Die Handelinge van die Apostels: Die elf apostels (Hand 1:13-14) – Francois Malan

image_pdfimage_print

1:13-14 Na Jesus se hemelvaart gaan die apostels na die bovertrek waar hulle na die Paasfees in Jerusalem gebly het. Die bovertrek was gewoonlik bo-op die platdak van die huis gebou, met ’n trap aan die buitekant van die huis. Daarom staan hier ‘hulle het opgegaan na die bovertrek waar hulle gebly het (katamenō – oorbly vir ’n tyd). Waarskynlik was hulle bedags in die tempel, soos Luk 24:53 sê, en het in die bovertrek oornag. 

Die lys van die apostels se name is dieselfde as in Lukas 6:14-16 met die weglating van Jesus se verraaier Judas Iskariot ‘man van Keriot’ in Judea, die enigste Judeër wat soos Jesus in Judea gebore is uit die stam van Juda. Judas het tydens Jesus se verhore selfmoord gepleeg (Hand 1:18; Matt 27:5).

Na die vervolging van die apostels in Jerusalem het hulle uitgewyk (vgl. Hand 12:1-3,17) en die plekke waarheen hulle gegaan het en gaan werk het, is volgens die kerklike tradisie met die lot aangewys.    

Simon of Simeon Petrus en Andreas was broers, seuns van Johannes. Aan Simon het Jesus die naam Sefas gegee, die Hebreeuse woord vir ‘rots,’  en Petros in Grieks. Hulle was ongeletterde vissers van Betsaida (Joh 1:41-44; Hand 4:13). Bo-oor die ruïnes van Petrus se huis in Kapernaum, langs die ruïnes van die sinagoge, het die Roomse Kerk ’n moderne kapel gebou (vgl. Mark 1:29). Na sy verloëning van Jesus, het Jesus volgens Johannes 21:15-17 hom in sy amp as apostel vir die besnydenis herstel (vgl. Gal 2:9). Hy word ’n reisende sendeling in Lidda (Hand 9:32), Joppe (Hand 9:36-43), waar die Here hom oortuig om ook na die onbesnede Romein Kornelius in Sesarea te gaan (Hand 10:1-48). Nadat ’n engel hom uit die tronk in Jerusalem verlos het met die vervolging van die apostels (Hand 12:1-17, hoor ons van hom in Antiogië (Gal 2:11). Die grotte in Antiogië, waar die Christene kerk gehou het, word na hom genoem. Volgens 1 Petrus 1:1 het hy ook in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bithinië gewerk (die huidige Turkye). In  Korinthe het hy ook volgelinge gehad (1 Kor 1:12; 3:22; 9:15). Die oorlewering is dat Petrus in 64 n.C. in Rome onder keiser Nero gekruisig is, op sy eie versoek kop onderstebo. Die huidige Vatikaan is oor sy graf opgerig, en hulle beskou hom as hulle eerste pous met die sleutels van die koninkryk van die hemele (Matt 16:19). 

Volgens die kerklike tradisie het Andreas onder die Skithe aan die noordelike oewer van die Swart See gewerk, en het hy in Griekeland die laaste drie dae van sy lewe blymoedig die Here bely terwyl hy aan ’n Andreaskruis (X) gehang het. Die Russe vereer hom as hulle apostel, en hy is die beskermheilige van Skotland.

Johannes en Jakobus was broers, seuns van Sebedeus en ook ongeletterde vissers (Mark 1:19-20; Hand 4:13). Hulle was neefs van Jesus. Hulle ma, Salome, was Maria se suster (Mark 15:40 sê Salome het by die kruis gestaan, en Joh 15:25 sê: Jesus se moeder se suster het by die kruis gestaan). Jesus het hulle Boanerges genoem, seuns van die donder (Mark 3:7; vgl Luk 9:54). Jakobus was die eerste apostelmartelaar (Hand 12:2). Die kerklike tradisie vertel dat Johannes ná sy verbanning na Patmos onder Domitianus, weer terug is in Efese, waar hy tydens die regering van Trajanus (98-117 n.C.) gesterf het. Een tradisie sê dat hy deur die Jode met klippe doodgegooi is. Hy is in Efese begrawe. Teen die berg agter die ou stad Efese is die huidige kapel van Maria, die moeder van Jesus, op die plek waar Johannes haar sou opgepas het tot haar dood (vgl. Joh 19:26-27; 21:23). Hierdie boanerg het in sy tyd saam met Jesus die nederige apostel van liefde geword, soos sy Evangelie, drie briewe, en Openbaring, getuig.

