Die Superman-vers

image_pdfimage_print

“I am always doing things I can’t do, that’s how I get to do them.”Pablo Picasso

 

Die Superman-vers

Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee (Filippense 4:13)

Ben Witherington skryf ‘n interessante blog hieroor. Ons sien vandag T-hemde met Fil 4:13 daarop. Soos Superman kan ons nou oor hoë geboue vlieg en gaan waar niemand nog vantevore gegaan het nie.

  

Hy skets dat die volgende konteks ten opsigte van hierdie vers:

Ek weet wat dit is om nederig te wees; ek weet wat dit is om oorvloed te hê. Onder alle omstandighede het ek die geheim geleer oor hoe om tevrede te wees, selfs as ek honger ly. Ek is in staat/sterk genoeg om alles te verduur in Hom wat my bemagtig/in staat stel.

 

Wat Paulus hier sê, is dat onder watter omstandighede ook al God aan hom die krag en vermoë gegee het om te volhard en tevrede te wees – selfs al moet hy honger ly. Dit beteken beslis nie: “Met ‘n bietjie hulp van God kan ek alles doen,” nie. Dit is ‘n vers oor volharding in God se wil en op sy weg, nie oor persoonlike sukses of triomf nie. Dit gaan nie oor ‘n individuele oorwinning nie. Dit beteken beslis nie dat God ons sal help om ons begeertes en doelwitte te bereik nie. Dit gaan oor Paulus wat hom aan God se doelwitte en planne onderwerp en God wat hom die krag gee om dit te doen. Onthou hy was onder huisarres toe hy hierdie brief geskryf het.

 

Waar kom die Superman interpretasie vandaan? Ons moderne mense glo dat ons enigiets kan doen as ons net wil – miskien so ‘n bietjie hulp van Bo en ‘n bietjie geluk. Maar dit is nie hoe die wêreld werk nie. Ons is nie in beheer nie; ons bepaal nie ons eie lot nie; ons is nie die kaptein van ons eie lewensboot nie. Christus is ons Here; ons is duur gekoop. Dit gaan nie oor ons drome, doelwitte en agendas nie en om vir God te oorreed om ons te help nie. Soos Paulus gaan dit oor die doen van God se wil al beteken dit swaarkry en lyding … en honger. Paulus sê: “Ek kan alles hanteer wat die wêreld na my kant toe gooi. Hoekom? Want Hy gee aan my die krag wat ek nodig het.” Hierdie het niks met ons suksesdroom te doen nie. Niks.

 

Jesus se geboortedag. Hoekom moes Jesus kom? Omdat ons uit ons eie nie in staat is om onsself te verlos nie.

 

image_pdfimage_print