Psalm 4

image_pdfimage_print

 

The first duty of love is to listen – Paul Tillich

 

Psalm 4

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.]

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Hierdie psalm is ‘n gebed. Daar is geen aanduiding in die psalm wie hier bid nie. Daar is heelwat dubbelsinnighede wat maak dat ons die psalm moeilik interpreteer totdat ons die laaste vers gelees het. Uit ondervinding weet die psalmis dat God gebede antwoord en mense seën en daarom kry ons ‘n persoonlike versekering dat hy God vir die toekoms vertrou. Hy dring by ander daarop aan om nie hulle toevlug tot mindere hulpbronne te neem nie.

 

Vers 2 is ‘n dringende pleidooi. Die psalmis aanvaar dat daar ‘n persoon tot persoon kommunikasie tussen God en die persoon wat bid, is. Terwyl ons nog praat, hoor en reageer God reeds. Die basis vir sy oortuiging is die God wat my reg handhaaf. Die basis vir hierdie pleidooi word verder uitgebou: in die noute het U vir my ruimte gemaak. Die laaste reël van die vers sluit in twee versoeke: Wees my genadig en hoor my gebed. Die psalmis glo dat as hy net God se aandag kan kry, sal alles verander.

 

In verse 3 – 6 is daar geen eksplisiete pleidooi nie, maar wel ‘n implisiete pleidooi dat God mense met ‘n verkeerde gesindheid sal verander. Die psalmis hanteer nou sy menslike moeilikheidmakers. Hy het vertroue in God en poog om hulle sover te kry om hulle weë te verander. Die psalmis se eer word deur die mense geskend. Hierdie teenstanders het nietigheid lief en wat hulle najaag is vals. Hulle vertrou op iets wat hulle nie kan help nie.

 

In vers 4 stel die psalmis die ware feite: Julle moet weet dat die Here wonders doen vir sy getroue volgelinge; die Here hoor wanneer ek na Hom troep. Die Here is die enigste God wat werklik luister. Hierdie aandrang op die regte gesindheid by sy vriende word in vers 5 voortgesit. Sidder, moenie sondig nie – sidder is die regte reaksie as ek my aan God onderwerp. Dink daaroor na op julle beddens en wees stil. In die privaatheid van jou slaapkamer kan jy dink en dinge sê wat jy nie in die openbaar kan uitdruk nie. Wees stil beteken dat ek my aan God onderwerp. Bring die gepaste offers en stel julle vertroue in die Here. As ek my na die Here keer, word dit gekenmerk deur die regte aanbidding en vertroue.

 

In vers 7 – 9 word God weer aangespreek. Baie mense vra ‘n vraag: Wie sal ons weer die goeie laat beleef? Wie kan jy vir seëninge vertrou? Hierdie is in wese ‘n retoriese vraag. Laat tog die lig van u teenwoordigheid oor ons skyn, Here. Hierdie is ‘n versoek dat Aäron se seën (Numeri 6:24 – 26) geïmplementeer moet word.

 

Mense wat op Baäl vertrou het, het voorspoed geniet. Die psalmis kry wel vreugde in my hart. Hierdie innerlike vreugde se oorsaak sien ons in vers 9: In vrede kan ek gaan lê en aan die slaap raak, want net U, Here, laat my veilig woon. Die Here se gawe strek verder as innerlike vreugde – dit beteken ook ek is veilig teen my vyande. Net U, Here, is die basis vir die stelling van vertroue. Die Here is die enigste God van belang.

 

Die psalm eindig met ‘n stelling dat die Here welstand en sekerheid sal voorsien. Op die oomblik is dit ander mense wat welstand geniet. Hulle sê dit is omdat hulle ander hulpbronne as die Here het. Die psalm begin deur by die Here te pleit om dit reg te stel. Die psalmis wil ander oortuig om sy vertroue op die Here te deel en nie elders vir hulp te kyk nie.

 

 

image_pdfimage_print