Die seënuitsprake van Jesus (21)

image_pdfimage_print

 

Die seënuitsprake van Jesus (21)

In die begin van die bergrede lees ons dat Jesus teen die berg opgegaan het, gaan sit het en Hy het hulle geleer:

Geseënd is dié wat geestelik arm is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Geseënd is dié mense wat treur, want hulle sal die aarde erf.

Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.

 Geseënd is dié wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word.

Geseënd is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid ontvang.

Geseënd is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien.

Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

Geseënd is die mense wat vervolg word ter wille van geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Matteus 5:3 – 10 (Nuwe Testament en psalms , Direkte Vertaling. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. (2014).

Colin S. Smith het ‘n baie interessante boek geskryf oor die seënuitsprake van Jesus: Momentum -Pursuing God’s Blessings Trough the Beatitudes (2016).  Die boek sê wat ons kan doen om die momentum in die Christelike lewe, wat ons almal soek, te kan kry. Ek gaan ‘n hele paar blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Ons kyk nou na ‘n aantal praktyke wat reinheid van hart bevorder.

 

  1. Geloof

Jy vertrou Christus om jou te verander. Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom. Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou (1 Tessalonisense 5:23 – 24).  Vooruitgang in die Christen se lewe begin as hy glo dat Christus hom kan reinig.  Wanneer jy glo dat jou versoekings te sterk is, jou mislukkings te veel is, jou wonde te diep is en jou vordering te stadig, kyk na die opgestane Verlosser wat in staat is om jou te reinig en vertrou op Hom. Hy kan jou heilig maak en Hy sal, maar Hy roep jou om aktief betrokke te wees.

 

  1. Bely; Noem en staan besondere sondes teen

Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Johannes 1:9). Bely en reiniging staan naby aan mekaar. As jy gereinig wil word, moet jy die sondes waarvan jy gereinig wil word, identifiseer en neerskryf.

 

Eerstens moet ons ons sondes aan God bely. Die Bybel praat ook van die genesing wat kom as ons ons sondes teenoor mekaar bely. Bely julle sondes teenoor mekaar en bid vir mekaar sodat julle gesond kan word (Jakobus 5:16). Kry ‘n volwasse gelowige of ‘n klein groepie Christelike vriende met wie jy eerlik kan wees, wetende dat hulle saam met jou sal bid veral as jy sukkel om ‘n hardkoppige sonde te oorwin. Christus se proses vir die najaag van reinheid is dat ons mekaar sal help – elke Christen het iets om te gee en iets om te ontvang.

 

  1. Luister: verdiep jouself in die Woord van God

God was die mense met die Woord. Die Skrif is noodsaaklik vir jou najaag van reinheid. Daarom bid Jesus vir sy dissipels: Laat hulle aan U toegewyd wees deur die waarheid. U woord is die waarheid (Johannes 17:17). Die psalmis vra hoe ‘n jongmens sy lewe skoon kan hou, en antwoord dan: Deur hom te hou aan u woord (PSALM 119:9). Mense wie se lewens betekenisvol verander is, is soos sponse. Hulle absorbeer die woord van God. Hulle bêre die Skrif in hulle harte en dit het ‘n reinigende effek op hulle lewens. Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig (Psalm 119;130) die woord van God het ‘n reinigende effek op jou lewe. Jy moenie net lees nie, jy moet ook nadink, toepas, glo, bely en verheug jou in sy woord.

 

  1. Aanbid: die praktyk om na die heerlikheid van God te staar

Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is (2 Korintiërs 3:18)

Paulus beskryf hier ‘n persoon wat verander is en Hy sê dit gebeur as ons die heerlikheid van die Here aanskou. Hy beskryf hier ‘n proses van verandering wat in die lewens van Christene gebeur as hulle aanbid. Aanbidding is meer as die bywoning van ‘n erediens op Sondae. Dit is om die grootheid en heerlikheid van God te aanskou. Kyk na die belofte in hierdie seënuitspraak: Hulle sal God sien.

 

Jesaja was ‘n profeet wat al jare die Here gedien het. Toe sien hy die Here in ‘n visioen Hy sien God se heerlikheid en word bewus waar hy in reinheid moes groei: Elke woord oor my lippe is onrein en ek woon onder ‘n volk van wie elke woord onrein is (Jesaja6:5).

 

  1. Vra: bid vir reinheid

Was my dat ek witter as sneeu kan wees (Psalm 51:9). Psalm 51 is ‘n wonderlike gebed vir reinheid. Die psalmis voel asof sy skuld aan hom vasklou. Die sonde het die blydskap uit sy lewe geneem en daarom bid hy: Laat my weer blydskap en vreugde belewe. U het my verbrysel; laat my weer jubel (51:10). Gebed gee jou ‘n wonderlike toegang tot God op enige tyd en onder alle omstandighede. Die Psalmis word nie wanhopig nie, maar bring sy skuld na die Here en bid vir reiniging. Die psalmis bid verder: Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig (51:12).

  1. Volharding: Staan op as jy geval het

Moet jou nie oor my verlekker nie, my vyand. Al het ek tot ‘n val gekom, ek sal weer opstaan, al sit ek in die donker, die Here is my lig (Miga 7:8).

Niemand maak ononderbroke vooruitgang op die pad na reinheid nie. Ons  struikel en val. Die mense wat in die Christelike lewe vooruitgang maak, is die mense wat opstaan na hulle geval het.. Die stryd vir reinheid is ‘n lang een. Dit is ‘n maraton eerder as ‘n naelloop. Die mag van sonde word bietjie vir bietjie afgebreek.

As jy baie geseënd is, kom sonde terug na jou, want jy raak gerus. Moet net nooit tou opgooi nie.

  1. Antisipeer: Weet wie jy is en verheug jou in wat jy sal wees

Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God . Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is (1 Johannes 3:2).

Christus sê vir jou wie jy is. Vergewe en versoen met die Vader, ‘n kind van God. Die liefde van die Vader is oor jou uitgestort. Jy is in die familie van God aangeneem. As jy dink aan wat jy sal wees, sal jou help as jy val. Jy moet dus nie ontmoedig word as jy val nie. Dit is nie die einde nie.

Reinheid is iets wat jy kry soos jy in die Christelike lewe groei. Dit is nie iets agter jou wat jy verloor het nie. Dit is iets voor jou wat jy moet najaag en bekom.

 

 

image_pdfimage_print