Die krag van gebed

image_pdfimage_print

There are few things more important than going to great lenghts to be respectful and polite to those with whom you disagree vociferously – Tom Peters

Die krag van gebed

Ek is besig om na Deuteronomium in my Bybelstudie te kyk. Ek gebruik die NIV Application Commentary. In Deuteronomium 10 lees ons dat die Here weer die wet op nuwe kliptafels opgeskryf het en van die Leviete wat die ark moet dra. Ons lees egter ook hier van die krag van gebed.

 

In hierdie gedeelte lees ons van die diepte van God se genade. Net nadat Israel hulle onvoorwaardelike verbintenis met God uitgespreek het, verval hulle in openlike afgodery – die goue kalf. As gevolg van Moses se intersessie neem God sy mense terug en hernuwe die verbond met hulle. Hierdie reaksie beklemtoon die belang van gebed om die mense se behoeftes met God se genade te verbind.

In Nehemia 9:18 – 19 dink die Leviete terug aan Israel se optrede – die goue kalf – en die Here se deernis om hulle te spaar. Hulle sê egter niks van Moses se rol om die Here met deernis te laat optree nie. In Psalm 106:19 – 23 lees ons ook van die episode met die goue kalf. Die Here wou hulle verdelg, maar Moses, sy uitverkorene,  het by Hom vir hulle in die bres getree om sy gramskap af te keer, sodat Hy hulle nie vernietig het nie. Hier word die krag van gebed beklemtoon. Jakobus verklaar: Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking (5:16).

Moses se geregtigheid is duidelik uit verskeie aspekte van sy optrede:

  1. Hy stoei met die Here vir genade vir sy mense ten spyte van hulle opstandigheid.
  2. Sy verwerping van die Here se aanbod om voor te begin met hom.
  3. Die argument van sy gebed wat fokus op die behoud van die Here se reputasie in die oë van die nasies.

Moses verwys na die Here se integriteit en herinner Hom aan sy verhouding met die aartsvaders. Wat veral opmerklik is, is dat Moses nie aan homself dink nie. Deur die Here se aanbod dat Hy uit Moses se nageslag ‘n groot volk sal maak, te verwerp, dien Moses as model vir alle leiers in die koninkryk van God. Die Bybelse model van leierskap plaas altyd die belange van die mense voor dié van die leier.

Ons leer hier baie belangrike lesse oor gebed. Diegene wat met volle vertroue op God bid,  is voorbereid op drie moontlike uitkomste van hulle gebed:

  • Soms is gebed die manier waarop eksterne omstandighede verander. Gebed verander dinge. Dit was sekerlik so in die geval van Petrus in die tronk in Handelinge 12:1 – 17. In antwoord op sy gebed loop Petrus uit die tronk as ‘n vry man.
  • Soms verander gebed die wil van die mens om in ooreenstemming met God se wil te kom. God antwoord nie altyd ons gebede op die manier wat ons verwag nie. Dink maar aan Moses se gebed om tog toegelaat te word om deur die Jordaan te gaan om die mooi land te gaan bekyk (Deuteronomium 3:23 – 29).
  • Soms is gebed die manier waarop God sy wil verander om aan te sluit by die wil van die mens wat bid. In Eksodus 32 lees ons dat die Here die hele volk wil vernietig na die episode met die goue kalf. En dan lees ons:Toe het die Here daarvan afgesien om die ramp waarvan Hy gepraat het, oor sy volk te bring (32:14). Dit gebeur nadat Moses ernstig vir die volk gebid het. Dit beteken nie dat gebed ‘n formule is waarmee ons God kan manipuleer en kry wat ons wil hê nie. Ons moet onthou dat Moses bereid was om sy eie selfbelang in belang van sy mense op te offer. Sy primêre belang was die wil en reputasie van God. Hierdie reputasie sou ten beste gedien word as God die mense wat teen Hom in opstand gekom het spaar. As bose mense  wegdraai van hulle sonde in berou (Jona 3) of as ‘n regverdige bidder by God ten behoewe van sondaars pleit, los God sy toorn en reik in genade uit na mense wat dit nie verdien nie.
image_pdfimage_print

You may also like...