Die Evangelie volgens Lukas: Jesus word gedoop (Luk 3:21-22) – Francois Malan

image_pdfimage_print

3:21-22 Hoewel Luk 3:20 reeds vertel dat Johannes opgesluit is, vertel Lukas hier van Jesus se doop deur Johannes. Dit sluit aan by 3:3 se berig, nog voordat Johannes in die tronk gegooi is. Lukas skryf  nie wat Johannes of Jesus voor die doop gesê het, of dat Johannes Hom met water gedoop het, soos Markus en Matteus nie, maar oor wat God na die doop gedoen en gesê het.

Lukas plaas Jesus se doop saam met die ‘hele volk’ met wie Jesus Hom kom identifiseer. Met die massabeweging van die volk na Johannes toe, verlaat Jesus sy timmermanswerk vir sy taak waarvoor Hy gekom het. Johannes doop Jode wat tot bekering wil kom met die oog op die vergewing van sondes wat Jesus kom bewerk (Luk 3:3). Deur Johannes se doop word Jesus ‘soos ons in alle opsigte versoek, en dit sonder dat Hy gesondig het (Hebr 4:15). Hy vereenselwig Hom met ons swak en sondige lewe en gaan met ons en vir ons onder die oordeel van God (Jes 53:5,8,11,22; Rom 4:25) vir die vergewing van ons sondes.

Die hemel het oopgegaan (vgl. Jes 64:1 se versugting) terwyl Jesus gebid het, met sy Vader in gesprek was (Dit staan nie in Mark 1:10 en Mat 3:16 nie; hulle vertel net wat gebeur het toe Jesus uit die water opkom). Dwarsdeur Lukas se Evangelie en Handelinge word gebed beklemtoon.  Hier word die neerdaling van die Heilige Gees die antwoord van sy Vader op sy gebed. So word Jesus die eerste wat met die Gees gedoop word as beeld van die doop met die Heilige Gees wat Jesus vir ons bewerk (vgl. Luk 3:16). Hy wat deur die Gees ontvang is (1:35) ontvang die Gees as Leier en Gewer van die krag om te verkondig (Luk 4:1,14,18). Die Gees kom in die gestalte van ’n duif (opreg/onskuldig soos duiwe, Mat 10:16; vgl. Noag se duif wat die goeie nuus bring, Gen 8:11).

Die stem uit die geopende hemel verseker vir Jesus van sy Seunskap en sy ampswerk as Seun van God. Hy is die Messias, d.w.s. Gesalfde, tot Hoëpriester, die Middelaar tussen die Vader en die mensdom (vgl. Hebr 4:14-16). Die stem is ook deur die skare gehoor sodat die wêreld sal weet dat Hy God se geliefde Seun is, oor wie die Vader hom verheug (Ps 2:7 praat van die inhuldiging van die gesalfde koning as God se seun; Jes 42:1 en Jes 53 van die dienaar van die Here wat verbrysel word oor ons sondes). Die stem uit die hemel verbind Jesus se koningskap en sy knegskap. Hy kom as God se gesalfde Koning wat in God se koninkryk regeer, wat ook die lydende Kneg van die Here is om ons sonde op Hom te neem. Die Jode verwag ’n koning wat hulle sal verlos uit die hand van die Romeine, maar nie ’n Kneg wat vir hulle ly nie. Die heerlikheid van sy Seunskap gaan juis op die pad van die lydende Kneg van die Here as bewys van die liefde van God vir die mensdom.

Jesus is ontvang deur die Heiige Gees (1:35) en is deur die Gees gelei in sy ontwikkeling (2:49,51), maar met sy doop wrd Hy toegerus vir sy taak (4:1,14,18). Die stem uit die hemel is nie slegs ’n aanstelling vir sy taak nie, maar ook die goddelike goedkeuring van die lydensweg wat Jesus gekies het om homself deur die doop te verbind aan die sondaars wat vergifnis soek vir hulle sonde. Die stem sê: ‘Oor jou verheug Ek My,’ dat Hy sy lydensweg reeds deur sy doop aanvaar het.

Soos die Kind in die krip ’n teken was van die geboorte van die Verlosser (2:11-12), is die Gees in die gestalte van ’n duif die teken van die genadejaar van die Here wat aangebreek het (4:18-19), en van die koms van die Seun van die Mens wat vir ewig sal regeer (Dan 7:13-14)  om diegene wat verlore is te soek en te red (Luk 15). Hy bring die vergewing van sondes waarvoor Johannes die volk oproep tot bekering (metanoia verandering van denke en optrede, 3:3). Die Gees wat op Hom neerdaal is die Vader se openbare verklaring van sy Messiasskap, met die Gees toegerus vir sy taak om die genade en liefde van God te kom verkondig en te bewys. Vir dié wat in Hom glo het Hy die hemel kom oopmaak en kom toerus met die Heilige Gees vir hulle diens aan God in die wêreld (vgl. 11:13).

image_pdfimage_print

You may also like...