Die betekenis van getalle in drome – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Vraag

Leilanie vra:

Ek wil net weet of u dalk vir my meer inligting kan gee oor getalle in drome en in die Bybel. In my droom was die getal 647.

Antwoord:

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Drome word dikwels in die Bybel deur God gebruik om sy wil aan mense bekend te maak. So lees ons van die Here wat aan Abimelek in ’n droom bekendmaak dat hy nie by Sara, die vrou van Abraham, mag slaap nie (Gen 20:3). So ook wanneer die Here aan Salomo in ’n droom verskyn en Hy vir Salomo vra wat dit is wat hy van Hom verlang (1 Kon 3:5). En die engel wat in ’n droom aan Josef die opdrag gee om Maria as sy vrou by hom te neem (Matt 1:20), en later om Maria en die Kind Jesus te neem en na Egipte te vlug (Matt 2:13).

Drome is egter nie die normale manier waardeur God sy wil aan ons bekendmaak nie. Daarvoor het ons die Bybel. Wie dus net wil staatmaak op drome en allerlei bonatuurlike maniere om God se wil te bekom, bewandel ’n ongehoorsame paadjie. As ’n mens nie bereid is om na Moses en die profete (= die Bybel) te luister nie, sal jy ook nie luister nie al staan daar iemand uit die dood op om met jou te praat (Luk 16:31). (Lees gerus wat ons ook elders op Bybelkennis.co.za oor drome te sê het; tik “drome” in by die soekfunksie en lees die verskeidenheid van artikels wat beskikbaar is.)

Ons vraagsteller verwys verder spesifiek na getalle in drome. Dié kom nie baie in die Bybel voor nie. Ons kry wel die volgende gevalle: Josef lê die farao van Egipte se drome uit toe die farao droom van sewe vet en sewe maer koeie/koringare, wat dan uitgelê word as alternatiewelik sewe goeie oesjare en sewe jare van misoeste en hongersnood (Gen 41). So is daar ook Daniël wat in ’n visioen verneem dat daar 70 tydperke sal wees waarin Jerusalem opgebou sal word, maar dat aan die einde hiervan ’n bose koning sal kom wat die Jode wreed sal verdruk (Dan 9:20-27). (Uit die geskiedenis weet ons dit was Antiogus IV Epifanes.) In genoemde gevalle het die getalle in die drome dus spesifieke verwysings gehad na jare en tydperke.

Getalle buite die konteks van drome kom egter dikwels in die Bybel voor. In algemene kontekste, byvoorbeeld as verwysing na die afstande tussen dorpe, het dit uiteraard ’n letterlike betekenis. Maar die telwyse is soms anders as vandag. Drie is dikwels nie ’n voltal nie, maar word opgemaak uit die begin, ’n voltal en die afsluiting, waar die begin en afsluiting nie noodwendig ’n voltal is nie. Byvoorbeeld, as daar gesê word dat Jesus drie dae in die graf was, dan is dit eintlik net die Vrydagmiddag en -nag, die hele Saterdag en die vroegoggend van Sondag. Volgens ons telling eintlik nie vol drie dae nie, maar vir die antieke mens wel.

Getalle word ook baie as simboliese aanduidings in die Bybel aangewend. So het die getalle vier, ses, sewe, tien, 1 000 en 144 000 in die boek Openbaring almal simboliese betekenis. Vier in Op 4:6 verteenwoordig die hele skepping; ses is die getal van die mens, met 666 as die uiterste vorm van die mens in sy opstand teen God (Op 13:18); sewe en tien is getalle wat afgerondheid en volledigheid uitdruk (bv Op 1:20; 2:10); 1 000 (bv Op 20:3) is opgemaak uit 10x10x10 en het te make met ’n afgeronde tyd waar die evangelie ten volle sy loop neem op aarde; 144 000 is opgemaak uit 12x12x10x10x10. 12×12 verwys na die twaalf stamme van Israel en die twaalf apostels, en 10 tot die mag drie is die totale voltal van alle gelowiges.

’n Mens sou natuurlik kon sê dat hierdie getalle in Openbaring wel in ’n “droom” voorkom omdat die hele boek eintlik ’n visioen is (Op 1:10). En visioene is soms moeilik te onderskei van drome. ’n Mens kan wel sê dat drome normaalweg in ’n gewone slaaptoestand voorkom (bv Matt 1:20) terwyl visioene eerder ’n soort sinsverrukking is wat nie noodwendig aan ’n slaaptoestand gekoppel is nie (bv Hand 9:3-7). Maar na my mening behoort ons nie die getalle van die boek Openbaring te sien as iets wat in gewone droom voorkom nie, gesien die aard van Openbaring as apokaliptiese literatuur met besondere visioenêre eienskappe. Die slotsom is dus dat getalle in drome nie baie voorkom in die Bybel nie.

Laastens, wat die betekenis sou wees van die getal 647 in ons vraagsteller se droom het ek geen idee nie. Na my beste wete is dit nie ’n getal wat in die Bybel voorkom nie. Ek kan my dus nie daaroor uitspreek nie. Maar in die lig van bostaande uiteensetting, en wat elders oor drome geskryf word op ons webblad, Bybelkennis.co.za, sou ek versigtig wees om besondere betekenis daaraan te heg.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...