Die Groot Geloofswoordeboek: Koninkryk van God en Bose Magte

Die Groot Geloofswoordeboek: Koninkryk van God en Bose Magte

Jesus se stryd teen die duiwel en hier­die bose magte, en veral sy oorwinning oor hulle, is dié voor­beeld van die koms van die ko­ninkryk van God. Geen ander faset van Jesus se aardse bediening word meer beklemtoon in die Evangelies as juis sy duiweluitdry­wing (eksorsisme) nie. En die betekenis wat Jesus daaraan heg, is nog belangriker as die blote feit dat dit gebeur het. Wanneer Jesus ‘n bose gees uit ‘n man dryf, verklaar Hy uitdruklik dat dit is hoe die koninkryk van God kom (Matt 12:28; Luk 11:20).

Daar word taamlik algemeen aanvaar dat die kern van Jesus se boodskap was dat die koninkryk van God naby is. Dit is ook sy “in­tree­preek”; dit is ook Johannes s’n (Matt 3:2; 4:17). Onder “koninkryk” kan ons “heerskappy” verstaan. Maar die feit dat Jesus aankondig dat God se heerskappy naby is, impliseer dat Hy nie op daardie stadium regeer het nie. Wat het dan met sy heerskappy gebeur?

Die Ou Testament is vol van die boodskap dat die Here ko­ning is, dat Hy oor alle volke koning is, dat alle volke voor Hom moet buig en dit inderdaad in die toekoms sal doen. Sy wêreldwye heer­skappy spreek alreeds uit die feit dat die Bybel nie met sy volk Israel begin nie, maar met die skepping van die hele wêreld. Dit plaas Hom dadelik in die unieke posisie van Skepper en Heerser oor almal en alles. Later beloof Hy aan Abraham dat alle volke in hom geseën sal wees, wat nogeens beteken dat sy gesag oor alle volke strek.

Dit is ‘n buitengewone gedagte vir daardie tyd omdat dit ‘n tyd was waarin elke volk sy eie god gehad het en gode binne se­kere grense gesag gehad het. Maar Israel was oortuig dat hulle God oor alle volke gesag het (Deut 32:8). God is koning oor die hele aarde (Ps 47:3, 8); daarom behoort alle volke aan Hom (Ps 87:4), moet alle volke Hom dien (Ps 72:11) en sal alle volke uit­eindelik na Jerusalem stroom om Hom daar te aanbid (Jes 2:2-5). Hy is selfs koning oor al die gode (Ps 95:3).

Met dit in gedagte is dit tog vreemd dat Johannes die Doper en Jesus albei aankondig dat die koninkryk (heerskappy) van God op hande is. Hy is dan koning. Alle volke behoort dan aan Hom. Waarom moet sy heerskappy nog kom?

Maar dan vergeet ons dat daar tussen die Ou en die Nuwe Tes­tament dinge gebeur het. Die apokaliptiese literatuur (*Apo­kaliptiek) het tydens en na die ballingskap na vore gekom met die oortuiging dat die bose magte op aarde oorgeneem het en be­sig is om die mense en die natuur te verwoes. Dit is in hierdie atmosfeer dat Jesus optree. Daarom is daar so dikwels sprake van bose magte in mense se lewens. Trouens, daar is geen ander faset van Jesus se aardse bediening wat soveel beklemtoon word as sy genesings deur eksorsisme nie. Dit beteken eenvoudig dat Hy die mensdom kom bevry het van die bose magte wat op aarde oorgeneem het en God se heerskappy verduister het. Jesus kom dan deur sy dui­weluitdrywing die heerskappy (koninkryk) van God herstel.

Hierdie perspektief is nie tot die Evangelies en tot Jesus se aard­se optrede beperk nie. Paulus interpreteer ook sy kruisiging en op­standing in hierdie terme. (*Versoening) God het deur die *kruis en *opstanding van Jesus die bose magte ontwapen en van hulle ‘n openbare spot gemaak (Kol 2:15). Deur die opstanding is Christus verhef hoog bo alle bose magte (Ef 1:21).

Dit beteken nie dat die duiwel en sy magte daarna geen invloed meer kon uitoefen nie.

