DIE VERBOND VAN ABRAHAM EN DIE NUWE TESTAMENT

image_pdfimage_print

DIE VERBOND VAN ABRAHAM EN DIE NUWE TESTAMENT

a) Wat is ‘n verbond? ‘n Verbond, soos ons dit in die Bybel sien, is ‘n ander woord vir ‘n ooreenkoms, maar dan ‘n bindende ooreenkoms met sekere voorwaardes tussen twee partye – elkeen moet iets doen of het ‘n verantwoordelikheid wat vasgelê word.

Byvoorbeeld, God sou sê dat Hy vir sy volk sal sorg (sy bydrae), maar dan moet hulle volgens sy wet lewe (hulle bydrae). Daar kan dus ook meer as een verbond gesluit word, afhangende van die situasie, sonder dat die een verbond die ander verbond ongeldig maak.  

b) Die verbond met Abraham: Daar is heelwat “verbonde” waarvan ons in die Ou Testament lees, byvoorbeeld met Noag (Genesis 9), met Abraham (Genesis 15), met die volk by Sinaï (Eksodus 24) en so meer. Dit is God wat met sy mense ooreenkomste op verskillende tye in die geskiedenis maak. Waar pas Abraham in die geskiedenis in? God maak eers die eerste mense en hoop om so met die mensdom ‘n pad saam te loop. Adam en Eva sondig egter gou en word uit die tuin uitgesit. Die sonde bou egter so op dat God besluit om “weer voor te begin”. Hy sonder vir Noag af om pare (manlik en vroulik) van alles bymekaar te maak sodat daar weer voortgeplant kan word. Die res van die sondige skepping word met ‘n vloed weggevee. Skaars het Noag sy voete op droë grond gesit, of hy en sy kinders sondig weer. Dit alles loop op die bou van die toring van Babel uit waar die mense soos God wou wees. Dan verwar God die mense en hulle bars in alle rigtings. God maak nou ‘n nuwe plan – Hy sonder vir Hom een man en een familie uit om syne te wees. Nie met al die mense van die mensdom nie, maar spesifiek met hierdie familie wil Hy nou ‘n pad stap. God roep vir Abraham (12:1-4) en as die stamvader, maak Hy met hom ‘n ooreenkoms. Hy sal vir hulle ‘n God wees en hulle moet vir Hom ‘n volk wees (Lees van Genesis 12 af die verhaal van Abraham, maar veral in Genesis 17 kry ons die werklike verbondstaal). Deur hierdie verbond het God homself dus verbind aan mense wat uit Abraham stam, mits hulle natuurlik hulle deel van die verbond nakom. 

c) Abraham in die Nuwe Testament: In die Nuwe Testament verander wat presies onder “Abraham” verstaan word. Daar is natuurlik baie plekke waar dit duidelik word, maar kom ons konsentreer op twee:

  •          Lees Johannes 8:31-41 waar Jesus met sy opponente argumenteer. Hulle beweer hulle is die nageslag van Abraham (8:33 – en natuurlik van sy verbond). Jesus gee dit ook toe (8:37), maar maak dan ‘n belangrike opmerking: Hulle is nie meer kinders van Abraham nie en hy is nie meer hulle vader nie, met ander woorde, hulle is nie meer die familie van Abraham nie en deel daarom ook nie meer aan die voorregte van Abraham en sy verbond nie. Waarom nie? Omdat hulle optrede en die feit dat hulle nie in Jesus, die Seun van God, wil glo nie, wys hulle staan nie meer in die lyn van die mense met wie God die verbond gesluit het nie. Menslik gesproke is hulle nog nageslag, maar geestelik gesproke is hulle nie meer nageslag nie. Die nageslag van Abraham is almal wat in Jesus glo. Hulle is nou die werklike (geestelike) kinders van Abraham. (Kyk ook hoe Jesus sy en Abraham se verhouding beskryf in 8:54-58).
  •          In Romeine 4 is die vraag of ‘n mens deur geloof gered kan word en of die Wet nie nodig is nie. Paulus argumenteer dat Abraham deur geloof vrygespreek is lank voor daar ‘n Wet (Sinaï) was. Geloof is die sleutel (lees Romeine 4:1-12) tot redding en vryspraak en nie die Wet of besnydenis nie. Daarom is almal wat GLO “nakomelinge” van Abraham. Die nageslag van Abraham is dus hier almal wat glo en nie noodwendig die wat fisies as sodanig gebore is nie (lees tog ook Romeine 9-11 oor die Jode). Daar is dus ‘n verbreding van wie die nakomelinge van Abraham is. Almal wat in God deur Jesus glo (sien Romeine 3:21vv.) is nakomelinge van Abraham en die nuwe volk van God. Uit hierdie deel is dit ook duidelik dat besnydenis nie nodig is nie, maar wel geloof.
  •          Lees ook nou Galasiërs 3:4vv: “4Was al julle swaarkry dan verniet? Dit kon tog nie verniet gewees het nie! 5Hy wat julle met die Heilige Gees toerus en kragtig onder julle werk, doen Hy dit omdat julle die wet onderhou of omdat julle die evangelie glo? 6So was dit ook met Abraham: “Hy het in God geglo, en God het hom vrygespreek.” 7Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is. 8Die Skrif het vooruit geweet dat God ook mense wat nie Jode is nie, sou vryspreek as hulle glo. Daarom het die Skrif al voorheen die goeie nuus vir Abraham gebring: “In jou sal al die nasies geseën word.” 9Dit is dus dié wat glo, wat saam met die gelowige Abraham geseën word… 14Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het”.

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 

image_pdfimage_print

You may also like...