Bevorder die belange van die stad

image_pdfimage_print

We have grown in numbers, wealth and power as no other nation has ever grown. But we have forgotten God –  Abraham Lincoln

Bevorder die belange van die stad

Jeremia 29:1 – 7 is ‘n brief wat Jeremia aan die leiers van die ballinge in Babel geskryf het. Hierdie brief word met die hand deur Elasa en Gemarja afgelewer. In hierdie brief kry ons merkwaardige eise van die profeet. Ten tye van hierdie brief was Jeremia al meer as veertig jaar lank ‘n profeet. Vir jare al verkondig hy dat God kwaad is vir die Jode, want hulle het hulle nie aan die rantfigure in die samelewing gesteur nie. Hy het dan ook vernietiging en ballingskap voorspel.

 

Wat die ballinge gepla het, was hoe lank die ballingskap sou duur en wat moet hulle wat in ‘n heidense stad vasgevang is, doen. Hulle verwag dat Jeremia sou sê dat hulle ‘n afstand tussen hulle en die heidene moet hou. En dan die skok as die brief daar aankom. Die aanhef: So sê Ek, die Here die Almagtige, die God van Israel, vir al die ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel toe weggevoer het.  Kan mos nie wees nie … het God hulle na Babel weggevoer? Politiek en militêre mag het niks met die saak te doen nie.

Daar is egter ‘n kwellende probleem: Hier sit ons nou in ballingskap, maar ons wil eintlik weet wat ons hier moet doen en vir hoe lank ons dit moet doen. In Hoofstuk 28 het Jeremia en die vals profeet Ganaja gebots. Ganaja het gesê dat die volk in ballingskap weggevoer sou word, maar net vir ‘n kort tydjie. Dit sal nie te erg wees nie. Jeremia, daarenteen, sê dat die ballingskap lank en vreeslik sou wees.

Vir baie was die brief sekerlik ‘n skok: Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring. Julle moet daar in Babel baie word, nie min nie Dit beteken hulle gaan ‘n geruime tyd in ballingskap bly. Hoe lank? Lank genoeg om te trou en kinders en kleinkinders te hê. Dan: Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange. Bid vir die heidense stad? Hoe kan Jeremia so iets verwag? Hy kan, want God is ook die God van Babel. Daarom moet hulle vir die Babiloniërs bid.

Ons leef in ‘n wêreld en land wat toenemend divers word. Daar is groot getalle vlugtelinge – ook in ons land. Hoe moet ons reageer op hulle teenwoordigheid hier tussen ons. Ons moet vir hulle bid – ook bid vir vrede in hulle nuwe stede. Ons moet ons lewens vir hulle oopmaak. Net so sal ons almal die vrede van God ontdek.

image_pdfimage_print