Die Jesuïete

image_pdfimage_print

Never undertake more Christian service than you can cover by believing prayer. –Alan Redpath

Die Jesuïete

Pous Franciskus is ‘n Jesuïet . Wat beteken dit?

Wie is die Jesuïete?

Die Rooms-Katolieke orde van die Jesuïete is die grootste enkele orde in die Katolieke Kerk. Dit is in 1534 deur Ignatius Loyola in Parys gestig.

Hy was ‘n Baskiese soldaat wat tot bekering gekom het terwyl hy besig was om te herstel nadat hy op die slagveld gewond is. Hy en ses medestudente aan die Universiteit van Parys het besluit om die pous  as sendingsoldate vir Christus te dien. Aanvanklik is die orde volgens militêre voorskrifte onder die leierskap van ‘n “Vader Generaal”  georganiseer. Hulle bynaam was “God se Mariniers,” want hulle was bereid om op bevel van die pous na enige plek ter wêreld te gaan. Pous Paulus III het hulle in 1540 as orde gereorganiseer. Vandag is daar meer as 20 000 Jesuïete.

Waarvoor is hulle bekend?

Hulle sendingywer en liefde vir opvoeding. Loyala het geglo dat die beste manier om God se woord te versprei was deur die vestiging van skole. Die sukses van ‘n kollege in Messina (in Sisilië)  het hom aangemoedig om lede van die orde in Europa en verder te stuur met die doel om skole, universiteite en seminariums te vestig. Toe hy in 1556 sterf het hulle reeds 74 kolleges in Ierland, Duitsland, Pole, Egipte, Indië en Japan gevestig. Vandag beheer hulle 189 kolleges wêreldwyd. Hulle bevorder vrye denke en teologiese debat. Daarom word hulle deur konserwatiewe Katolieke as te onafhanklik beskou.

Word hulle gerespekteer?

Tydens die 16de en 17de eeue word hulle beskou as die vroomste en mees intellektuele priesters. Soos Katolieke Europa gedisintegreer het, het hulle, as gevolg van hulle absolute lojaliteit aan die pous, baie vyande gemaak. Hulle word as agterbakse manipuleerders  gesien. Anti-Katolieke het vermoed dat hulle op bevel van die pous regerings wou omverwerp. Op aandrang van sekere Europese konings het Pous Clement XIV die orde in 1773 ontbind. Die Jesuïete het  in Rusland en Pruise oorleef. In 1814 word die pous se bevel om die orde te ontbind teruggetrek. Die suspisie teen hulle bly voortbestaan.

Wat is hulle reputasie tans?

Hulle word steeds as die liberaalste orde in die kerk beskou. As gevolg van hulle sendingwerk, veral in Latyns-Amerika, het hulle simpatie met die armes ontwikkel – veral dié onder koloniale en militêre regerings. In 1974 verklaar hulle dat hulle roeping ‘n geloofsdiens is waarvan die bevordering van geregtigheid  ‘n absolute vereiste is. By sommige priesters lei dit tot die sogenaamde bevrydingsteologie. In 1981 verwerp Pous Johannes Paulus II die benoeming van die Jesuïete vir Vader Generaal omdat hy ongelukkig was met die rigting wat hulle ingeslaan het. Hy wys ‘n leier van sy keuse aan.  Die lei tot onmin tussen die Jesuïete en die Vatikaan – iets wat vandag nog nie heeltemal herstel is nie.

Sal Franciskus ‘n Jesuïtiese pous wees?

Ten opsigte van seksuele moraliteit en die rol van vroue in die kerk is die pous ‘n tradisionalis. Hy het hom ook van die bevrydingsteologie beweging gedistansieer omdat dit té polities was. Hy deel die Jesuïete se intense identifikasie met die armes en magteloses. Hy glo die onregverdige verdeling van goedere is ‘n sosiale sonde wat ten hemele roep. Sy kommer oor sosiale ongeregtigheid sal die rigting waarin die Vatikaan gaan beweeg, beïnvloed. Hy het ook, soos ander Jesuïete, min agting vir hiërargie. Kevin O’Brien, vise-president vir sending en bediening aan Georgetown Universiteit, sê:  “The church has been sidetracked by sexual and financial scandals. Now, it’s about getting back to the basics. It’s about preaching the gospel and helping the poor.”

Jesuïete het Sao Paulo gevestig; hulle het die oorsprong van die Nyl bepaal; hulle het rubarber, Kinien, vanilla en ginseng uit Asië en Suid-Amerika na Europa gebring. Hulle klem op opvoeding  is duidelik uit ‘n Jesuïtiese wiskundige wat die Gregoriaanse kalender ontwikkel het; ‘n Jesuïtiese wetenskaplike het ontdek dat pes versprei as gevolg van mikro-organismes; 35 kraters op die maan is na Jesuïtiese wetenskaplikes en sterrekundiges vernoem.

 

image_pdfimage_print