Die Openbaring aan Johannes – Die eed van die engel – daar is nie meer tyd oor nie (10:5-7) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Die massiewe engel wat op die see en op die aarde staan, sweer, met sy regterhand na die hemel, by die ewige God, die Skepper van die hele wêreld (hemel, aarde, see) en alles daarin – ook die sataniese sprinkane en die heiliges, die opstandiges en die berouvolles, is deel van God se skepping. Die engel se eed (met God as regter oor sy optrede, Gen 14:22) is: ‘daar is nie meer tyd oor nie. In 6:10 vra die martelare hoe lank nog voordat hulle lyding en sterwe erkenning sal kry. Vir hulle word gesê om nog ‘n kort rukkie te rus tot die martelare voltallig is (6:11). Met die donderslae wat verseël is, is die uitstel egter gekanseleer, hoewel die verhaal van wat gaan gebeur nog eers verder vertel moet word in Openbaring, die boek met sy vinnige ontwikkelings wat tussenin vertragings rapporteer. Die einde is naby, maar word uitgestel totdat God se doeleindes met sy hele skepping bereik is.

Die eed van die engel gaan voort: die misterie van God se doel word ten volle bereik, soos Hy dit as goeie nuus (evangelie) aan sy eie slawe, die profete, aangekondig het (euangelizoo; vgl. Jesus se laaste woord aan die kruis in Jn 19:30: dit is volbring, nl. sy verlossingswerk is die misterie van God se goeie doel met die wêreld). Dit gebeur wanneer die sewende engel op sy trompet blaas. Die einde waarvan Daniël 12:6-10 praat, sal dan aanbreek. Dan sal die huidige koninkryk van die wêreld vervang word met die ewige koninkryk van ons Here en sy Messias/Christus/Gesalfde (11:15). Die goeie nuus word volbring wanneer daar op aarde erken en bely word dat Hy die alleenheerser is (11:14-19; 1 Kor 15:24-28). Die misterie van God se doel word in hoofstuk 11 uitgespel, en hoe God sy doel gaan bereik.

 

Johannes eet die boekrol (10:8-11)

Die stem uit die hemel praat weer met Johannes en beveel hom om die oop boekrol te gaan haal by die engel wat op land en see staan – die staanplek van die engel word vir die derde maal genoem (10:2,5,8) om te beklemtoon dat die boodskap in die boekrol universeel bedoel is, vir die hele bewoonde wêreld. Johannes neem die boekrolletjie uit die hand van die sterk engel, soos die Lam die boekrol uit die hand van God geneem het. Die opdrag dat hy die boek moet eet is simbool vir die inneem van die evangelieboodkap om dit deel van jouself te maak (vgl. Ps 19:10-12; Spr 24:13-14; Jer 15:16). Johannes eet die boekie en profeteer daarna aan/teen baie volke, nasies, tale en konings (vgl. Eseg 3:2-3).

Die opdrag en sy uitwerking word oorkruis gestel X: A-B-B-A

A dit sal jou maag bitter maak, B maar in jou mond sal dit soet soos heuning wees (v9)

B in my mond het dit so soet soos heuning gesmaak, A maar na ek dit geëet het, was dit bitter in my maag (v10)

Verkondigers van die Woord van God beleef die soetheid en bitterheid van hierdie boodskap. Die verkondiging van God se woord van verlossing is ‘n vreugde, maar die vervolging van ‘n vyandige en hardnekkige wêreld bring pyn en lyding. Die profeet ly onder vervolging vir die goeie nuus; en vir die ontvangers is die verlossingsboodskap dikwels ‘n oordeelswoord.

Die Griekse voorsetsel epi in vers 11 kan vertaal word as ‘aan’ of ‘teen’ baie volke, nasies, tale en konings. Die uitdrukking met die vier groepe om die ganse mensdom aan te dui en God se seggenskap oor almal, word sewe maal in Openbaring aangetref, soms vir die vyande van die evangelie (11:9; 13:7; 17:15), soms verwys dit na die verlosdes deur die Lam (5:9 en 7:9). Daarom is die neutrale voorsetsel ‘aan/teen’ gemik op ‘n positiewe en ‘n negatiewe reaksie op die woord (1983-vertaling: ‘aangaande’), en die 2014-vertaling ‘teen’ op die negatiewe reaksie, nl. die bitter wat Johannes sal ervaar. Christus se oorwinning is vir sy voltooiing aangewys op die Christene se ‘eet’ van die boodskap, en om God se woord te ‘eet’ is ‘n soet en bitter ondervinding, ‘n bevryding van sondebande, maar ook ‘n daaglikse stryd teen onsself en die versoekings van ons begeertes en die verleidings in die wêreld.

Dit is veral aan die konings, die heersers in die wêreld, dat die woord van God gebring moet word, maar ook aan al hulle volgelinge, aan die massas mense en groepe wat elkeen hulle eie kultuur het en deur die massa meegesleur word.

Skrywer: Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...