Die Groot Geloofswoordeboek: Wêreldbeeld

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Wêreldbeeld

Wêreldbeeld

In die Bybel word ’n drieverdieping-wêreldbeeld veronderstel: die hemel is daarbo, die aarde in die middel, en die doderyk onder die aarde (Eks 20:4). Bokant die aarde is ’n koepel wat “die water daarbo” keer dat dit nie op die aarde val nie. Hierdie water is gevaarlik, soos dit tydens die sondvloed geblyk het. Daar is vensters of openinge in die koepel waardeur die water stroom as dit reën (Mal 3:10). Die sterre is klein liggies in die blou koepel. Die aarde is ’n plat skyf bo-op “die water onder die aarde” en dit rus op fondamente wat in die water staan (Jes 24:18; Jer 31:37). Dit beteken dat die hemel “daarbo” is en die hel onder die aarde. Die aarde is die middelpunt, en die son draai om die aarde.

Ons aanvaar nie vandag meer hierdie beeld nie. Ons besef ook nie watter stryd dit vir sekere natuurwetenskaplikes bete­ken het om hierdie wêreldbeeld te bevraagteken en daardeur direk in stryd te kom met die kerk nie. Galileo en Kepler is maar vae herinnerings.

Maar verder besef sommige van ons ook nie dat die Bybel nie net hierdie fisieke wêreldbeeld het wat ons nie meer aanvaar nie, maar ook ’n temporele wêreldbeeld. Die geslagsregisters in die Bybel impliseer dat die aarde maar net so ongeveer 6 000 jaar gelede geskep is. Ook die ouderdomme van mense in Genesis 1-11 (soms selfs ouer as 900 jaar) lyk vandag vir ons vreemd.

Aan hierdie temporele wêreldbeeld wil sommige nog vashou. As natuurwetenskaplikes van biljoene jare praat, sien hulle dit as uitings van ongeloof. Hulle probeer selfs wegkom van sterk argu­mente dat die skepping baie ouer as duisende jare moet wees. Dink maar aan sterre wat talle ligjare van die aarde ver­wyder is terwyl ons hulle lig kan sien. Dan moes daardie lig mos talle ligjare lank getrek het om by ons te kom. (*Evolusie)

Net so aanvaar hulle ook nie dat die Bybelse voorstellings van die wyse waarop God alles geskep het, ook ’n deel van hierdie ver­gange wêreldbeeld is nie. (*Evolusie) Dit beteken dat lang ar­gumente gevoer word om ’n saak in die Bybel te verdedig wat nie deel van die boodskap van die Bybel is nie, maar van die kultuur waarin die Bybel na ons gekom het. En die redenasies bereik nie veel meer as om ons kinders, wat natuurkunde op skool leer, in onnodige spanning te bring nie.

Die evangelie staan of val nie by hoe alles geskep is nie, maar by hoe ons verlos word; nie by Genesis 1 en 2 en Psalm 104 en Job 38 nie, maar by Matteus 27 en 1 Korintiërs 15.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print