Die Handelinge van die Apostels: Jesus vaar op na die hemel (Hand 1:6-12) – Francois Malan

image_pdfimage_print

1:6 Toe hulle bymekaar was (sunerchomai) – die tydaanduiding skakel aan by vers 4 ‘terwyl hulle bymekaar was’ (sunalizō). Albei aanduidings is nie baie spesifiek of dit die laaste dag of reeds vroeër was nie, maar altwee verwys na Jesus en sy apostel-groep wat die vroue en sy broers insluit (1:14). Hulle spreek Jesus aan as Here (kurios) en vra of Jesus in hierdie tyd ná sy opstanding weer die koninkryk vir Israel gaan oprig (apokathistêmi om te herstel, om te verander tot ’n vroeëre goeie toestand, soos in die Griekse vertaling van Maleagi 4:6). Hulle dink duidelik aan die tyd van Dawid en Salomo, voor die splitsing van die ryk, toe Israel op sy hoogtepunt was en die grootste gebied beheer het. Die Israel van Jesus se tyd het die herstel van daardie goeie tyd verwag, van ’n messias/gesalfde soos Dawid (vgl. Luk 24:21; en 17:10; 3:15; Matt 20:21). Vir die groepie volgelinge van Jesus beteken hulle vraag egter meer as dit. Die vroeë kerk het geworstel met die vraag oor die nabyheid van die wederkoms van Jesus, en of God se koninkryk slegs vir Israel bedoel is.

1:7 Jesus se antwoord behels drie sake: eerstens die absolute vrymag van God die Vader, sy seggenskap oor sy hele skepping (vgl. Luk 12:5; Rom 9:18-23; Judas vers 25; Openb 16:9). Tweedens: Die Vader bepaal die tye en geleenthede voor die finale oordeelsdag en van die dag vir die herstel van alles in sy skepping (chronos ‘tyd’en kairos ‘geleentheid’ beteken albei onbepaalde tyd en geleentheid, wat bepaal word deur die verband waarin dit gebruik word). Die dubbele uitdrukking ‘tye en geleenthede’ verwys na die volheid van tyd in elke opsig. Mark 13:32 niemand anders as die Vader bepaal en ken die tyd nie, ook nie die engele en selfs nie die Seun nie; vgl. 2 Petr 3:7-13 ). God bepaal die toekoms vir elkeen, van oomblik tot oomblik (Ps 31:16 ‘my tye is in u hand’). 

1:8 Derdens open Jesus sy dissipels se eng nasionalisties-godsdienstige denke vir sy sending die wye wêreld in. Begin by Israel (Jerusalem), maar dit is die beginpunt vir die verspreiding van die evangelie tot aan die einde van die wêreld (vgl. Jesaja 49:6 se ‘uithoeke van die aarde’; Luk 2:32 se ‘lig vir die nasies’; Hand 3:25 verwys na Genesis 12:3 se ‘al die volke van die aarde’).

Alles wat Jesus se volgelinge doen, waarvan Handelinge verder gaan vertel, is ondenkbaar sonder die leiding en krag van die Heilige Gees. Alles wat hulle gaan sê en doen word saamgevat in die woord ‘my getuies (mou martures).’ As getuies van Jesus stel hulle hulleself bekend (die dissipels: Hand 2:32; 3:15; 5:32; 10:39,41; 13:31; Paulus: 22:15 en 26:16 en Stefanus: 22:20). In hierdie vers gee Jesus opdrag aan al sy volgelinge om sy sendelinge te wees (soos in Mattheus 28:18-20). Hulle wêreldsending is God se gawe aan hulle saam met die ontvangs van die Heilige Gees (Jes 32:15: die Gees sal van Bo af – van God af – op ons uitgestort word). Die Heilige Gees is die krag van God wat hulle vir hulle taak in die wye wêreld ontvang. Hy is die krag wat hulle getuienis oor Jesus dra.

