Die maagdelike geboorte van Jesus

image_pdfimage_print

DIE MAAGDELIKE GEBOORTE VAN JESUS – VOLGENS MATTEUS EN LUKAS SE GEBOORTEVERHALE

Daar word dikwels gesê dat die maagdelike geboorte van Jesus nie werklik ‘n Bybelse basis het nie, maar bloot ‘n kerklike belydenis is. Matteus 1 en Lukas 1 spreek egter in geen onduidelike taal oor die bonatuurlike aard van Jesus se geboorte nie, dat Hy inderdaad uit God gebore is.

Met “maagdelike geboorte” word bedoel dat Jesus se geboorte nie die gevolg is van die normale geslagtelike verkeer tussen man en vrou nie, maar dat Jesus gebore is sonder die tussenkoms van ‘n man. Hy is wel op die normale manier uit ‘n vrou gebore, maar sy konsepsie het direk van God gekom. En dit is een van die kernstukke van die evangelie – die belydenis dat ons in Jesus se geval nie bloot met ‘n normale geboorte te doen het nie, maar met niks minder nie as die menswording van God.

Die vraag is net, kan ons hierdie belydenis werklik uit die Bybel waarmaak, of is dit bloot ‘n kerklike belydenis sonder Skriftuurlike basis?

Ons hoef nie ver te soek vir antwoorde nie. Enersyds teken beide die Matteus- en Lukas-evangelie die geboorte van Jesus as ‘n doodgewone gebeure. Iemand wat in daardie tyd gelewe het, sou dus niks vreemd opgemerk het aan die geboorte nie. Andersyds het die latere kennis van wie Jesus werklik was, gemaak dat die Bybelskrywers die gebeure so weergee dat die eintlike betekenis van die gebeure in hulle verhale weerspieël word. Hulle gee as ‘t ware weer wat op Hoër Vlak – agter die skerms – aan die gebeur was.

Kom ons neem Matteus. Dit is merkwaardig hoe Josef, die aardse pa van Jesus, aan die bod kom, só dat daar geen twyfel by die leser kan wees oor Josef se status in die hele gebeure nie. In Matteus 1 word Jesus se geslagsregister weergegee, en telkens word gesê dat so en so die pa van so en so was. Maar as dit by Josef kom, word dit so gestel (1:16): “Jakob was die vader van Josef, die man van Maria, uit wie Jesus gebore is.” Volgens antieke verteltegnieke lê die belangrike moment juis in die formulering wat afwyk van die res. Presies daar moet die klem geplaas word. In Josef se geval word hy wel die man van Maria genoem, maar, anders as by die ander beskrywings, nie die pa van Jesus nie. Dit is veelseggend. (Hoewel Lukas Jesus wel Josef se seun noem, voeg Lukas “soos hulle gemeen het” by, waarmee die andersheid van Jesus se konsepsie onderstreep word.)

Maar bostaande sê nog nie wie Jesus se pa wel was nie, hoewel die bedoeling van Matteus vir die skerpsinnige leser reeds duidelik behoort te wees – God self. En laasgenoemde word bevestig uit die verdere beskrywing. In 1:18 word uitdruklik gesê dat Maria se swangerskap nie die gevolg was van seksuele gemeenskap tussen Josef en Maria nie, maar dat dit van die Heilige Gees gekom het.

Josef se reaksie toon ook duidelik dat hy onthuts is oor Maria se swangerskap, wetende dat hy nie die oorsaak is nie. Daarom wil hy van Maria skei. Dit kos toe ‘n engel om hom te oortuig dat die swangerskap van die Heilige Gees is (v20).

In v23 word dit met ‘n Ou-Testamentiese profesie (Jesaja 7:14) bevestig. Weliswaar kan die Grieks wat hier met “maagd” vertaal word (parthénos) ook met “jongvrou” weergegee word. So ook die oorspronklike Hebreeus, ‘alma. En ‘n “jongvrou” is nie noodwendig ‘n “maagd” nie. Maar die konteks waarbinne Matteus die profesie hier aanwend (soos hierbo beskryf), dui onteenseglik op “maagd” as die aangewese vertaling.

Mens moet dus werklik moedswillig wees as die voor die handliggende betekenis van wat Matteus wil oordra omtrent Jesus se uitsonderlike geboorte, ontken word.

Die getuienis van Matteus word deur die Lukas-evangelie bevestig wanneer Maria in 1:34 beswaar aanteken teen die engel se boodskap aan haar dat sy swanger sal word: “Hoe is so iets moontlik?” vra Maria, “want ek het nog nooit omgang met ‘n man gehad nie.” Waarop die engel antwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God.”

Die bedoeling van Matteus en Lukas is dus duidelik om aan te toon dat die geboorte van Jesus nie die gevolg was van die gewone samekoms van man en vrou nie, maar dat Jesus uit God gebore is.

Hoe mens dit moet beoordeel in die lig van die antieke beskrywings van belangrike figure se geboorte, is ‘n ander onderwerp. Maar ten minste moet ons sê dat die kerklike belydenis oor die maagdelike geboorte van Jesus (soos bo gedefinieer) wel ‘n sterk Bybelse basis het, spesifiek soos verwoord in die geboorteverhale van Jesus volgens Matteus en Lukas.

 

 

image_pdfimage_print