Dag 23: Van Woord tot Woord dieselfde

image_pdfimage_print

 

Dag 23: Van Woord tot Woord dieselfde

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

Die Evangelie volgens Johannes begin met Jesus, maar nie Jesus in ‘n krip of van skaapwagters wat vir Jesus kom besoek nie, maar voor tyd – iets wat vir ons onverstaanbaar is. Voordat Jesus mens geword het, staan Hy as die Woord van God bekend. Jesus as Woord demonstreer iets wonderlik vir ons – iets van die God wat die heelal skep uit niks nie. Hy verklaar slegs hulle bestaan en hulle is daar. God gee aan ons die gawe om by Hom in sy skeppingsproses aan te sluit. Hoe? Deur woorde wat lig versprei en lewe verklaar.

 

Vanaf die eerste koms van die Woord van God deur die menswording sien ons ‘n God wat nie net waardes verkondig nie, maar wat waardes in en deur Homself beliggaam. Hy is nie ‘n God wat net verklaar nie; sy hele wese word deur die Woord uitgedruk. Jesus as Woord is nie iets wat God sommer gesê het nie; Jesus as Woord is die tasbare demonstrasie van wie God is. Verkondiging bevestig die werklike teenwoordigheid van God.

 

Wat beteken dit om kinders van God te wees? Ons sluit by God aan om lig na die wêreld te bring deur ons woorde, veral deur die Woord, Jesus, te verkondig. As ons deelneem deur Jesus te verkondig, neem ons deel aan sy menswording toe lig en lewe na die wêreld toe gekom het.

 

Om Jesus hierdie Kersseidoen te verkondig is een manier waardeur ons by God kan aansluit om lig en lewe uit niks na die wêreld te bring. Dit is goeie nuus. Jesus sal ‘n tweede keer as Woord geopenbaar word (Openbaring 19:11 – 13). Jesus as Woord sal eendag die wêreld herskep deur oordeel. Hy sal ‘n nuwe begin verklaar – alles sal nuut wees. Ons deel in God se skeppings- en herskeppingswerk as ons die Woord aan die wêreld verkondig.

Hy was in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore (Johannes 1:10 – 13).

 

 

 

image_pdfimage_print