Die tekens van die tyd

image_pdfimage_print

DIE TEKENS VAN DIE TYD

Die sogenaamde tekens van die tyd word in Markus 13 en Matteus 24 beskryf. Die tekens bestaan uit algemene rampe, druk van buite die kring van gelowiges, druk van binne en die verkondiging van die evangelie aan almal. Die bedoeling van die tekens is nie om berekenings te maak oor wanneer die einde van die wêreld aanbreek nie, maar om gelowiges waaksaam te maak en op te roep tot ‘n lewe van volgehoue toewyding aan Jesus. 

1.         Aanloop

Van tyd tot tyd vlam die bespiegelings op rondom die sogenaamde tekens van die tyd. Dan wonder mense of die tyd nie naby is dat die wederkoms van Christus sal plaasvind nie.

Kom ons kyk onbevange wat die bedoeling van die tekens van die tyd is. Ek konsentreer op Matteus 24.

 

2.         Die tekens van die tyd

In Matteus 24:3 vra die dissipels vir Jesus: “… wat is die teken van u koms en van die einde van die wêreld?” Matteus 24 bevat dan Jesus se antwoord op hierdie vraag.

Die tekens kan soos volg ingedeel word:

  •          Algemene rampe: oorloë, opstande, hongersnode en aardbewings (24:5-8);
  •          Druk van buite: vervolging, haat en onderdrukking (24:9,15-22);
  •          Druk van binne: afvalligheid, verraad, haat, misleiding (vals profete en Christusse),
  •          Minagting van die wet en liefdeloosheid (24:10-12,23-28); en
  •          Die verkondiging van die evangelie aan die hele wêreld (24:14).

 

Die basiese gedagte is dat gelowiges nie weet wanneer die einde kom nie – nie eens die Seun weet dit nie, net die Vader (24:36). Met die tekens wil Matteus dus die houding en gedrag van gelowiges bepaal terwyl hulle wag op die einde. Daar vind ‘n etisering van die tekens plaas, sonder dat die toekomsaspek verlore gaan. [Etiseer = eties maak; op etiese grondslag behandel, uit etiese oogpunt beskou, met etiese hoedanighede beklee – WAT]

Uit hierdie etisering blyk duidelik dat die fokus weg van berekening na voordurende bekering verskuif. In elk geval is die tekens nie goed vir berekenings nie, want hulle is nog maar net geboortepyne van God se nuwe wêreld, die begín van die nuwe tyd (24:8). En verder is die tekens uiters non-spesifiek. Dis dinge wat met reëlmaat in die geskiedenis van die wêreld voorkom. Daar’s niks uniek aan hulle nie.

 

3.         Die nabyheid van die einde van die tyd

Verder sê Matteus 24:33 dat die einde van die tyd naby is, voor die deur; nog in Jesus en Matteus se tyd sal dit gebeur. Op een lyn hiermee het die kerk van die eerste eeu ‘n dringende wederkomsverwagting gehad. Vergelyk die roep van die gemeente in 1 Korintiërs 16:22 (“kom, Here”), en die gemeente se versugting dat die Here moet kom (Openbaring 22:17), en Jesus wat belowe: “Ja, Ek kom gou” (Openbaring 22:20).

Die vraag is wat ons vandag met hierdie naby-verwagting van die wederkoms moet maak. Sit ons verleë daarmee?

 

Dit is nie eenvoudige vrae hierdie nie. Tog is daar aanduidings in watter rigting die antwoorde gesoek moet word.

  •          Eerstens moet ons sê dat die wederkoms altyd naby is, want sedert Christus se eerste koms leef ons in die laaste dae.
  •          Maar tweedens moet ons sê dat eindtyd en genadetyd klaarblyklik hand aan hand gaan. Hulle sluit mekaar nie uit nie. Die eindtyd is die tyd van bekering.
  •          Derdens, God se “gou” en ons “gou” is nie dieselfde nie. God werk met ‘n ander tydskaal. Gelowiges moet leer – en hét deur die eeue geleer – om geduldig op Gód se tyd te wag.
  •          Vierdens, God se beloftes omtrent die einddinge kan herhaaldelik in vervulling gaan.
  •          En vyfdens moet ons ook vashou aan die vrye vervulling van God se beloftes.

Die tekens is eerder suggesties wat ‘n appèl op die verbeelding maak as wat dit eksakte voorspellings is. Ons moet dus daarmee rekening hou dat die uiteindelike vervulling van God se beloftes verrassend anders mag wees as wat ons ervaring aan ons voorskryf.

 

4.         Die einde van alles as die koms van Jesus

Dis veelseggend dat Matteus die enigste Evangelie is wat die woord parousía (“koms”) vir die eindgebeure gebruik. In Matteus 24:3 vra die dissipels vir Jesus: “Wat sal die teken van u koms (parousía) en van die einde van die wêreld wees?” Dit gaan dus nie maar net oor dinge wat gebeur by die einde van die wêreld nie, maar oor die koms van ‘n Persoon, Jesus Christus.

Wat hou hierdie insig vir ons onderwerp in?

  • Eerstens beteken dit dat ons wederkomsverwagtinge ‘n persoonlike verhoudingskarakter dra. Ons verwag nie maar net die einde van die huidige bedeling nie, maar dat die verhouding wat reeds tussen ons en die verhoogde Here bestaan, dan op ‘n volmaakte manier voortgesit sal word.
  • Tweedens beteken dit dat die gespanne verwagting rondom sy wederkoms getemper word. Deur die Heilige Gees ontvang ons reeds ‘n voorsmakie van die krag van die eindtyd soos dit sigbaar geword het in Jesus Christus.

 

5.         Samevatting

Die tekens van die tyd laat ons dus nie skarrel om paniekerig berekenings te maak nie, maar roep ons op tot ‘n lewe van volgehoue toewyding aan Jesus.

 

 

image_pdfimage_print