Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (16)

image_pdfimage_print

 

When you desire to be most alive to God, you will generally find sin most alive to repel you. —C.H. Spurgeon

Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens  (16)

Dallas Willard, Professor aan die University of Southern Califonia se School of Philosophy en leraar in die Southern Baptist Church, het ‘n belangrike boek geskryf: The Spirit of the Disciplines. [Hy is onlangs oorlede.] Ek gaan baie op hierdie boek staatmaak in hierdie reeks oor geestelike dissiplines.

Die dissiplines van betrokkenheid

Die dissiplines van onthouding moet met die dissiplines van betrokkenheid gebalanseer en aangevul word. Ons het dissiplines uit beide kategorieë nodig.

Onthouding maak plek vir betrokkenheid.

Aanbidding  

Aanbidding beteken ons is betrokke met, en druk God se grootheid, goedheid, skoonheid uit deur gebruik te maak van woorde, rituele en simbole. Om te aanbid beteken ons sien God as waardig. Ons doen dit alleen of in gemeenskap met ander gelowiges. Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep (Openbaring 4:11); Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang … Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid (Openbaring  5:12 – 13).

In aanbidding word ons deur God self ontmoet – Hy is by ons teenwoordig. Dit lei tot verandering in ons lewens. Dit het met Jesaja gebeur. Jesaja het die Here gesien: Hy het op ‘n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul By Hom was daar serafs om Hom te dien —  die serafs het mekaar telkens toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid (6:1 – 3).

Aanbidding sentreer op Jesus Christus en gaan deur Hom na God. As ons aanbid vul ons ons harte en gedagtes met verwondering oor Hom – sy lewe, dood, opstanding en sy werk as intreder by God.

Feesviering

Hierdie dissipline word dikwels vergeet of misverstaan. Dit gaan oor die grootheid van God en sy goedheid aan ons. Tipies kom ons met ander wat God ken, saam om te eet, drink, sing, dans en stories van God se optrede in ons lewens te vertel. Miriam (Eksodus 15:20), Debora (Rigters 5) , Dawid (2 Samuel 6:12 – 16) is enkele Bybelse voorbeelde. Dit geld ook vir Jesus se eerste wonder in Kana (Johannes 2).

Blydskap en vreugde is ‘n teenmiddel vir wanhoop en ‘n bron van opregte dankbaarheid. Kyk na Deuteronomium 14:26 – 27: Daar moet jy met die geld koop net wat jy wil: bees, skaap, wyn, bier of enigiets anders wat jy wil hê. Dan moet jy en jou familie dit daar in die teenwoordigheid van die Here jou God eet en bly wees. Hoekom? Sodat jy kan leer om die Here jou God altyddeur te eer  (14:23). Geloof in God kan nie gebou of in stand gehou word sonder viering van sy grootheid en goedheid aan ons te midde van swaarkry nie. Kyk na die seënuitsprake in Matteus 5:3 – 12 – selfs diegene wat ons gedink het geruïneer is, word geseën –  diegene wat treur, honger en dors het en dié wat vervolg word.

Feesviering laat ons sorge en ontbering klein lyk soos ons krag kry om God se wil te doen, want sy goedheid word vir ons werklikheid.

image_pdfimage_print

You may also like...