerlik die hartseerste van hierdie tydperk, is dat mense wat met die evangelie bekend is, ook van God en Christus sal wegdraai en deel sal word van die opstand teen Hom (vgl. Matteus 24:10-13).  Allerlei vals profete en vals christusse sal verskyn en hulle sal selfs wondertekens verrig om die mense daardeur te mislei. Gelukkig sal dit nie vir hulle moontlik wees om die uitverkorenes van God te mislei nie, al sal hulle probeer (Matteus 24:24), want die uitverkorenes is dié wat (in teenstelling met die afvalliges) wel “die waarheid liefgehad en tot hul redding aanvaar het” (2 Tessalonisense 2:10; ook 2:13-17) en wat tot die einde toe sal volhard (Matteus 24:13).

Die “wettelose mens” wat in hierdie tyd sal verskyn, is die laaste in ‘n lyn van verskeie “antichriste” wat deur die eeue heen teen God en Christus opgetree het, en hy sal die ergste van hulle almal wees (vgl. 1 Johannes 2:18, 2 Johannes 7). Hy sal, as agent van die Satan, bekragtig wees om wonders te doen en mense te mislei (2 Tessalonisense 2:9-10). Hy sal homself ook bo alle ander gode en als wat heilig is verhef en voorgee dat hy God is (2:4). Tog is hy van die begin af reeds bestem vir die verderf (2:3), en hy sal meteens deur Christus verdelg word wanneer Hy terugkeer (2:8).

Baie van dit wat in 2 Tessalonisense 2 van die “wettelose mens” gesê word, se wortels is terug te vind in die boek Daniël (Daniël 7 en 8), en na alle waarskynlikheid is die eerste historiese persoon op wie hierdie prentjie van toepassing was, ‘n man met die naam Antiogus (IV) Epifanes (175-164 vC). Hy was heerser van die ryk van die Grieks-Seleukiede, wat Israel op daardie stadium oorheers het. Dié man het besluit om die Joodse geloof te vernietig deur die Jode te dwing om die Griekse godsdiens en kultuur aan te neem en hulle te verbied om langer gehoorsaam te wees aan die wet van Moses. Baie Jode hét gevolglik vergrieks en dus as’t ware afvallig geword (dit wil sê: in opstand gekom teen God en sy wet). Die boek 1 Makkabeërs (apokrief, waarskynlik tussen 134 en 104 vC geskryf) vertel ons baie van hierdie geskiedenis, insluitende van laasgenoemde afvalligheid (1 Makkabeërs 1:11-15, 43). As deel van Antiogus se program van vergrieksing, het hy die Joodse offers in die tempel verbied, sowel as die hou van die godsdienstige feeste en die sabbat. Hy het ook al die boeke met die wet van Moses wat sy manne in die hande kon kry, laat opskeur en verbrand. In die plek hiervan moes die Jode nou heidense feeste vier en offers bring op heidense altare wat hy oral laat oprig het. Hy het selfs sovêr gegaan as om die altaar van God in die Allerheiligste van die tempel te laat afbreek, en ‘n afgodsaltaar vir Zeus daar te laat bou, waarop daar maandeliks offers gebring is.

In 2 Tessalonisense 2 voorsien Paulus, gelei deur die woorde van die profeet Daniël en van Jesus Self en deur die inspirasie van die Gees, dat hierdie geskiedenis homself in vele opsigte gaan herhaal. Net soos wat daar voor die eerste koms van Christus ‘n tyd van erge afvalligheid en ‘n besondere “wettelose” regeerder was (wat hom teen God verset het en verhef het bo al wat heilig is), so sal dit weer wees kort voor Christus se Wederkoms ook, tot die ergste mate ooit.

 

Skrywer: Ds Dirk Venter




OORDEEL OOR DIE SONDAARS EN DIE HERSTEL VAN JERUSALEM

OORDEEL OOR DIE SONDAARS EN DIE HERSTEL VAN JERUSALEM – Marius Nel

Japie Erasmus vra:

Goeie môre. Ek lees Jesaja 65.Wat is die uitleg van die hoofstuk. Vanaf vers 17 staan daar ook gebeure wat gaan kom wat ek graag meer oor sal wil weet. Baie dankie

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

 

OORDEEL OOR DIE SONDAARS EN DIE HERSTEL VAN JERUSALEM (65:1-66:14)

Hierdie gedeelte verskaf die antwoord op die vraag in 64:12 of die Here nie in die nood gaan ingryp nie. God gaan onreg uitroei. Eers beklemtoon die profeet dat God se oordeel lei tot ‘n

nuwe skepping (65:1-25). Dan sê hy dat die dood van die sondaars lei tot nuwe lewe vir Sion (66:1-14).