In Handelinge gaan die apostels voort om wonderwerke te doen en bose magte uit mense te dryf (4:30; 5:12-16; 6:8; 16:16 ev). Hierdie stryd gaan voort. Die duiwel en sy magte bly gevaarlik. Die duiwel word voorgestel as ‘n honger leeu wat mense wil opvreet. Die ge­lowiges moet hom in die geloof teenstaan (1 Pet 5:8). Hulle het ‘n stryd wat nie teen mense is nie, maar teen die magte in die lug. Daarvoor het hulle die volle wapenrusting van God nodig om tot die einde toe sterk weerstand te kan bied (Ef 6:10 ev).

Dit beteken dat Jesus wel die duiwel oorwin het, maar dat hy nog nie vernietig is nie, en nog met sy verwoestingswerk in mense se lewens voortgaan. Maar Jesus se oorwinning beteken dat ons die duiwel in die Naam van Jesus kan teenstaan en oorwin. Sekere groepe Christene het nog altyd getuienisse van eksorsisme wat steeds voortgaan. Terwyl die duiwel nou reeds oorwin is, sal hy eers aan die einde volkome uitgeskakel word (Op 20:10). Só sal die koninkryk (heerskappy) van God in sy volheid aanbreek op die *nuwe aarde.

‘n Mens kan dus redeneer dat die koninkryk in ‘n sekere sin reeds gekom het, maar ook nog kom, en ook eers in die toekoms finaal sal kom. Maar ons kan ten ene male nie die koms van die koninkryk verstaan sonder die donker agtergrond van die duiwel en die bose magte nie.

 

Kan ons nog aan ‘n duiwel glo?

Dit maak die vraag na die dui­wel en die bose magte in ons dag baie belangrik. Kan ons regtig vandag nog aan dié vreemde fi­guur en sy trawante glo? Is die duiwel nie eenvoudig deel van ‘n verouderde wêreldbeskouing soos die drieverdieping-*wêreld­beeld nie?

Bepaalde voorstellings van die duiwel en die bose magte is se­kerlik nie meer sinvol nie. Maar oor die feit van ‘n bonatuurli­ke geestelike mag in baie vorme kan ons nie maklik twyfel nie. Dis ‘n byna universele godsdienstige oortuiging. En gedurende die af­gelope eeu het ons aaklige voorbeelde gehad van mense wat deur ideologie gedryf is tot wandade wat bomenslike proporsies aan­ge­neem het. Dink maar net aan Hitler, die Kommunisme en apart­heid. Is dit nie skrikwekkende voorbeelde van bomens­like magte wat mense in hul greep kry en tot absolute onmenslik­heid dryf nie? Is mense regtig uit hul eie tot sulke afgryslike wandade in staat? Mis­kien is dit na die twintigste eeu makliker as ooit tevore om te aanvaar dat daar bose magte is wat mense in hul greep kry.

Intussen is dit interessant om die wêreldbeeld en die duiwel met mekaar te vergelyk. Ons sien maklik af van die wêreldbeeld, maar ons hou vas aan die bestaan van die duiwel. Is dit konse­kwent? Waarom die een en nie die ander nie? Om twee redes. Eer­stens lê hulle op twee verskillende vlakke. Die wêreldbeeld lê op die vlak van die natuurwetenskappe, en hulle het kontroleer­bare bevindings wat die drieverdieping-wêreldbeeld ongeldig maak. Maar die bose magte werk nie op so ‘n vlak nie. Daar is nie sulke bevindings moontlik nie. Elke openbaring van die bose magte kan ook aan ander faktore toegeskryf word.

Tweedens hou die wêreldbeeld op geen manier verband met die hart van die evangelie nie. Ons verloor niks as ons dit prysgee nie. Dit het nie teologiese betekenis of verband met Jesus Christus nie. En dit is twee van die maatstawwe wat ons voorgestel het om te onderskei tussen dit wat wesenlik is in die Bybel, en dit wat randsake is. (*Gesag van die Bybel, *Kreasionisme) Daarteen­oor staan die bose magte in direkte verband met die hart van die evangelie, met Jesus se aardse optrede, die betekenis van sy kruis en opstanding, en die koms van die koninkryk wat die kern van sy boodskap is.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Vrees God?

