Die Here se verhouding met Israel (54:1-8) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Met ‘n verskeidenheid beelde vier hierdie gedig Israel se nuwe status as bevrydes uit die ballingskap, deur die Here bevry, beskerm, omhels en geseën.

54:1-8 ‘n Geliefde en geseënde vrou. Beelde van ‘n huwelik en gesin beskryf die verhouding tussen die Here en Israel.

54:1 Die onvrugbare vrou word verseker dat sy met kinders geseën gaan word (soos Sara Gen 21:1-7). Hier is die onvrugbare vrou egter ‘n beeld van Israel se hooploosheid in die ballingskap en ‘n beeld van Jerusalem wat in puin lê sonder inwoners. Die belofte van ‘n kinderseën is die simbool vir Israel se hoopvolle toekoms wat nou gaan aanbreek. Hulle wanhoop is verbeeld as onvrugbaarheid, en die vreugdevolle vooruitsig van herstel as die geboorte van kinders. Die hoofstuk begin met drie opdragte: Jubel! Open julle mond om te sing! Juig! Die digter voorsien uitbundige vreugde vir die ballinge wat terugkom, soos by die langverwagte geboorte van ‘n kind wat eindelik voorsien word. Want die kinders van ‘onvrugbare’ Israel sal meer wees as dié van ‘getroude’ Babel, wat geen vreugdevolle toekoms het nie, teenoor die onvrugbare Jerusalem wat meer inwoners sal hê as wat daar voor die ballingskap gewoon het.

54:2 Die volgende vyf opdragte gebruik ‘n ander beeld, die van ‘n bedoeine tent, soos van Abraham (Gen 18:1). Dit is nodig dat die tent groter gemaak word, en stewiger gemaak word met toue en tentpenne. Want die tent gaan krioel van kinders wat orals gaan klim en die tent sal omgooi as hy nie stewiger geanker word nie. Jerusalem moet uitgebrei en sy mure stewig herbou word.

54:3 Die teruggekeerdes sal vreemde volke aantref in party van hulle vorige stede. Nou sê die Here in die gedig: jy sal na regs en na links uitbreek – van Jerusalem af na die dorpe en stede in die land – en jou saad (kinders) sal die nasies onderwerp/in besit neem – die stede wat hulle beset het terwyl Israel in ballingskap was (vgl. Gen 22:17 se belofte). Die ander stede wat nog verwoes lê sal weer herstel en bewoon word. Met die terugkeer uit die ballingskap herleef die ou beloftes en herinnerings aan die uittog uit Egipte 700 jaar tevore op dramatiese en vrugbare wyse.

54:4 Die beeld om Israel se ballingskap te beskryf verander  van ‘n onvrugbare vrou (v1), en ‘n bedoeine tent (v2) na ‘weduweeskap.’  Met die dood van haar man was ‘n weduwee sonder enige regte soos ‘n vreemdeling, en is sy dikwels onderdruk en uitgebuit. So was Israel in ballingskap gestroop van al haar regte en was verdruk. So is Israel in Babel gespot as ‘n volk wie se God dood is. Aan Israel word gesê: moenie vrees nie! Sy sal nie weer in die skande kom nie; nie meer aan die vernedering van haar weduweeskap dink nie. Dit gaan nou radikaal verander.

54:5 Haar Eienaar/Man (haar Baal in Hebreeus) is haar Maker (Skepper). Sy Naam is die HERE van die leërskare (die Almagtige). En jou Losser is die Heilige van Israel (wat aan Israel toegewy is). Hy sal genoem word: die God van die ganse aarde!  Die Losser herstel die vrou se regte en besittings en eer (Rut 3:9; 4:5). Die HERE is die altyd persoonlike teenwoordige Ek is. Die ganse aarde moet Hom as God vereer en dien. Hy beheer die leërs van die hemel en van die aarde, en is toegewy aan sy volk wat Hy gemaak het . Daarom: moenie bang wees nie (God is vír ons. Wie kan dan teen ons wees? Rm 8:31).

54:6  Die beeld vir Israel se ballingskap verskuif  weer. Nou word Israel geskilder as ‘n geskeide vrou, met ‘n verstote gees, en soos ‘n vrou wat deur jong mans verwerp is – ‘n oujongnooi.  Vir Israel sê jou God, Ek het jou geroep, uitgenooi. Die wete dat God haar geroep het verseker vir Israel, die geskeide vrou, van die herstel van haar waardigheid, sekuriteit en ‘n goeie lewe.

54:7-8 Vir ‘n kort kort oomblik het Ek jou verlaat, maar met groot liefdesbetuigings maak Ek jou bymekaar (soos   skape wat verstrooi is). Met strome (sjêtsêf) van toorn (kêtsêf) het Ek my gesig vir jou vir ‘n wyle verberg, maar met ewige liefde het Ek jou lief, sê die HERE, jou Losser. Vir die ballingskap se 75 jaar het die Here die gesig van sy ewige liefde vir Israel verberg. Hulle het toe gekla: Die Here sien nie wat van my word nie (40:27). Maar sy liefde is ewig – ook in die ballingskap (Ps 30:6). Aan die kruis, met die straf op die sonde van die ganse mensdom op Hom, het Jesus, in solidariteit met die sondaars van die hele aarde, vir ’n kort oomblik gekla: My God, my God waarom het U my verlaat (Mt 27:46), maar daarna, met volle vertroue, met ‘n harde stem uitgeroep: Vader, in u hande gee Ek my gees oor, en sy asem uitgeblaas (Lk 23:46).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...