Die kerk en kompromieë

image_pdfimage_print

 

We must make the invisible Kingdom visible in our midst – Johannes Calvyn

 

Die kerk en kompromieë

In Openbaring 2 lees ons van ‘n gemeente wat besig was met kompromieë – Pergamum. Die stad was op ‘n rotsagtige heuwel gebou. Op daardie stadium was dit die kultuursentrum van Asië. Daar was ‘n wonderlike biblioteek met 200 000 perkamentrolle.

 

Daar was ook ‘n altaar vir Zeus – die grootste en bekendste altaar van almal. Dit was een van die sewe wonders van die antieke wêreld. Daar was ook ander gode wat in Pergamum aanbid is. Dit sluit in Dionisius en Aesklepios. Aesklepios was die god van genesing. Sy simbool was ‘n slang. Mense kom van oral na sy heiligdom om genees te word. In die tempel was daar giftige slange wat oral rondgeseil het. Die mense het geglo dat as hulle deur ‘n slang geraak word, hulle genees sal word. Dink oor die toneel: mense wat op die vloer van die tempel lê met slange wat oor hulle seil.

 

Daar was ook ‘n groot tempel vir Augustus, die keiser. Die keisers het nie net aanbidding ontvang nie, maar het daarop aangedring. Geestelik was Pergamum maar ‘n donker plek. Hoe beoordeel Jesus die gemeente in Pergamum? Ek ken die plek waar julle bly, daar waar die troon van die Satan is. Tog bly julle aan my Naam getrou en julle het nie julle geloof in My afgesweer nie, selfs nie in die tyd toe Antipas, my getroue getuie, doodgemaak is daar by julle waar die Satan bly nie. Maar daar was ‘n paar dinge teen die gemeente. Julle het mense daar wat die leer van Bileam aanhang. Hy het Balak geleer om die volk Israel van My afvallig te maak, sodat hulle afgodsoffervleis geëet en onsedelikheid bedryf het. So is daar onder julle ook mense wat die leer van die Nikolaïete aanhang en dieselfde sondes doen.

 

Daar was baie goeie gelowiges in Pergamum. Hulle het God gedien en Jesus prys hulle daarvoor. Maar daar was ‘n paar probleme; die gemeente loop die gevaar om kompromieë oor sy geloof aan te gaan. Jesus verwys na die Ou Testamentiese storie van Bileam. Balak het vir Bileam gekry om die Israeliete te vervloek. Terwyl hy op pad was om Israel te gaan vervloek, verlaat sy donkie die pad, want hy het ‘n engel met ‘n sward gesien wat in die pad staan. Uiteindelik het Bileam nie vir Israel vervloek nie, maar hy gee vir Balak ‘n ander plan om Israel te ondermyn: die Moabitiese meisies moes die jong mans mislei en hulle sodoende kry om afgode te aanbid. Die plan werk.

 

Die sonde van Pergamum was dat hulle die bose verdra het. Sodra jy begin kompromieë aangaan, begin jou geestelike lewe verswak. Die filosofie van die Nikolaïete was dat jy moet ontspan. God sal dit verstaan en jou vergewe, want Hy ken jou hart. Dit is hoe ‘n kompromis werk: klein dingetjies wat groot dinge word. As dit gebeur gaan jy net verder afwaarts.

 

Sommige mense kyk na die Bybel en sê: “Ek hou nie van hierdie reëls of hierdie standaarde nie. Ek sal lewe soos ek wil.” Hulle dink nooit daaraan dat dit God is wat vir ons daardie reëls gegee het nie; daardie standaarde en waarhede om ons teen die bose te beskerm. Soms glo ons dat omdat ons ‘n sonde bely het, ons nie die gevolge daarvan hoef te hanteer nie. God sal ons vergewe, maar ons sal steeds die gevolge moet dra.

 

Onthou die les van die gemeente in Pergamum: moet nooit aan kompromieë toegee nie.

 

 

image_pdfimage_print