Vrees God? – Dirk Venter

Andre vra:

Iets wat my al ‘n geruime tyd pla, is al die verse in die Bybel wat sê “Vrees/Fear God.” Ek is God se kind en weet dat Hy my liefhet, hoekom staan daar “Fear God” Kan u my dalk help hoe om bogenoemde te verstaan

Antwoord:

Ds. Dirk Venter antwoord:

Vrees God?

Die konsep van die “vrees vir God / die Here” is algemeen in die hele Bybel, en veral in Deuteronomium, die Psalms en die Wysheidsliteratuur (bv Spreuke). Om dit reg te verstaan, moet ‘n mens die “andersheid” van God in gedagte hou. God is nie ‘n mens nie: Hy is almagtig, groot, ontsagwekkend. ‘n Mens kon nie sommer maar net voor sy aangesig verskyn, asof jy met ‘n vriend of dalk ‘n menslike koning gaan praat nie, want jy sou sekerlik sterf (vgl. Eksodus 19:20-22, 1 Konings 19:11-13 ens.)  Om hierdie rede was daar telkens ‘n element van skrik betrokke wanneer God Homself op ‘n manier aan mense openbaar het. Dink bv. aan die brandende bos (Eksodus 3:6) en die verskyning van God op Sinaï (Eksodus 20:18). Om die Here te “vrees” beteken dus om groot ontsag en respek vir Hom te hê, want Hy is die Almagtige God.

Hierdie “vrees vir die Here” staan egter nie teenoor ons liefde vir die Here of sy liefde vir ons nie. Kyk net hoe mooi verduidelik Deuteronomium 10:12-13 (OAV) hoedat “vrees vir die Here” juis beteken om Hom lief te hê: “En nou, Israel, wat eis die HERE jou God van jou as net om die HERE jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die HERE jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel, om te hou die gebooie van die HERE en sy insettinge…“. ‘n Diepe ontsag en respek vir God sluit dus ook liefde vir Hom in. En natuurlik word hierdie groot respek wat ons vir God het, wat ook ons liefde vir Hom insluit, ons diepste motivering om Hom te gehoorsaam en te lewe op so ‘n manier dat dit Hom verheerlik. Dis dus nie omdat ons vir God bang is, of bang is dat Hy ons gaan straf, dat ons aan Hom gehoorsaam is nie, maar omdat ons Hom respekteer en liefhet en daarom wil doen wat Hy van ons verlang!

Hoewel aardse ouers nie altyd goeie voorbeelde is nie, kan ons ontsag en liefde vir God tog vergelyk word met kleiner kindertjies se ontsag en liefde vir hul (goeie) pa. Klein kindertjies is bewus daarvan dat hul pa ‘n “grootmens” is, en hulle is nog kindertjies – hy is anders as hulle, hy weet meer en beter, hy is sterker ens. Daarvoor het hulle respek. Verder handhaaf ‘n goeie pa ook die nodige dissipline ten opsigte van sy kinders, met die gevolg dat sy kinders hom respekteer en gehoorsaam, en weet wanneer hulle besig is om ‘n kans te vat! Te midde hiervan het hulle hul pa lief, en hy vir hulle. Om ‘n diepe ontsag en respek vir jou pa / Hemelse Vader te hê, staan dus nie teenoor die liefde wat julle vir mekaar het nie, maar is eintlik juis deel van dieselfde pakket.

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Here

Die Groot Geloofswoordeboek: Here

Here

  • Adon, Adonai Jahwe/Jehovah Kurios

Dit gaan hier oor die Naam van God. Elders is oor *God ge­skryf.

Die titel “Here” word in die Bybel in drie betekenisse ge­bruik.

1.            Dit is ‘n vertaling van die Naam van God (Jahwe).

2.            Dis ‘n vertaling van die Hebreeus (Adon, Adonai) vir heer­ser/ gebieder/eienaar.

3.            Dis ‘n vertaling van die Griekse woord kurios wat heerser, be­skikker kan beteken.

 

  • Adon, Adonai

Die Hebreeuse woord Adon beteken heer/ge­bieder, en staan teenoor slaaf/bediende. In die Ou Testament word net die vorm Adonai vir God gebruik en met “Here” vertaal.

El Shaddai word in die 1983-vertaling met “die almagtige God” weergegee, maar die betekenis van shaddai is onseker. Dit kan afgelei wees van woorde wat sterk of hoog of genoeg beteken.

