Die profete in die Ou Testament

image_pdfimage_print

 

“We should not interpret Scripture in the light of our experiences, but rather, interpret our experiences in the penetrating light of Scripture” (D. Martyn Lloyd-Jones).

 

Die profete in die Ou Testament

Mel Lawrenz vra of die geskrifte van die profete nog van enige waarde vir ons is. Tipiese vrae as ons hierdie boeke lees, is:Waarvan praat hulle? Gaan dit oor hulle of oor ons? Gaan profesie oor die verlede of oor die toekoms?

 

As ons die Bybel interpreteer, is die eenvoudigste en mees natuurlike verduideliking gewoonlik die beste. Meeste van die gebeure waarvan die Ou Testamentiese profete praat, is vervul in die tyd waartydens hulle aangekondig is. Wat ons wel kan doen, is om sekere beginsels te identifiseer en hulle op vars maniere in ons lewens toe te pas.

 

In die Ou Testament was ‘n profeet ‘n persoon wat geroep is om God se woord aan die mense oor te dra. Hy was nie ‘n fortuinverteller nie, maar ‘n verkondiger. Hy bring woorde van gerusstelling en belofte, maar ook van konfrontasie en waarskuwing.

 

Daar is 16 boeke genoem “die profete” – vier groot (Jesaja, Jeremia, Esegiël en Daniël) en twaalf klein profete (Amos tot by Maleagi). Groot en klein verwys na die lengte van die boeke en nie na hulle belang nie. Hulle is geskryf tussen 760 en 460 vC.

 

Die waarheid van die Bybel is dat mense – selfs God se verbondsmense – in sonde verval het. Ons kry nimmereindige siklusse van gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid. Daarom praat God deur die profete. Hulle konfronteer, waarsku en vertroos. Hulle wys dikwels op die gevolge van ongehoorsaamheid en ontrou.

 

Sekere gedeeltes word eers eeue later vervul; ander word vervul tydens die leeftyd van die profeet. Hoe moet ons dan hierdie boeke lees? Hier is ‘n paar aanbevelings:

  1. Lees hierdie boeke in segmente en nie vers vir vers nie.

Luister na die geestelike beweging in die profesieë en moenie in fyn besonderhede vasgevang word nie. Kry die groot prentjie van die geestelike dinamika in die gedeelte. Die beste wat ons uit hierdie boeke kry, is nie gebeure en tydskale nie, maar die groot geestelike werklikhede van die lewe – insluitend insigte in ongehoorsaamheid en sonde en oor die oordeel en genade van God.

 

  1. Gebruik hulpmiddels

Gebruik woordeboeke en kommentare.

 

  1. Pas die geestelike lesse van die profete toe op ons lewens vandag

Hierdie boeke is die woord van God aan ons. Ons moet die verskil tussen die ou en nuwe verbond verstaan as ons die lesse bepaal.

 

  1. Word deur die woord van die profete verryk

Moenie deur hulle ingewikkeldheid ontmoedig word nie. Dit is net omdat God die mensdom liefgehad het dat Hy deur die profete gepraat het.

 

Volgende keer gaan ons na die boodskap van die profete kyk.

 

image_pdfimage_print