Die boek word ook breedweg volgens hierdie opdrag van Jesus ingedeel: eers die getuienis aan die Joodse volk in Jerusalem en Judea, hoofstukke 1-7; dan aan die gemengde bevolking van Samaria, hoofstuk 8;  en dan  die heidenwêreld waarvan Rome die hoofstad was, hoofstukke 9-28. So het die Heilige Gees hulle gelei en hulle getuienis gebruik om baie mense te oortuig. Jesus gaan nie die koninkryk vir Israel herstel, soos hulle gevra het nie. Húlle gaan die nodige krag ontvang met die koms van die Heilige Gees oor hulle (soos die Heilige Gees oor Maria gekom het; Luk 1:35), en hulle sal getuies van God se Gesalfde Koning Jesus in die ganse wêreld wees. So lyk Jesus se program vir God se koninkryk.

1:9 In Luk 24:51 het Lukas reeds geskryf dat Jesus in die hemel opgeneem is terwyl Hy die dissipels seën. In Mattheus 28:18 het Jesus gesê dat God aan Hom alle mag in die hemel en op die aarde gegee het. Voor die Sanhedrin het Hy al getuig: ‘van nou af sal die Seun van die Mens aan die regterhand van God die Magtige sit’ (Luk 22:69). Hier in Handelinge beskryf Lukas wat die dissipels van Jesus se hemelvaart gesien het (blepō). Luk 24:51 noem net dat Hy in die hemel opgeneem is. Die ander Evangelies vertel nie van die hemelvaart nie. Hand 1.:9-11 verwys 5 keer na ‘sien.’  ‘Stip aankyk’ is ’n gunsteling uitdrukking van Lukas. Van die 14 keer wat dit in die Nuwe Testament voorkom is 12 keer in Lukas se twee werke. Dit wys na die intensiteit van die dissipels se kyk na die hemel. ‘Na die hemel’ word viermaal gebruik in verse 9-11 as beklemtoning van waarheen Jesus gegaan het. Die woord ‘hemel’ ouranos word gebruik vir (i) die lug, die uitspansel (Hand 2:5 elke nasie onder die hemel); (ii) waar God en die engele is (Luk 11:13 die hemelse Vader); (iii) hemele in plaas van God, omdat die Jode nie die Naam van God wil misbruik nie (Luk 15:18,21 ‘Pa, ek het gesondig teen die hemel en in u oë’).  Hier staar die dissipels die lug in, maar Jesus gaan waar God en die engele is. Ps 139:7-9 beskryf God as alomteenwoordig. Jesus stap hier oor na die onsienlike vir die mens (Kol 1:15), verheerlik by die Vader, met die heerlikheid wat Hy by die Vader gehad het voordat die wêreld bestaan het (Joh 17:5). 

Sy hemelvaart beteken dat die verhoogde Christus oor en in die werke van die apostels regeer. Dat ’n wolk Hom opgeneem het van hulle oë af, beteken dat God Hom ‘uit hulle gesig’ (apo tōn ofthalmōn autōn) weggeneem het na Hom toe. Wolke is in die Bybel die teken van God se teenwoordigheid (Luk 9:34-35; Eks 13:20-21; 16:10; 19:9; 24:15-18; 34:12; 40:34-38; 1 Kon 10:8-12). Sy hemelvaart is die geskiedenis van Jesus se opname in die alomteenwoordigheid van God. Sy onaanskoulike troonsbestyging is soos sy onaansienlike geboorte in ’n stal (vgl die beskrywing van die onaansienlike gestalte van die Dienskneg van die Here in Jes 52:14; 53:2). ’n Wolk, as teken van God se teenwoordigheid, neem Hom, wat aan die ander wêreld behoort, weg uit die gesig van die mense van hierdie wêreld. Dit is die nuwe bedeling. In Joh 20:29 het Jesus gesê: Geseënd is hulle wat (Hom) nie gesien het nie en tog geglo het.

1:10  Terwyl die dissipelgroep nog stip gekyk het (atenizō) na die hemel waarheen Hy gegaan het, ‘kyk!’ (idou let op!) twee mans in skitterende klere het reeds voor hulle gestaan waar Jesus enkele oomblikke tevore nog gestaan het (leukos skitterend, glansend of wit). Dit is soos die twee mans in blink klere wat ná Jesus se opstanding by die vrouens gestaan het toe hulle die Sondagmôre verward by die leë graf gestaan het (Luk 24:4). Engele verskyn veral op kritieke punte in die heilsgeskiedenis, soos by Jesus se geboorte, sy opstanding en sy hemelvaart. Gewoonlik een engel (Hand 5:19; 8:26; 10:3; 12:7; 27:23); maar hier en met sy opstanding twee engele as twee getuies ter bevestiging en versekering van die egtheid van boodskappe waaroor mense maklik twyfel (vgl. Deutr 19:15; 1 Tim 5:19). Soos die wolke is die engele se glansende klere aanduidings van die teenwoordigheid van die goddelike heerlikheid. So het Moses en Elia op die berg in glansende heerlikheid by Jesus verskyn (Luk 9:31).

