Die Groot Geloofswoordeboek: Die Heilige Gees

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Heilige Gees

Heilige Gees

(*Goddelikheid van die Heilige Gees)

  • Ou Testament Nuwe Testament
  • Ou Testament

Ons kry eintlik twee beskouings oor die verhouding tussen die Gees van God en God in die Ou Testament. Die een is dat die Gees eintlik net die krag van God of God-in-aksie is. Die ander is dat die Gees alreeds ‘n Goddelike Persoon naas God die Vader is.

Die Gees as ‘n Persoon

Kom ons kyk eers na die laaste een: die Gees as ‘n aparte Per­soon naas God. Daar is selfs die gedagte dat ons alreeds die volle Drie-eenheid in Genesis 1 kry. Dink maar aan die “Ons” (1:26), die Gees (1:2), en die woorde (die Woord) wat God spreek as Hy lig maak (1:3). Johannes skryf self ook, met ‘n verwysing na die ewige Seun van God, dat alles deur die Woord geskep is (1:1-3). Daar is in­der­daad uitsprake wat ons kan interpreteer as sou die Gees as ‘n self­standige Persoon naas God optree. Die Gees lei vir Simson (Rig 13:25) en die Gees sal op die *Messias rus en aan Hom wysheid en insig gee, raad en krag, kennis en eerbied vir die Here (Jes 11:2). ‘n Mens kan jou moeilik voorstel dat die Gees net die krag van God is, maar dan wysheid en raad en eerbied aan die Messias gee. Dit is dinge wat ‘n persoon doen. Trouens, hier en daar lyk dit byna of die Gees net ‘n ander benaming vir God is (Ps 139:7 ev; Jes 40:13 ev).

Die Gees as God se krag

Teen hierdie gedagte dat die Gees reeds ‘n aparte Persoon is, is daar twee argumente, en hulle ondersteun die siening dat die Gees van God die krag van God of God-in-aksie is. Die eerste is ‘n aantal uitsprake, en daar is heelwat, wat makliker verstaan kan word as die Gees net die krag van God is. Die Here laat kom ‘n deel van die Gees wat op Moses was, op die 70 wat hom bygestaan het (Num 11:25). Dit kan beswaarlik van ‘n aparte Persoon gesê word dat ‘n deel van Hom op mense kom. Maar dit kan ‘n deel van die krag van God wees. Dit is ‘n tema in Simson se lewe dat die Gees hom sterk maak (Rig 14:6, 19; 15:14). Die Here sal sy Gees in die Israeliete laat ingaan en hulle daardeur in staat stel om sy wet te onderhou (Eseg 36:27). Dink ook aan die Gees wat op of oor die Messias sal kom (Jes 42:1; 61:1). Al hierdie uitsprake pas goed by die gedagte van die Gees as die krag van God.

Die Gees as die krag van God pas ook beter by die feit dat die Jode tot vandag toe nie enigiets oor die Drie-eenheid in die Ou Testament kry nie. Die volle nadruk van die Ou Testament is op die eenheid van God. Dit is juis deel van die boodskap van die Ou Testament teenoor die baie gode van die omringende volke: Net die Here is waarlik God. Waar die *Engel van die Here bespreek word, word ook daarop gewys dat dit nie ‘n voorvorm of voorloper van Jesus is nie. Ons moenie die Nuwe Testament teruglees in die Oue nie. Ons moet die Ou Testament in sy eie reg erken.

Natuurlik kan ons agterna beskou, sê dis nie vreemd nie dat daar hier en daar in die Ou Testament ‘n uitspraak oor die Gees is wat beter verstaan word as die Gees ‘n aparte Goddelike Persoon naas God (die Vader) is. Maar sonder die Nuwe Testament sou niemand op die gedagte van drie Goddelike Persone in een God­delike Wese gekom het nie. (*Drie-eenheid)

Terloops, die meervoud (Ons) van Genesis 1:26 is ‘n pluralis ma­jestatis, ‘n hoogheidsmeervoud. Predikante het in die ou tyd ook so gepraat: “Ons het ‘n beroep gekry.” Die predikantsvrou is nie ook beroep nie. Die predikant was eenvoudig so belang­rik dat hy oor homself in die meervoud gepraat het.

