Die Groot Geloofswoordeboek: Moederbelofte

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Moederbelofte

Genesis 3:15 word die “Moederbelofte” genoem; dit beteken die eerste van alle beloftes. Baie mense meen dit is alreeds ‘n belofte van die *Messias of *Verlosser wat eendag sou kom, en noem dit dan die “Proto-evangelie” of eerste evangelie. Genesis 3:15 is deel van die vloek wat die Here in die tuin van Eden oor die slang uitspreek. Daar sal vyandskap wees tussen die nageslag van die vrou en die van die slang. “Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.”

Katolieke teoloë dink by die vrou graag aan Maria, die moeder van Jesus, sodat Jesus dan die nageslag is wat die slang se kop sal vermorsel. Ook Protestante dink aan Jesus as die nageslag en sien dan hier die eerste getuienis van oorwinning oor die Satan en van ons verlossing, en noem dit graag die eerste belofte van die Messias.

Die Messias sou egter ‘n nasaat van Dawid wees, en daarom is dit skaars moontlik om beloftes oor Hom te verwag voor die tyd van Dawid. (*Messias, *Messiaanse profesieë)

Dit is goed om net ‘n keer mooi te kyk wat regtig hier be­loof word. Hier is nie sprake van oorwinning nie, maar van voort­gaan­de stryd, presies wat in die eerste sin beloof word: vyand­skap. Die feit dat die slangbyt laaste genoem word, beteken dat dit ‘n voort­gaande stryd is en nog nie ‘n oorwinning nie.

En tog is dit ‘n wonderlike belofte. ‘n Mens skrik as jy dink hoe maklik Eva haar laat mislei het, en hoe maklik Adam haar ge­volg het. Sou dit beteken dat die duiwel totaal die oorhand gaan kry en die mense in ‘n sondemoeras insleep?

Die belofte is: Nee! Daar sal wel weerstand van die mense wees. Hulle sal die slange doodmaak, al sal die slange hulle telkens weer byt. Miskien is dit ‘n simbool daarvan dat die wêreld nie heeltemal in duie sal stort nie, dat mense nie volkome gelukkig in die sonde is nie, dat daar tog weerstand is en nog spore van reg en geregtigheid in byna elke samelewing is.

As sodanig is dit inderdaad ‘n wonderlike belofte. Maar dit is nog nie ‘n belofte van oorwinning oor die slang nie. Die en­kelvoud (jy, hom) is kollektief en het betrekking op die totale na­geslag.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print