Jehovah Jireh moet eintlik Jahwe Jireh wees. Dit kan iets beteken soos die Here sien of die Here sal voorsien.

 

  • Jahwe/Jehovah

Jahwe of Jehovah is die Naam van God. Dit is die Naam wat ons nie mag misbruik (ydellik gebruik) nie. Ons kan dit met ‘n sagte g uitspreek: Jagwe. Dit is in die 1953-vertaling met “Here” vertaal om dit te onderskei van die titel “Here” (Adonai) sodat ons die ou bekende “Here Here” gekry het, wat dus iets beteken het soos: Die heer/beskikker/eienaar Jahwe. In die 1983-vertaling is Ja­hwe egter, net soos Adonai, met “Here” vertaal. Dit sou beteken dat die ou bekende dubbelvorm dan “Here Here” sou wees, met geen onderskeid meer tussen ‘n titel vir God (Adonai) en sy Naam (Ja­h­we) nie. Miskien is dit die rede waarom die 1983-vertaling toe die dubbelvorm vertaal het met “die Here my God” of soms “Here my God”. Dit is egter nie regtig meer ‘n vertaling van die He­breeus nie en het die besef dat God ‘n Naam het, heeltemal verdof. Die Afrikaanse woord “Here” is immers ‘n titel en nie ‘n naam nie. Dis dus nie vreemd dat mense dink as iemand die woord “God” as stopwoord gebruik, hy of sy die Naam van God misbruik nie. Dis nie korrek nie. “God” is nie ‘n eienaam nie. Sy Naam wat ons nie mag misbruik nie, is Jahwe. Maar dis natuurlik ook nie aanvaarbaar om die woord “God” links en regs rond te gooi nie.

 

Uitspraak

Daar is nie sekerheid oor die oorsprong of betekenis van die Naam Jahwe nie, selfs nie oor die uitspraak nie. Uit eerbied vir sy Naam het die Jode dit nooit gebruik nie. Omdat die Hebreeuse Bybel net medeklinkers gehad het en geen klinkers nie, het hulle later nie meer geweet hoe dit uitgespreek moet word nie. Daar het net JHWH gestaan. Jy sal ook nie weet hoe om ls uit te spreek nie. Is dit los, las, lis, of lus? Vroeër het geleerdes gemeen dit was Jehovah, maar vandag meen hulle dis Jahwe met ‘n sagte g, iets soos Jagwe.

 

Betekenis

Wat die betekenis betref, is daar ook onsekerheid. Die wyse waar­op dit in die gebeurtenis van die brandende doringbos gebruik word, word verskillend geïnterpreteer. Moses vra aan God wat sy Naam is. Hy antwoord: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur” (Eks 3:14). Sommige meen God wil hiermee juis nie sy Naam gee nie. “Ek is wat Ek is” is nie ‘n naam nie. God is so totaal anders as ons dat Hy glad nie ‘n naam het nie.

Maar ander wys op die ooreenkoms tussen die Naam Jahwe en die Hebreeus vir “Ek is”. Hulle meen daar is genoeg ooreenkoms dat ‘n mens kan aanvaar dat daar ‘n verband in betekenis is en dat ons hier by die doringbos-gebeurtenis inderdaad ‘n doelbewuste woordspeling tussen “Ek is” en Jahwe het.

In Hebreeus word ‘n vorm van “is” gebruik om ‘n verhaal in te lei. In die 1953-vertaling het ons nog soms iets gelees soos: “Dit het gebeur dat … ” As die Naam Jahwe hiervan afgelei is, kan dit be­te­ken dat God daarmee wil beklemtoon dat Hy dinge laat gebeur, dat Hy betrokke is. Dit sou dan verband hê met die verbond waarin Hy Hom aan ons verbind het om ons God te wees wat vir ons ver­ant­woordelikheid aanvaar het.

  • Kurios

Kurios is deurgaans (in die Griekse Ou Testament en Nuwe) met “Here” vertaal as dit vir God/Jesus/die Gees gebruik word. Dit word ook vir mense gebruik en is dan gewoonlik vertaal met woor­de soos werkgewer, eienaar, baas, en in aanspreekvorm met me­-neer (Luk 16:3, 5, 8; Matt 10:24; 20:8; 15:27; 13:27).

