Die Evangelie volgens Lukas: Die sorge van die lewe teenoor die koninkryk van God (Luk 12:22-32) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Die gedeelte sluit aan by die vorige waarskuwing dat ’n mens nie uit sy besittings lewe nie, maar sy lewe van God ontvang, van Hom wat ook vir jou lewe sorg. Ná die sonde van selfsug en gierigheid gaan hierdie gedeelte oor die sorge van die lewe, wat daarmee verband hou: Gierigheid kan nooit genoeg kry nie. Kommer is bang dit het nie genoeg nie. Dit stem breedweg ooreen met Matteus 6:25-34; 6:19-21, wat ’n gemeenskaplike bron aandui. Die eerste deel is in digvorm.

12:22 Jesus is nog besig om sy volgelinge te onderrig om hulle toe te rus vir hulle lewe en getuienis in die wêreld ná sy hemelvaart.  Omdat hulle lewe nie van hulle besittings afhanklik is nie, maar van die hand van God, word hulle opgeroep om hulle nie te bekommer oor hulle lewe (psugê om te lewe), wat hulle sal eet, of oor hulle liggaam, wat hulle sal aantrek nie. In ’n wêreld wat in bekommernis oor kos en klere leef kom die opdrag om nie besorg te wees oor kos of klere nie,

12:23 want die lewe is tog belangriker as kos, en die liggaam as klere. Die lewe en die liggaam kom van God af. Hy skenk die lewe en die liggaam van elke mens. Hy sorg ook vir wat die lewe en die liggaam nodig het. Daarom moet die gelowige hom nie daaroor beko mmer nie, maar dit ook in die hand van sy Skepper laat.

12:24 Om dit te verduidelik gee Jesus twee voorbeelde van God se sorg in die natuur, volgens Ps 147:9 en Job 39:3 oor die voeding van die jong kraaie met wit veertjies wat deur hulle ouers verlaat word tot hulle vere swart word, en intussen van die oorblyfsels in die nes moet oorleef, en tot God skreeu om hulp. Die kraaie is onrein diere (Lev 11:18; Deutr 14:14) wat met hulle snawels in dooie en vrot vleis kos soek. Hulle saai nie en maai nie, en het nie ’n stoorkamer of ’n skuur soos die dwase ryk man nie. Tog sorg God vir hulle (Matt 6:25 het ‘die voëls van die lug’). Hy is ook die Skepper en Onderhouer van sy onrein diere – hoeveel meer is julle vir Hom werd as die voëls!

12:25-26 Die ‘een el’ verwys hier nie net na die lengtemaat van die persoon nie, maar veral na die ekstra dae of jare van sy lewenspan, ‘nie een el by sy lewe (hêlikia lewenspan Joh 9:21, vgl.Ps 39:6; liggaamslengte Luk 19:3 ) toevoeg nie.’ God besluit oor jou postuur, die dag van jou geboorte en die dag van jou dood (Gen 6:3; Job 14:5; Ps 39:5-6; 90:10; 139:16; Hand 17:26). Oor sulke kleinighede het ons geen seggenskap nie, daarom hoef ons ons nie oor die onderhoud en behoud van ons lewe te bekommer nie. Dit is in die hand van ons Vader wat ons verlossing en ons daaglikse brood voorsien.

12:27-28 Die tweede voorbeeld raak ons kleding. Dink goed na (katanoeō) hoe die veldblomme (krina) asof vanself groei (pers anemone oordek die Galilese veld in die lente; dink maar aan Suid-Afrika se meer as 18 500 spesies blomme). Hulle word deur God geplant en versorg. Hulle swoeg of spin nie, en is beter geklee as Salomo met sy purper kleed en al sy prag (vgl. 2 Kron 9:3-4; Rigt 8:26 koningspers; Luk 16:19 rykmanspers). Hoe mooi klee God die veldblomme, wat net ’n dag of wat hou voordat hulle deur die son verbrand word of deur mense op die ashoop gegooi word as hulle begin verwelk, of as vuurmaakgoed gebruik word. God, wat in sy onbegrensde volheid so ’n oorvloed op aarde bewerk, hoeveel te meer vir julle? Jesus se volgelinge word opgeroep om hulleself aan God toe te vertrou. Hy kan aan die mens, die kroon van sy werke, die regte kleding verskaf. Wie Hom nie daarvoor vertrou nie, noem Jesus ‘kleingelowiges’ wat hulleself nie aan hulle wonderlike Vader in volle vertroue oorgee om vir hulle te sorg nie (vgl. Luk 12:6-7).