Filippus kom van Petrus en Andreas se tuisdorp Betsaida. Hy lei Natanael na Jesus (Joh 1:44-46), en hy en Andreas lei ook die Grieke wat Jesus wou sien na Hom toe (Joh 12:20-22). In Joh 14:8 vra hy vir Jesus: ‘Here, wys ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.’ Waarop Jesus vir ons ’n kykie in die Drie-eenheid gee: ‘Wie My gesien het, het die Vader gesien….Glo My dat Ek in die Vader en die Vader in My is…’’ (Joh 14:9,11). Volgens ’n latere oorlewering het Filippus later in Klein-Asië gewerk en in Hiërapolis gesterf.  

Thomas – die Hebreeuse woord  te’ōma’ beteken ‘tweeling,’ daarom word hy ook genoem Didimus, ‘tweeling’ in Grieks (Joh 11:16) Hy het onder die Parte (in die huidige Iran) gaan werk. Die Mar-Thoma kerk in Indië beskou hom as die stigter van die Siriese kerk waarvan hulle later afgeskei het. 

Bartholomeus (bar-‘seun’ van Talmai), is waarskynlik Natanael (‘Geskenk van God’) van Joh 1:49. Hy kom van Kana in Galilea. In Johannes word hy sesde genoem net na Thomas. In Matt 10:3; Mark 3:18 en Luk 6:14 word Bartholomeus sesde genoem, ook net na Thomas. Daar is ’n onbetroubare oorlewering dat Bartholomeus die marteldood in Indië gesterf het. Dan kon hy moontlik saam met Thomas daar gewerk het, soos hulle in die apostellyste saam genoem word. Van Natanael het Jesus gesê dat hy waarlik ’n Israeliet is in wie daar geen bedrog is nie (Joh 1:47). En hy het Jesus herken as die Koning van Israel (Joh 1:49). Miga 4:4 sien uit na die koms van die Messias wanneer elke man ongesteurd onder sy eie vyeboom sal sit; so ook in Sagaria 3:10. So het Jesus ook vir Natanael onder sy vyeboom gesien sit en wag op die koms van die Messias (Joh 1:48,50).     

Mattheus (sy Griekse naam; Matt 9:9) word ook genoem Levi (sy Hebreeuse naam; Luk 5:27). Hy was die seun van Alfeus (Mark 2:14). Jesus kies hierdie tollenaar, wat in diens was van die Romeine en deur die Jode gehaat was, as een van sy 12 apostels. Hy was as tollenaar waarskynlik ’n geleerde man. Papias het ongeveer 150 n.C. geskryf dat Mattheus die woorde van Jesus in Aramees neergeskryf het. Hy kon dit dan later in sy Griekse Evangelie gebruik het. Die Evangelie volgens Mattheus het 5 groot gedeeltes met woorde van Jesus bymekaar gegroepeer (hoofstukke 5-7 bergrede oor die lewe in die koninkryk van die hemele; 10 die sending van die kerk; 13 sewe gelykenisse oor die koninkryk; 18 oor die kerk; 23-26 teen die Fariseërs en Sadduseërs en die profetiese rede). Waarskynlik het hy uit Antiogië geskryf. Hy verwys telkens na die vervulling van die Ou Testamentiese beloftes met Jesus se koms.   

Jakobus die kleine, is die seun van Alfeus en Maria, een van die vroue van Galilea wat Jesus gevolg en bedien het (Luk 6:15; Mark 15:40-41).

Simon die Seloot of Yweraar (Luk 6:15 en Hand 1:13) word in Mattheus 19:4 Kananeus genoem, soos in Markus 3:20. Kananaios is die Aramese woord vir die Griekse zêlōtes wat ‘yweraar’ beteken. Dit kan verwys na ’n lid van ’n Joodse nasionalistiese groep wat hulle beywer het vir Kanaän se politieke onafhanklikheid van Rome. In Handelinge 21:38 word verwys na die Sikariërs (dolkdraers) wat selfs Jode wat met Rome gesimpatiseer het, doodgemaak het. Dan het Jesus ’n tollenaar wat met Rome saamgewerk het en ’n seloot wat teen Rome gewerk het, in sy dissipelgroep opgeneem en hulle met mekaar laat versoen. Simon kon egter die bynaam Yweraar gekry het bloot omdat hy ’n ywerige persoon was.   