1:11 Die dissipels staar (blepō) so na die hemel en word eers bewus van die twee manne wat voor hulle staan toe die mans met hulle praat. Hulle word as Galileërs aangespreek (vgl Hand 2:7). Dit wys dat die engele hulle ken en skep vertroue. Hoe hulle as getuies van Jesus gaan doen word in die hemel dopgehou (vgl. 1 Petr 1:12). Van Jesus se apostels weet ons net van Judas Iskariot, ‘man van Keriot’ (moontlik Keriyōth-chezrōn van Jos 15:25 in die suide van Judea), wat nie ’n Galileër was nie.

Die engele vra ’n bietjie verwytend: waarom staan julle starende (blepontes) na die hemel? Die dissipels verstaan die hemelvaart van Jesus wel as ’n finale afskeid. Die engele wys egter dat dit ’n vingerwysing na die wederkoms van Jesus is: ‘Hierdie Jesus sal netso terugkom, op dieselfde wyse as wat julle Hom na die hemel gesien (theaomai aanhouaandagtig dophou) weggaan het.’ Daarmee word in die eerste plek gedink aan die wolk as aanduiding van die volkomenheid van God se teenwoordigheid, soos Jesus vir hulle gesê het:  ‘En dan sal hulle die Seun van die Mens sien kom in ’n wolk met krag en groot heerlikheid’ (Luk 21:27, soos in Dan. 7:13 ‘daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ’n seun van ’n mens).

Daar word niks gesê van wanneer Hy sal terugkom nie. Dit is nie vir die mens om die spesifieke tye en geleenthede te ken wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie (Hand 1:7; vgl. Mark 13:32). Maar ons weet dat die wêreld nie doelloos voortgaan nie, maar ’n verloop van ’n geskiedenis en ’n toekoms het wat die hele skepping raak, met Jesus aan die regterhand van God as die Regter en Here wat oor alles regeer (Luk 22:69). Hy sal weer uit sy goddelike onsigbaarheid te voorskyn tree vir die finale oordeel wanneer almal voor die Seun van die Mens sal staan (Luk 21:36). Daarom is die kerk geroep om orals, tot aan die einde van die aarde (Hand 1:8), te getuig van die redding deur God se genade wat Jesus berei het vir elkeen wat in Hom glo (Hand 4:12; 10:43; 16:31). 1:12 Die groepie volgelinge reageer op die engele se belofte van Jesus se wederkoms en Jesus se opdrag in 1:4 om in Jerusalem te gaan wag op die Vader se belofte. Hulle kom terug van die westehang van die Olyfberg af, waar Jesus die week voor sy kruisiging ook snags geslaap het, en waar Hy in gebed was toe Hy die nag gearresteer is (Luk 21:37; 22:39). Sagaria 14:4 plaas die oordeel op die dag van die Here op die Olyfberg. Die plek van die hemelvaart word aangegee as ’n Sabbatsreis vanaf Jerusalem, dus ongeveer 1 km, en verskil van Luk 24:50 wat die hemelvaart aangee as tot by Betanië’ aan die oostehang van die Olyfberg, ongeveer 3 km van die stad af. ‘Tot by’kan egter ook met ‘in die rigting van’ vertaal word. Die huidige Hemelvaartkapel staan aan die westekant van die Olyfberg in die rigting van Betanië, maar naby die ou Jerusalem. Die apokriewe brief van Barnabas (hoofstuk 15:9) wat ongeveer 130 n.C. geskryf is, plaas die hemelvaart op ’n Sondag. Die tradisionele kerklike viering van hemelvaart op ’n Donderdag tel 40 dae inklusief van die opstandingsondag af, hoewel die getal 40 simbolies kan wees van ’n lang tyd.

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...