 

Kurios is van die vroegste tye af gebruik vir iemand wat mag/gesag/outoriteit het; iemand wat oor ander beskik. Dit is ook van vroeg af vir gode gebruik, en later vir die keiser in Rome. In die Griek­se vertaling wat die Jode van die Ou Testament gemaak het, die *Septuagint, is sowel Adonai as Jahwe met Kurios vertaal. Die Nu­we Testament (Grieks) het die Septuagint hierin gevolg, en die mees­te Westerse vertalings ook. Slegs hier en daar, en veral in By­bel­vertalings in sendingsituasies in die negentiende en vroeg twin­tigste eeu, is die Naam van God behou en wel in die vorm Jehovah en nie Jahwe nie. Hierdie vertalings is die enigste wat die besef helder laat deurkom dat God ‘n Naam het. Nóg in Afrikaans, nóg in ander Westerse tale, nóg in Grieks skep kurios die indruk van ‘n Naam. Dis ‘n titel: Meneer/Here/Lord.

Dit sal wonderlik wees as ons ‘n vertaling kan kry wat ons be­wus maak dat God ‘n Naam het. Ek kan nie sien waarom die Naam Jahwe nie gebruik kan word nie. In vertalings in Afrikatale het Jehovah goed gewerk.

 

Skrywer: Prof Adrio König




OORDEEL OOR DIE SONDAARS EN DIE HERSTEL VAN JERUSALEM

OORDEEL OOR DIE SONDAARS EN DIE HERSTEL VAN JERUSALEM – Marius Nel

Japie Erasmus vra:

Goeie môre. Ek lees Jesaja 65.Wat is die uitleg van die hoofstuk. Vanaf vers 17 staan daar ook gebeure wat gaan kom wat ek graag meer oor sal wil weet. Baie dankie

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

 

OORDEEL OOR DIE SONDAARS EN DIE HERSTEL VAN JERUSALEM (65:1-66:14)

Hierdie gedeelte verskaf die antwoord op die vraag in 64:12 of die Here nie in die nood gaan ingryp nie. God gaan onreg uitroei. Eers beklemtoon die profeet dat God se oordeel lei tot ‘n

nuwe skepping (65:1-25). Dan sê hy dat die dood van die sondaars lei tot nuwe lewe vir Sion (66:1-14).

 

GOD SE OORDEEL EN DIE NUWE SKEPPING (65:1-25)

God se oordeel en die nuwe skepping

Lees Jesaja 65:1-25

God antwoord op die twyfelvrae van die profeet in die voorafgaande hoofstuk. Hy kondig aan dat Hy oor die mense gaan oordeel. Vir die sondaars wag daar onheil, maar vir die gehoorsames ‘n heerlike toekoms. God gaan ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde tot stand bring. Op die nuwe aarde wag daar ‘n geseënde toekoms op God se volk.

 

65:1-5 God se genade, die volk se ondankbaarheid. God het getrou vir sy volk gesorg. Hy het sy wil aan hulle geopenbaar. Hy het van sy kant af voortdurend die kloof tussen Hom en Israel oorbrug en vir hulle gesê: Hier is Ek. Hier is Ek. Israel het egter nie daarop gereageer nie. Hulle was afsydig. Hulle het Hom nie in die gebed gesoek of Hom aangeroep nie. God het gedurig sy hande uitgesteek na die opstandige volk.

Telkemale het hulle God se hand van genade weggestoot en afgode aanbid (65:3). Hulle het die dooies geraadpleeg in plaas van vir God (vgl 8:19; Deut 18:11) en onrein kos geëet (vgl 66:17; Lev 11:7-8, 19:7; Deut 14:3 en 8; Eseg 4:14). Dan is hulle boonop skynbaar vroom en beskou mense wat nie aan hulle misdrywe meedoen nie, as onrein. Sulke optrede maak die Here woedend. Mense wat God se hand van genade wegklap, moet wéét dat oordeel op pad is.

 

65:6-7 God voltrek die oordeel. Dit staan by God vas: Ek gaan ingryp, Ek gaan hulle straf. Hulle hele geskiedenis is ‘n geskiedenis van verkeerde optrede. Hulle sit die sonde van hulle voorvaders voort. Dié sonde behels veral die aanbidding van afgode op die berge en heuwels – die altare van die Kanaäniete (vgl 57:7; Eseg 6:13; Hos 4:13). Mense wat God se genade doelbewus ignoreer, kry die straf wat hulle verdien.

