Die Evangelie volgens Lukas: Die voorbereiding vir die paasmaal (Luk 22:7-13) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Lukas het Markus 14:12-16 se inleiding vereenvoudig, verkort, en die name gegee van die twee dissipels wat die voorbereiding moes gaan doen. Jesus neem die inisiatief vir die voorbereiding, waaruit sy doelgerigtheid en profetiese volmag blyk – by Mattheus en Markus kom dit van die dissipels af. 

 22:7 Die sameswering teen Jesus het geskied toe die paasfees naby was (22:1). Nou het die dag van die Fees van die Ongesuurde Brood aangebreek, en op dié dag moet die paaslam geslag word.

 Volgens Eks 12:2,6 moet die lam in die eerste maand van die Joodse godsdienstige jaar, op die veertiende dag van die maand, in die namiddag, geslag word (so ook in Lev 23:5; Num 9:2-3; Deutr 16:1-2; lg. noem die maand Abib. Ná die ballingskap verander die naam van die maand na die Persiese naam Nisan, vgl. Nehemia 2:1; Ester 3:7). Die paasmaaltyd word dan die aand gehou. Met sononder begin die nuwe dag volgens die Joodse kalender wat met maandjare werk (vgl. bv. Gen 1:5 ens. ‘dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag’).  Die paaslammers word dan die middag van die 14de Nisan geslag en die paasvierings begin na sononder met die aanbreek van 15 Nisan, en duur die hele nag.

 [Markus, Mattheus en Lukas plaas die voorbereiding vir die paasmaal op Donderdag, en die Pasga self toe Goeie Vrydag aanbreek met sononder op Donderdag. Johannes plaas die voorbereiding op Vrydag toe Jesus aan die kruis sterf as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh 1:29 op dieselfde tyd toe die Jode die paaslammers slag (vgl. Joh 18:28; 19:14).

 Johannes het nie die instelling van die nagmaal en Jesus se gebedsworsteling in Getsemane, soos die ander drie Evangelies nie. Die Donderdagnag klee hy in met ’n lang onderrig deur Jesus aan sy dissipels tydens ’n maaltyd, wat begin met die voetwassing, wat die ander Evangelies nie het nie (Joh 13-17). Hy het egter Jesus se aanwysing van die verraaier aan tafel, en sy gevangeneming in die tuin, ook dat Petrus Jesus sal verloën, op Donderdagaand soos die ander drie.]

 22:8 Jesus stuur vir Petrus en Johannes om die Pasga vir Hom en sy twaalf dissipels die Donderdag voor te berei. Hy gaan die doel van sy koms na die wêreld self vervul (die ander Evangelies noem nie hulle name nie; en laat die inisiatief van die dissipels uitgaan). Die voorbereiding sou insluit om na te gaan of die vertrek sonder enige suurdeeg is (Eks 12:15), om ’n lam sonder liggaamsgebrek te kry, tussen 3-5 nm te slag sonder om ’n been van die lam te breek (Eks 12:46), te braai met kop, pootjies, binnegoed en al (Eks 12:9), te sorg dat daar ongesuurde brood, bitter kruie en wyn is (Gen 12:8), en water vir voete was, ens. (Joh 13:4-5).

 22:9 Die inwoners van Jerusalem was verplig om gratis plek te maak vir die pelgrims, wat in groot getalle na Jerusalem gestroom het, om die Pasga te vier. Petrus en Johannes vra waar hulle vir Jesus en die twaalf moet gaan voorberei. Jesus en sy groep vernag snags op die Olyfberg in die oopte (21:37). 

 22:10 Jesus sê vir hulle, let mooi op terwyl julle die stad ingaan (van die Olyfberg se kant af). ’n Man wat ’n kruik water dra sal op julle afkom (sunantaō om te gebeur, met die implikasie van wat jy sal kry). Volg hom in die huis waar hy ingaan. Die Joodse gebruik was dat die vroue die waterdraers is, maar dit kon ook ’n manlike slaaf gewees het. Maar mans het gewoonlik met velsakke water gedra, en vroue met kruike.

 Hierdie man met ’n kruik water sou ’n uitsondering wees en ’n duidelike aanwysing vir die twee dissipels tussen die massa mense wat in die stad instroom. Daarby word die adres van die huis nie bekendgemaak, sodat Judas die geleentheid kon misbruik om Jesus te verraai nie. Dit sou ’n ideale geleentheid wees om Jesus, ongemerk deur die skare, te arresteer as almal in huise besig was met die Pasga en niemand op straat was nie. Maar Jesus wou nog die Pasga saam met hulle eet en die nagmaal instel en ’n laaste maal sy enger groep rustig onderrig. Daarvoor stuur die Here die man met die kruik wat hulle moet volg.

 22:11-13 En sê vir die eienaar van die huis: ‘Die Leermeester (didaskalos) vra jou, Waar is die gastekamer (kataluma, dieselfde woord wat in 2:7  met ‘herberg’ vertaal is) waar Ek die Pasga saam met my dissipels kan eet?’ Soos Jesus twee van sy dissipels gestuur het om vir Hom die donkievul te gaan haal om Jerusalem binne te ry (Luk 19:29-34), so maak Hy aanspraak op die huiseienaar se gastekamer vir die paasmaal. Daar word baie bespiegel oor hoe dit gekom het dat die gastekamer beskikbaar was. Jerusalemmers het hulle gastekamers vir die paaspelgrims gereed gehou. En hierdie eienaar moes waarskynlik nog wag vir iemand wat dit nodig sou hê.

 Die eienaar sal vir hulle ’n groot gemeubileerde bokamer (anagaion) wys. Die manier waarop vermoënde Jode feesgevier het, was om rondom ’n lae tafel te eet terwyl hulle op hulle linkersye op banke aanlê (anapiptō, vgl. 22:14). So was die groot bokamer waarskynlik gemeubileer om die dertien mense te akkommodeer. Daar moes die twee dissipels vir die Pasga gaan voorberei. Dit was waarskynlik ’n gegoede burger se huis. Daar is bespiegel of dit die plek is waar die dissipels ná Jesus se hemelvaart meermale sou vergader (vgl. Hand 1:13 saam met die vroue; Hand 1:15 met 120 mense?; 2:1-2 met die uitstorting van die Heilige Gees?; 4:31? met die vervulling met die Heilige Gees?; 12:12 die huis van Maria die moeder van Johannes Markus?).

‘Hulle het gegaan en dit gevind soos Jesus vir hulle gesê het, en hulle het die Pasga voorberei.’

image_pdfimage_print

You may also like...