Die Evangelie volgens Lukas: Jesus genees ’n seun wat ’n onreine gees het (Luk 9:37-43) – Francois Malan

image_pdfimage_print

9:37 Toe die son opkom ná die nag van verheerliking, kom Jesus en die drie dissipels ’n skare mense aan die voet van die berg teë, wat vir Jesus inwag (soos in 5:1,15; 6:17; 7:11; 8;4,40; 9:11). Toe Jesus afdaal, golf die ellende van die mensewêreld weer om Hom heen.

9:38 Die vader van die kind noem Jesus ‘Leermeester’ (didaskalos) en smeek Hom om sy kind te help (epiblepo, spesiale aandag gee aan, help). Lukas is die enigste Evangelie wat aandui dat dit ’n enigste kind is (soos met die weduwee van Naïn, 7:12, en met Jaïrus, 8:42), waarmee die kosbaarheid van die pasiënt vir die ouer onderstreep word, sowel as die dringendheid van die saak.

9:39 Die seun se toevalle lyk baie na epilepsie, maar word veroorsaak deur onrein geeste. Lukas beskryf die vader se lang verduideliking van wat die onreine alles met sy seun aanvang: hy laat hom skielik skreeu, stuiptrekkings kry, skuim om die mond, hy verniel hom, en los hom nie maklik nie (Mark 9:17 maak hom stom, skuim om die mond, kners op die tande, stuiptrekkings; Mat 17:15: erge maansiek, val in die vuur en in die water).

9:40 Al drie die Evangelies vertel van die onvermoë van die nege agtergeblewe dissipels om die seun te genees. Hulle was op die proef gestel as leerlinge van die groot Geneser, maar het jammerlik misluk. Vir hulle veldtog in Galilea was hulle met mag en gesag oor demone en siektes toegerus, en met vreugde het hulle van alles wat hulle gedoen het kom vertel (Luk 9:1,10). Maar nou het hulle geloof in en vertroue op Jesus gewankel, en kon hulle niks vir die kind doen nie (in Joh 15:5 oor die lote in die wynstok sê Jesus: sonder My kan julle niks doen nie). Hulle het vergeet dat dit alleen God is wat kan genees, en dat dit ’n gawe is wat slegs geskenk kan word (in Mark 9:29 sê Jesus: hierdie soort kan met niks anders as met gebed uitgedryf word nie).

9:41-42 Jesus antwoord met ’n kreet ‘O ongelowige en ontaarde (diastrefo misleide, weggedraai van die regte pad) geslag!’ en vra met smart: ‘Hoe lank moet Ek nog by julle bly en julle verdra?’ Die ‘geslag’ verwys waarskynlik na al die mense wat al na Hom kom luister het. Hy treur oor die mense se gebrek aan geloof in Hom en in wat Hy verkondig. Hulle sien die wonders wat Hy doen, maar erken dit nie as tekens van die teenwoordigheid van God by hulle nie, en as ‘n oproep om bekering tot God as vereiste vir hulle lewe nie (vgl. Num 14:27).

Jesus sê vir die pa: Bring jou seun hier. Die demoon laat vir ’n laaste keer die seun val en stuiptrekkings kry om Jesus se mag voor die skare te toets. Jesus bestraf egter die onrein gees en gee die kind gesond aan sy pa terug. Die hele skare sien hoe die onrein gees die kind beheer, hoe Jesus die gees uitdryf, en beleef hoe Jesus se heerlikheid, sy Godheid, wat op die berg geopenbaar is, in barmhartigheid toegepas word.

Lukas skilder die skrille kontras tussen die drie wat hulle verheug in die lig van God op die berg, en die nege wat oorwin is deur die magte van die duisternis in ’n wêreld sonder Christus. Maar die heerskappy van Jesus is in altwee gevalle helder duidelik.

(Die Italiaanse skilder Rafael het hierdie toneel soos Markus dit beskryf in 1516-1520 geskilder met Jesus se stralende heerlikheid verhewe in die lig, Moses en Elia weerskante onder Hom, die drie heilige dissipels wat op die berg slaap, en onder in die duisternis die stuiptrekkende kind, omring deur hulpelose dissipels en spottende nuuskieriges. Dit verbeeld die harde wêreld, die magtelose heilige apostels en die hoë heerlikheid van Jesus Christus, wat na onder afstraal in die duisternis).

9:43a Almal is verstom oor die grootheid (megaleiotês magtige krag) van God (’n opmerking slegs in Lukas), wat deur Jesus se daad bewys word. In Jesus word die groot krag van God geopenbaar. Jesus trek nie die aandag na Homself toe nie, maar bring die verheerliking van God na die mense om God te prys.

 

Jesus se tweede aankondiging van sy lyding (Luk 9:43-45)

9.43b Almal, die groot skare volgelinge wat Hom ingewag het (9:37), is nog verbaas oor alles wat Jesus gedoen het. Dit verwys na alles wat Hy in Galilea gedoen het.

9:44 Jesus druk dit op sy volgelinge se harte om goed te luister na wat Hy gaan sê (letterlik: plaas hierdie woorde in julle ore). Die woorde van Jesus, onder andere oor sy aanstaande lyding wat deur Hom vooruit aangekondig word, kom soos ’n skok na die skare. Dit is bedoel om hulle geloof in Jesus te dra deur die duister dae wat gaan kom in die wete dat Hy dit al vooraf gesê het (vgl. Jes 41:16; 44:7; 45:21). Waar die eerste aankondiging aan die twaalf gedoen is, is hierdie tweede aankondiging van sy lyding voor al sy volgelinge: ‘want die Seun van die Mens gaan in die hande van mense oorgelewer word. Hierdie Mensekind gaan deur mense verwerp en vertrap word. Op hierdie oomblik van lig en algemene bewondering van Jesus, antwoord Jesus met die verwysing na sy eksodus in hierdie duister wêreld, om die lig te bring, soos met die genesing van die kind. Lukas verwys egter nie na Jesus se opstanding, soos met die eerste aankondiging nie (Luk 9:22; Mark 9:31 en Mat 17:23 het dit wel by hulle tweede aankondiging). Die voorspelling van sy opwekking in 9:22 word deur Lukas omraam met twee aankondigings van die lyding van die Seun van die Mens  (9:22 deur die leiers, en 9:44 deur die mense).

9:45 Die skare verstaan egter nie die betekenis van Jesus se lyding nie, want die betekenis daarvan was vir hulle verberg  sodat hulle dit nie kon begryp nie. Die perfektiewe passiewe deelwoord ‘was verberg’ (parakekalumménon) beteken dat God dit vir hulle verberg het, en dat dit verborge gebly het tot Hy dit vir hulle sou openbaar (vgl. Luk 24:26-27,33). Volgens die wil van God bly Jesus eensaam met sy lydensgeheim, en die eensaamheid is deel van sy lydensweg. Jesus se dissipels/volgelinge was te bang om vir Jesus uit te vra na die betekenis van ‘dat Hy oorgelewer gaan word.’ Dit was so teen hulle verwagting van Hom, en hulle ideale oor Hom (Luk 19:11; 24:21). Hierdie was die tweede kort berig oor die stadige begrip van Jesus se volgelinge.

image_pdfimage_print

You may also like...