 

65:8-10 God se dienaars leef. God oordeel nie voor die voet nie. ‘n Druiwetros wat nog sap in het, word nie weggegooi nie, want dit het nog nut. So sal God sy dienaars, dié wat vra na God se wil, nie verwerp nie. Op hulle wag voorspoed en oorvloed. Hulle sal die land weer in besit neem, God se dienaars sal daar woon. Van die Saronvlakte in die weste tot by die Akorvlakte in die ooste sal hulle beeste wei. Hierdie belofte geld egter net dié wat vra na God se wil.

65:11-12 Die afvalliges gaan ten gronde. Teenoor die voorspoed wat die Here se kinders geniet, gaan dié wat van die Here afvallig geword het, ten gronde. Hulle het die Here verlaat. Hulle het die afgode Gad en Meni aanbid. Beide was Kanaänitiese gode van geluk of lotsbeslissing. Omdat hulle hulle bestemming deur ‘n afgod wou laat bepaal, bestem God hulle nou vir die oordeel. Die dood wag op hulle, want toe God geroep het, het hulle nie geantwoord nie, toe Hy gepraat het, het hulle nie geluister nie. Hulle is self vir hulle ondergang verantwoordelik.

 

65:13-16 Die lot van dienaars en afvalliges. Die profeet vat die voorafgaande verse saam. Daar is ‘n groot verskil tussen die lot van God se dienaars en dié van die afvalliges. Die dienaars van God ken geen honger of dors nie. Hulle is bly. Dit gaan met hulle goed. Daarteenoor gaan dit sleg met die ongehoorsames. Hulle ly honger, het dors, staan teleurgestel, skreeu van pyn en huil van hartseer. Hulle sal ‘n voorbeeld wees van hoe dit met ‘n mens gaan wat vervloek is. Hulle gaan ten gronde, maar vir dié wat Hom dien, gee God ‘n nuwe toekoms. Hulle sal in sy Naam bid en in sy Naam ‘n eed aflê, want Hy is getrou. God verseker hulle dat die swaarkry van vroeër vergete sal wees. God self laat dit verdwyn.

 

65:17-25 ‘n Nuwe hemel en ‘n nuwe aarde. Die swaarkry verdwyn omdat God ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep. Hierdie tema word ‘n belangrike belofte in die Nuwe Testament (vgl 2 Pet 3:13; Op 21:4). Dit gaan nie om die vernietiging van die ou aarde nie, maar om ‘n totaal nuwe begin wat God met sy mense maak. Die oorsprong van die voorstelling lê in Jesaja 43:18-21.

In die nuwe bedeling verbind God hom opnuut aan sy volk. Daarom kan hulle bly wees en sonder ophou jubel. God skep ‘n Jerusalem … wat vol blydskap is, ‘n nuwe Jerusalem waaruit God self vreugde sal put. Hartseer, honger en ontydige sterftes sal nie meer voorkom nie. Die mense sal nie meer tevergeefs werk nie, maar die vrug van hulle arbeid geniet. Hulle sal huise bou en self daarin woon, wingerde plant en self die druiwe eet. Die volk sal so oud word soos ‘n boom. Dit simboliseer voorspoed en vrugbaarheid (vgl Job 14:7; Ps 1:3, 92:12-13; Jer 17:8; Eseg 19:10). Die Here sal hulle en hulle nageslag oorvloedig seën. En Hy sal so naby aan hulle wees, dat Hy antwoord nog voordat hulle roep. Terwyl hulle nog praat, sal Hy hulle gebed verhoor.

Die profeet roep die beeld van totale harmonie in die skepping, waarvan Jesaja jare gelede gepraat het (vgl Jes 11:6-9), weer in herinnering. Op die nuwe aarde sal die wolf en die lam … saam wei, die leeu sal strooi vreet soos ‘n bees, en stof sal die kos van die slang wees. Vyandskap en vernietiging verdwyn. Op God se heilige berg sal niks verkeerds gedoen word nie, niks vernietig word nie, sê die Here.

 

Skrywer: Dr Marius Nel