 

GOD SE OORDEEL EN DIE NUWE SKEPPING (65:1-25)

God se oordeel en die nuwe skepping

Lees Jesaja 65:1-25

God antwoord op die twyfelvrae van die profeet in die voorafgaande hoofstuk. Hy kondig aan dat Hy oor die mense gaan oordeel. Vir die sondaars wag daar onheil, maar vir die gehoorsames ‘n heerlike toekoms. God gaan ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde tot stand bring. Op die nuwe aarde wag daar ‘n geseënde toekoms op God se volk.

 

65:1-5 God se genade, die volk se ondankbaarheid. God het getrou vir sy volk gesorg. Hy het sy wil aan hulle geopenbaar. Hy het van sy kant af voortdurend die kloof tussen Hom en Israel oorbrug en vir hulle gesê: Hier is Ek. Hier is Ek. Israel het egter nie daarop gereageer nie. Hulle was afsydig. Hulle het Hom nie in die gebed gesoek of Hom aangeroep nie. God het gedurig sy hande uitgesteek na die opstandige volk.

Telkemale het hulle God se hand van genade weggestoot en afgode aanbid (65:3). Hulle het die dooies geraadpleeg in plaas van vir God (vgl 8:19; Deut 18:11) en onrein kos geëet (vgl 66:17; Lev 11:7-8, 19:7; Deut 14:3 en 8; Eseg 4:14). Dan is hulle boonop skynbaar vroom en beskou mense wat nie aan hulle misdrywe meedoen nie, as onrein. Sulke optrede maak die Here woedend. Mense wat God se hand van genade wegklap, moet wéét dat oordeel op pad is.

 

65:6-7 God voltrek die oordeel. Dit staan by God vas: Ek gaan ingryp, Ek gaan hulle straf. Hulle hele geskiedenis is ‘n geskiedenis van verkeerde optrede. Hulle sit die sonde van hulle voorvaders voort. Dié sonde behels veral die aanbidding van afgode op die berge en heuwels – die altare van die Kanaäniete (vgl 57:7; Eseg 6:13; Hos 4:13). Mense wat God se genade doelbewus ignoreer, kry die straf wat hulle verdien.

 

65:8-10 God se dienaars leef. God oordeel nie voor die voet nie. ‘n Druiwetros wat nog sap in het, word nie weggegooi nie, want dit het nog nut. So sal God sy dienaars, dié wat vra na God se wil, nie verwerp nie. Op hulle wag voorspoed en oorvloed. Hulle sal die land weer in besit neem, God se dienaars sal daar woon. Van die Saronvlakte in die weste tot by die Akorvlakte in die ooste sal hulle beeste wei. Hierdie belofte geld egter net dié wat vra na God se wil.

65:11-12 Die afvalliges gaan ten gronde. Teenoor die voorspoed wat die Here se kinders geniet, gaan dié wat van die Here afvallig geword het, ten gronde. Hulle het die Here verlaat. Hulle het die afgode Gad en Meni aanbid. Beide was Kanaänitiese gode van geluk of lotsbeslissing. Omdat hulle hulle bestemming deur ‘n afgod wou laat bepaal, bestem God hulle nou vir die oordeel. Die dood wag op hulle, want toe God geroep het, het hulle nie geantwoord nie, toe Hy gepraat het, het hulle nie geluister nie. Hulle is self vir hulle ondergang verantwoordelik.

 

65:13-16 Die lot van dienaars en afvalliges. Die profeet vat die voorafgaande verse saam. Daar is ‘n groot verskil tussen die lot van God se dienaars en dié van die afvalliges. Die dienaars van God ken geen honger of dors nie. Hulle is bly. Dit gaan met hulle goed. Daarteenoor gaan dit sleg met die ongehoorsames. Hulle ly honger, het dors, staan teleurgestel, skreeu van pyn en huil van hartseer. Hulle sal ‘n voorbeeld wees van hoe dit met ‘n mens gaan wat vervloek is. Hulle gaan ten gronde, maar vir dié wat Hom dien, gee God ‘n nuwe toekoms. Hulle sal in sy Naam bid en in sy Naam ‘n eed aflê, want Hy is getrou. God verseker hulle dat die swaarkry van vroeër vergete sal wees. God self laat dit verdwyn.

 

65:17-25 ‘n Nuwe hemel en ‘n nuwe aarde. Die swaarkry verdwyn omdat God ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep. Hierdie tema word ‘n belangrike belofte in die Nuwe Testament (vgl 2 Pet 3:13; Op 21:4). Dit gaan nie om die vernietiging van die ou aarde nie, maar om ‘n totaal nuwe begin wat God met sy mense maak. Die oorsprong van die voorstelling lê in Jesaja 43:18-21.

