Die Evangelie volgens Lukas: Die profetiese rede (Luk 21:5-38) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Dit is Lukas se tweede profetiese rede. Die eerste staan aan die begin van die derde afdeling van sy reis na Jerusalem (Luk 17:20-37). In Matteus 24-25 en Markus 13 vorm dit deel van hulle profetiese rede aan die einde. In die eerste rede van Lukas het dit gegaan oor die plotselinge verskyning van die koninkryk van God en dat dit onmoontlik is om te voorspel wanneer die Seun van die Mens weer sal kom. In hierdie tweede rede word gewys na God se oordeel wat oor Jerusalem voltrek sal word, en na die verdrukking van die kerk se martelare voor die wederkoms.

 Terwyl dit in Markus en Matteus onduidelik is wanneer Jesus van die eindoordeel en wanneer van die vernietiging van Jerusalem praat, is dit in Lukas duideliker onderskei. Hy beskryf die wederkoms van Jesus, maar maak juis ruimte vir ’n lang tyd voor die wederkoms, wat egter nie hulle waaksaamheid en verwagting van die wederkoms moet demp nie (vgl. bv. met die gelykenis van die waaksame slaaf, Luk 12:35-38). Die gesprek wys Jesus se sekerheid van sy uiteindelike oorwinning deur sy dood, opstanding, hemelvaart en wederkoms, wat Hy al ’n paar maal voorspel het (bv. in Luk. 9:22, 9:44; 18:32-33) Dit word afgesluit met ’n oproep aan al sy volgelinge om waaksaam te wees en hulle nie te laat onderkry deur die probleme van hierdie wêreld nie.

 Profetiese rede: die tempel sal afgebreek word (Luk 21:5-6)

 21:5 Sommige van die mense wat na Jesus kom luister het, maak opmerkings oor die prag van die tempelgeboue waaraan Herodes die Grote 46 jaar gelede begin bou het (vgl. Joh 2:20) en waaraan nog steeds gewerk is tot kort voor 70 n.C. Die mure is versier deur die massiewe granietblokke waarmee die platform van die tempelkompleks en die tempel gebou is, sowel as met ‘offers’ (anathêmata dit wat uitsluitlik toegewy is aan die diens van God), ’n woord wat hier net deur Lukas gebruik is en nie in die ander Evangelies nie. Josefus (Bel. 5.5.6; Ant 15.11.3) vertel dat van die granietblokke tot 45 voorarmlengtes (45 el) lank, 8 hoog en 12 breed was (ongeveer 15×2.7×4 meter). Met die offers word waarskynlik verwys na die versierings. Onder andere het Herodes ’n goue wynstok met goue druiwetrosse wat so groot soos ’n man was, aan die tempel geskenk/geoffer. Die gebou en die diens in die gebou het aan die Jode ’n gevoel van veiligheid en sekerheid gegee, soos in die dae van Jeremia 7:4.

 21:6 Jesus verkondig egter dat daar dae kom dat die tempel totaal en al vernietig sal word – nie een klip sal op die ander gelaat word nie – alles sal afgebreek word, net soos Jeremia (9:11; 26:18) en Miga (3:11-12) destyds, voor die ballingskap na Babel in 594 v.C. oor Jerusalem se vernietiging deur die Babeloniërs voorspel het, en nou gaan dit weer met die tempel gebeur.

 Profetiese rede: misleiding en oorloë (Luk 21:7-11)

 21:7-8 Lukas plaas die gebeure skynbaar nog op die tempelterrein waar ‘sommige’ praat oor die mooi geboue. Hulle het Hom toe gevra ‘Meester, wanneer sal hierdie dinge gebeur (dat die tempel vernietig sal word) en wat is die teken wanneer dit sal gebeur?’ In Matteus 24:3 is dit Jesus se dissipels wat die vrae aan Hom stel nadat hulle op die Olyfberg gaan sit het, soos Markus 13:3 dit geskryf het. Markus identifiseer die vraers as Petrus en Jakobus en Johannes en Andreas. Lukas verkort die berigte en konsentreer slegs op die saak en nie op die besonderhede nie. 

 Jesus gee nie ’n teken nie, maar waarsku sy volgelinge om nie mislei te word deur mense wat hulleself sal aanbied as die Christus, as die ‘Ek is’ en wat sê ‘die tyd is naby’ nie – dat die tyd naby is, is ’n byvoeging van Lukas. Lukas onderskei daarmee duidelik tussen die tyd van die verwoesting van die tempel nog in die leeftyd van baie van sy hoorders (Luk 9:27) en wanneer Hy kom om te oordeel. In Luk 17:23 het Jesus reeds gewaarsku teen valse profesieë oor sy wederkoms. Die waarskuwing is nie slegs vir die Joodse volgelinge van Jesus bedoel nie, maar vir volgelinge uit alle volke, waarna die volgende vers ook verwys.

 21:9-11 Ook oor oorloë en opstande en gerugte moet Jesus se volgelinge nie bevrees raak nie, want dit moet kom. Ook sal nasies teen mekaar optrek en een koninkryk teen ’n ander. Dit is nie buite God se raadsplan nie, vgl. Jes 19:2;

2 Kron 15:6. Daar sal ook hewige aardbewings wees, hongersnood en epidemies, selfs groot en skrikwekkende tekens aan die hemel. Dit is nog nie die einde nie, die einde gaan nie so gou kom nie, en dié dinge is nie tekens dat die finale oordeel naby is nie.  

 [In 61 n.C. was daar ’n groot aardbewing in Frigië; in 63 n.C. was daar ’n aardbewing in Campania en het Vesuvius se lawa ’n deel van Pompeï oorstroom (voor die groot uitbarsting van Vesuvius in 79 n.C.). Daar was wye hongersnood tydens die regerings van Claudius (41-54 n.C.; vgl. Hand 11:28) en Nero (54-68 n.C.). Die Joodse opstand teen Rome het in 66 n.C. begin. Josefus (Bel 6.5.3) en Tacitus (Hist. 5.13) vertel van ‘n teken van ’n leërmag in die lug, en van ’n komeet, in die jare voor die vernietiging van Jerusalem in 70 n.C.].

image_pdfimage_print

You may also like...