Die Openbaring aan Johannes – Die vyfde trompet – sprinkane (9:1-11) – Francois Malan

image_pdfimage_print

9:1-6 Die eerste vier trompette het plae aangekondig oor die skepping wat terugkeer tot die chaos voor die skepping (Gen 1:2). Die laaste drie is gerig teen die bewoners van die aarde, teen dié van hulle wat nie die seël van God ontvang het nie.

Met die vyfde trompet sien Johannes ‘n ster wat uit die hemel val met die sleutel van die bodemlose diepte, die baie diep onderaardse woonplek van die bose geeste en demone wat daar gevange gehou word. Met hulle gevangenis oopgesluit kan hulle kom pynig en doodmaak – met drie beperkings op hulle bose werke: op die tydspan van die pyniging en die voorwerpe van hulle aanslag: slegs vyf maande, nie die plantegroei nie, en slegs daardie mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie (beeld van hulle denke en geloof). Hulle kan nie buite God se plan optree nie. Die verstikkende rookwolk wat uit die bodemlose diepte opborrel, verduister die son en die lug. Dit staan teenoor die wierook van die gebede van die kinders van God wat ‘n aangename geur is vir die God van lig (8:4; 22:5).

Uit die rookwolk kom sprinkane (die agtste plaag in Egipte Eks 10:13-15; Joël 1:5-7) wat die karakter van die bodemlose diepte dra – dit is ‘n gesig oor wat met die aarde gebeur as God dit oorgee aan ander magte. Die vier lewende wesens van 4:6-8 het trekke van die aarde en die hemel. Maar hierdie kruising van swerms sprinkane met angels van skerpioene sal die mense so pynig, dat die mense daarna sal smag om dood te gaan (soos in 6:15-16). Hierdie kruisings is verderwers van die goeie skepping en verteenwoordig die skepping se opstand teen die Skepper, wat God se orde in die skepping wil omdraai.

9:7-11 Die eienskappe van die skerpioen-kruisings word telkens met vergelykings beskryf: net soos, iets soos, soos. Al kom hulle uit die onderwêreld is hulle ook soos iets in hierdie wêreld. Sprinkane wat soos perde lyk wat vir die oorlog gepanser is (vgl. Joël 2:4-5 se sprinkane), borsplate van yster, en die geluid van hulle vlerke soos van oorlogswaens wat instorm in die geveg, krone wat lyk soos goud, gesigte soos van mense, hare soos van vroue, tande soos van ‘n leeu, sterte soos van skerpioene. Hulle kom die orde van die skepping omgooi. Sprinkane verniel gewoonlik die plantegroei, maar hierdie massa pyl op die mense af. In die natuur het sprinkane geen leier nie (Spr 30:27), maar Abadon (in Hebreeus) Apollion (in Grieks) wat beteken ‘Vernietiging’ of ‘Vernietiger’ is die leier van hierdie sataniese horde wat teen die koninkryk van God opruk – keiser Domitianus het homself graag Apollo incarnatus genoem, die mensgeworde Apollo, die god van peste en plae, daarom bevat die benaming ‘n steek na sy goddelike pretensies. Sprinkane vreet met hulle bekke, maar hierdie lot gebruik hulle sterte om die mense te teister, soos die stert van die draak in Openb 12:4. Die bose kan baie vorms aanneem, maar het ‘n menslike gesig, want dit word veroorsaak deur die opstand van mense se wil teen die wil van God. Die bose het die mens se samewerking nodig om God se skepping af te takel.

In hulle sterte met die angels waarmee hulle die mense teitser, was daar krag vir vyf maande, ‘n simboliese getal (in 9:5,10; 17:10). Dit is die lewenssiklus van ‘n sprinkaan – hulle hele lewensspan is hulle daarmee besig. Maar dit hang ook saam met die mense se weiering om hulle afgode te los wat gemaak is van die vyf materiale: goud, silwer, brons, steen en hout (9:20).

9:12 is ‘n brug-uitspraak wat die eerste vyf trompette met die laaste twee verbind : die eerste wee!-uitspraak, wat mense met pyniging tot besinning roep (8:13), lui ook die twee volgende trompette in as waarskuwing vir die mense wat nie gesien het waartoe hulle afgodery en lewenstyl alreeds gelei het nie (vgl. 9:20).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...