  • Nuwe Testament

Wanneer ons by die Nuwe Testament kom, is daar egter nie meer onsekerheid oor die Persoon van die Gees nie. (*Drie-eenheid) Veral in die Evan­gelie van Johannes doen Hy dinge wat net aan ‘n persoon toegeskryf kan word: Hy word ons “voorspraak” of “advokaat” genoem. Hy sal die dissipels leer en herinner aan alles wat Je­sus gesê het. Hy sal bewys dat die wêreld skuldig is. Hy sal die dissipels in die hele waarheid lei en Christus verheerlik (Joh 14:26; 16:7-15). Al hierdie, en nog baie ander dinge, herinner ons aan ‘n persoon, en nie net aan ‘n krag nie.

Die Gees in die lewe van Jesus

Wat die werk van die Gees betref, moet die Nuwe Testament in twee dele verdeel word: voor Pinkster en na Pinkster. Voor Pinkster gaan dit eintlik om die bediening van Jesus, maar die Gees speel ‘n belangrike rol daarin. Veral Lukas wys op die ini­siatief wat die Gees in die lewe van Jesus geneem het. Die Heilige Gees is by die geboorte van Jesus betrokke, Elisabet is met die Gees vervul, Sagaria is met die Gees vervul, Johannes die Doper word sterk deur die Gees, Simeon word deur die Gees na die tempel gelei, Johan­nes kondig aan dat Jesus met die Gees sal doop, die Gees daal by die doop op Jesus neer, Jesus kom vol van die Gees van die Jordaan af terug en word deur die Gees na die woestyn gelei om deur die duiwel versoek te word, Hy kom vol van die krag van die Gees terug van die woestyn af en gaan na Galilea toe (Luk 1:35, 41, 67, 80; 2:27; 3:16, 22; 4:1, 14). Dis merkwaardig dat Lukas hierna in die res van sy Evangelie net twee keer na die Heilige Gees verwys. Dis of hy in die eerste vier hoofstukke, waar alles begin het, hard wou uitroep: “Die Gees is in sy volheid in die bediening van Jesus betrokke. Alles wat verder volg, staan onder sy leiding.”

Jesus in die werk van die Gees

‘n Mens sou van Jesus se aardse bediening kon sê: “Die Gees het deur Jesus gewerk.” En dan na Pinkster: “Jesus werk deur die Gees.” Want soos die Gees absoluut teenwoordig was en ini­siatief ge­neem het tydens Jesus se aardse bediening, neem Jesus inisia­tief in die werk van die Gees. Dit is Jesus wat die Gees stuur, Jesus voeg daagliks dié wat gered is by die gemeente (Joh 16:7; Hand 2:47); trouens, die prediking van die apostels is son­der meer: Jesus. Ontleed elke preek van Petrus en Paulus (Hand 2; 3; 4; 5; 10; 13; 17). Die tema is Jesus wat opgestaan het.

Dit is dus heeltemal verkeerd om ‘n soort spanning tussen Je­sus en die Gees te skep. Dis nie so dat Jesus as’t ware die inleiding was, maar dat ons nou by die eintlike saak kom as ons die Gees ont­vang nie. Die Gees kom Christus verheerlik (Joh 16:14).

Andersyds sê sommige te maklik dat die *Pinksterkerke en die *Charismatiese kerke eensydig die Gees beklemtoon. (*Four Square Gospel)

Die groot werk van die Gees lê in die toepassing van die werk van Christus. Christus het vir ons die heil verdien, en die Gees kom dra dit in ons lewe in. Hy kom vorm die liggaam van Christus en kom sy bruid voorberei. Die *gawes van die Gees, die *vrug van die Gees, en die *heilsweg is alles die werk van die Gees.

Daar word soms gesê dat ons in die belydenis van die kerk die Gees verwaarloos. Ons bely in die *Apostoliese Geloofsbelydenis ‘n hele aantal dinge van Jesus, maar niks van die Gees nie, net die woorde: “Ek glo in die Heilige Gees.” Maar dis ‘n misverstand. Alles wat daarna kom, is sy werk: die kerk, die gemeenskap van die heiliges, die vergifnis van sonde, die opstanding, die ewige lewe.

Die een groot verskil tussen die Gees in die Ou Testament en in die Nuwe is dat die Gees terloops in die Oue optree, maar in die Nuwe in die gemeente woon. Dis iets van ‘n vooruitgryping na God wat op die nuwe aarde by sy kinders kom woon. (*Doop met die Heilige Gees)

 

Skuldig: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...