Judas seun van Jakobus (Luk 6:16; Hand 1:13) word in Mattheus 10:3 Taddeus genoem (waarskynlik ’n vorm van Theodotus, ‘Geskenk van God.’ In Johannes 14:22 vra hy vir Jesus ‘Here hoe is dit dat U Uself aan ons gaan bekend maak en nie aan die wêreld nie?’ En hy ontvang die wonderlike antwoord van God se grootste geskenk aan ’n gelowige in vers 23: ‘As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en ons sal na hom toe kom en by hom woon.’ Vir die wêreldlinge, wat nie vir Jesus liefhet nie deurdat hulle nie sy woord ter harte neem nie, waarsku Jesus: ‘Die woorde wat julle hoor, is nie myne nie, maar dié van my Vader wat My gestuur het.’ Wie Jesus se woorde nie aanvaar nie, verwerp daardeur vir God. Verder weet ons niks van hierdie Judas nie.  

Hierdie uiteenlopende groep het almal eensgesind volhard in gebed – saam met die vroue, waarskynlik Maria Magdalena, en Johanna en Maria die moeder van Jakobus die kleine en ’n paar ander vroue saam met hulle, wat van die leë graf af deur die twee engele ontmoet is (Lukas 24:10). 

Ook saam met hulle was Maria, die moeder van Jesus, en sy broers. Sy broers, wat eers nie in Hom geglo het nie (Joh 7:5), is nou saam met sy getroue volgelinge eensgesind in gebed. In Mark 6:3 en Mattheus 13:55 word sy broers genoem: Jakobus, Joses, Judas en Simon.

Jakobus, die broer van Jesus, word die leier van die gemeente in Jerusalem nadat die apostels uit die stad moes padgee weens die vervolging teen hulle. Paulus noem hom eerste as een van die pilare van die kerk saam met Sefas en Johannes (Gal 2:9) en dat Jesus na sy opstanding aan Jakobus verskyn het (1 Kor 15:7). By die Jerusalemvergadering van apostels en ouderlinge het Jakobus die laaste woord gehad en die besluit van die vergadering geformuleer (Hand 15:13-21). Met Paulus se terugkoms in Jerusalem na sy derde sendingreis kom doen hy verslag aan Jakobus en die ouderlinge (Hand 21:18). Jakobus skryf ook die brief aan die twaalf stamme in die verstrooiing, die gelowige Jode wat buite Palestina woon. Hy noem homself ’n dienskneg van God en die Here Jesus Christus (Jak 1:1). Eusebius skryf dat Hegisippus vertel het dat die priesters hom van die toring van die tempel afgegooi het, dat hy vir hulle gebid het en dat hulle hom met klippe gegooi het en een hom met ’n knuppel oor die kop doodgeslaan het omdat hy van die toring af verkondig het dat Jesus aan die regterhand van God sit en weer met die wolke sal kom (vgl. Luk 22:69; 21:27). Hy is toe op die tempelterrein begrawe.

In sy brief noem Judas homself ‘dienskneg van Jesus Christus en broer van Jakobus’ (Judas 1:1). Judas en Jakobus is albei broers van Jesus (Mark 6:3). Hy waarsku baie ernstig teen die valse leer wat in die gemeentes inkruip en roep die gemeentes op om in die liefde van God te bly; met die verwagting van die ewige lewe deur die ontferming van ons Here Jesus Christus; en om hulle te ontferm oor dié wat twyfel; ook om ander te red deur hulle uit die vuur te ruk. Die Here het die mag om ons van struikeling te bewaar (Judas 1:24).

Van die ander twee broers van Jesus, Joses en Simon, is niks verder bekend nie.  Hulle het ‘eensgesind’ (homothumadon dieseldeoor iets dink en daaroor saamstem), ‘hulle toegewy’ (proskartereō jouself toewy,  daarmee aanhou – volhard) ‘in gebed’ – hulleself in die hande van God oorgegee, in afwagting op die vervulling van die Vader se belofte (Hand 1:5).

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...