12:29-30 Die najaag en bekommernis oor wat ons gaan eet of drink, bepaal die lewenswyse van al die nasies van die wêreld. Hulle politiek word ekonomies gedryf. Jesus se volgelinge kan seker wees God is hulle Vader wat hulle nie slegs ken nie, maar weet wat hulle nodig het. Daarom is die sorge en bekommernis oor kos en klere en die ekonomie onnodig, ’n bewys van kleingelowigheid, wat Jesus afwys: moenie daarna soek of julle daaroor bekommer nie!

12:31 Wat die gelowige wel moet doen is om die koningskap van God te soek, wat God as jou koning van jou verwag. Die gelowige se lewe word in ’n ander orde opgeneem: Die sentrale vraag is of jy vir jouself lewe of vir God. As Hy die doel en betekenis van jou lewe is, sal Hy vir jou al hierdie dinge wat nodig is gee. Om sy koninkryk te soek beteken om jou eenvoudig en bestendig onder sy regering te stel en kind te wees by Hom in wie se Vaderhand ons mag lewe.

12:32 Jesus spreek sy volgelinge aan as ’n ‘klein kuddetjie’ waarvan Hy die Herder is. In die vyandige wêreld moet hulle nie bang word omdat hulle ’n minderheid, ’n klein groepie, is nie. Hulle hoef nie bang te wees nie, want hulle Vader het  besluit; Hy het dit goedgedink (eudokeō goeddink, verkies) om aan hulle sy heerskappy te skenk (vgl. Luk 6:20; 10:21). Dit is hulle besondere posisie in die wêreld.

 

Skatte bymekaarmaak in die hemel (Lukas 12:33-34)

12:33  Dié gedeelte staan teenoor die gedeelte oor die ryk dwaas (Luk 12:16-21). Dit verduidelik hoe ’n mens skatte bymekaarmaak in die hemel (vgl Luk 12:21). Lukas plaas dié gedeelte ná die een oor die sorge van die lewe (Luk 12:22-32). Jesus sê jy moet jou besittings wat jy regmatig verdien of geërf het, verkoop, en aalmoese gee (eleêmosunê aan mense in nood as ’n daad van barmhartigheid gee). Vir die Fariseërs het Jesus gesê alles sal vir hulle rein wees deur aalmoese te gee (Luk 11:41). Luk 6:36 sê ook: Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is (vgl. die barmhartige Samaritaan in Luk 10:30-37). Die nuwe soort lewe word met ’n beeld uitgedruk: met beursies wat nie vergaan nie, waaruit geen skat verlore kan gaan nie, die onuitputlike (anekleiptos wat nooit minder word nie) skat in die hemel, waar ‘n dief nie naby kan kom nie, en ’n mot nie kan verniel nie. Die skat bestaan daarin dat God vír jou is (Rom 8:31); dat God vir jou voorsien en jou versorg (Luk 12:24,28,30). Innerlik moet die gelowige vry word van sy besittings. Besittings moet beskou word as God se eiendom wat aan jou toevertrou word om dit te gee waar daar behoefte daaraan is. Jou besittings moet beskikbaar wees vir jou Vader, wat vir jou sal wys waar jy die barmhartigheidswerk moet doen wat Hy op jou weg sal bring. Dan sal jou hande nooit leeg wees vir so ’n diens nie (vgl 2 Kor 9:8-11).

12:34 Wat vir die mens ’n waardevolle skat is, is ’n saak van die hart. Dit waaraan ’n mens se hart verbind is, is sy skat, sy kosbare besitting, wat sy lewe beheer. Vers 33 het gewys na ’n skat in die hemel, waar God is (vgl. Kol 3:1-2). So word die bekommernis oorwin, en waar jou hart is gee die sin van jou hele lewe. ’n Jesusvolgeling se hart (sy wil en denke, ideale en dade) behoort kinderlik aan sy Vader verbind te wees om vir Hom te lewe. Die veiligheid en vryheid van sy hele bestaan is verseker in sy Vader se regering oor sy skepping. Dit is die vaste fondament van sy lewe wat deur geen storm verbreek kan word nie. In die gelykenis wat hierop volg, word die skat in die hemel verder verduidelik.

image_pdfimage_print

You may also like...