In die nuwe bedeling verbind God hom opnuut aan sy volk. Daarom kan hulle bly wees en sonder ophou jubel. God skep ‘n Jerusalem … wat vol blydskap is, ‘n nuwe Jerusalem waaruit God self vreugde sal put. Hartseer, honger en ontydige sterftes sal nie meer voorkom nie. Die mense sal nie meer tevergeefs werk nie, maar die vrug van hulle arbeid geniet. Hulle sal huise bou en self daarin woon, wingerde plant en self die druiwe eet. Die volk sal so oud word soos ‘n boom. Dit simboliseer voorspoed en vrugbaarheid (vgl Job 14:7; Ps 1:3, 92:12-13; Jer 17:8; Eseg 19:10). Die Here sal hulle en hulle nageslag oorvloedig seën. En Hy sal so naby aan hulle wees, dat Hy antwoord nog voordat hulle roep. Terwyl hulle nog praat, sal Hy hulle gebed verhoor.

Die profeet roep die beeld van totale harmonie in die skepping, waarvan Jesaja jare gelede gepraat het (vgl Jes 11:6-9), weer in herinnering. Op die nuwe aarde sal die wolf en die lam … saam wei, die leeu sal strooi vreet soos ‘n bees, en stof sal die kos van die slang wees. Vyandskap en vernietiging verdwyn. Op God se heilige berg sal niks verkeerds gedoen word nie, niks vernietig word nie, sê die Here.

 

Skrywer: Dr Marius Nel

 




Wie het vir God gemaak as Hy alles gemaak het?

Wie het vir God gemaak as Hy alles gemaak het? – Kobus Kok

 

Suzanne vra:

My dogtertjie van 10 worstel met die vraag en ek weet nie hoe om haar te antwoord sodat sy dit sal verstaan nie. Sy wil by my weet: As God alles gemaak het, wie het dan vir God gemaak?

Antwoord:

Dr. Kobus Kok antwoord:

Wie het vir God gemaak as Hy alles gemaak het?

Dr. Kobus Kok

‘n Mamma se 10 jarige dogtertjie wil weet wie het vir God gemaak as God alles gemaak het? Nou ja, dit is ‘n goeie vraag! Daar is twee maniere om te die vraag te beantwoord. Die een is om te kyk wat die Bybel self daaroor sê en die ander een is om logiese denke aan te wend.

In die Bybel sien ons dat niemand vir God gemaak het nie omdat God nog altyd daar was (Openbaring 1:4). Alles wat vandag bestaan, is egter deur God gemaak. Voordat enige iets bestaan het in ons wêreld was God alreeds daar (Psalm 90:2). In Exodus 3:14 wil Moses graag weet wie God is en dan antwoord God hom: “Ek is wat Ek is”. God was nog altyd daar. As daar niks was nie, sou daar mos nooit iets gewees het nie. Kom ons maak gou ‘n sommetjie: Niks + Niks = Niks. Daar moes met ander woorde iets gewees het om iets anders te kon skep, of hoe? So, daarom was God eers daar en toe is alles daarna geskep. God is, was en sal altyd wees (Openbaring 1:4). Niemand kan dus probeer om hom vas te vang in ‘n boksie nie. God is net te groot daarvoor. Die probleem is net dat ons dit dikwels moeilik vind om te verstaan. Dit is soos die mensies wat in papierland in ‘n tweedimensionele wêreld woon. Een dag probeer hulle om vir mekaar te verduidelik hoe ‘n waatlemoen in die drie dimensionele wêreld van mense lyk. Die een teken toe ‘n sirkel met pitte in en die ander een teken ‘n groot ovaal vorm met pitte in.

rondovaal

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

‘n Reuse stryery het uitgebreek in papierland en mense het in twee dorpe gaan bly waar sommiges die ronde-waatlemoen leier gevolg het en ander die ovaal-waatlemoen leier en hulle het nooit weer met mekaar gepraat nie en oorlog gehou. Eendag kom iemand uit die driedimensionele wêreld en vertel vir die mense dat elkeen van hulle eintlik iets van die waarheid beet het. ‘n Waatlemoen is rond én ovaal. Sommige mense in die papierwêreld het die man uit die driedimensionele wêreld van mense geglo en opgehou oorlog hou. Hulle was diegene wat geglo het, al het hulle nie heeltemal verstaan nie.

Net so wil ons weet hoe God alles gemaak het maar dat God self nie gemaak is nie. Ons is mense wat in papierland woon. Ons sal dit nooit regtig kan verstaan nie. Ons kan alleen maar net die Bybel glo omdat Jesus vir ons kom wys het dat God alles gemaak het, dat hy die begin én die einde, die alfa én die omega is. Niemand het Hom gemaak nie, maar tog het hy alles gemaak.

Kom ons bid saam: Here, dankie dat u my gemaak het. Dankie dat u my geken het voor ek nog gebore was. Mag ek iemand wees wat altyd so leef dat u tevrede sal wees.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok