Die verhaal van Josef (2)

image_pdfimage_print

He who has never learned to obey cannot be a good commander. —Aristoteles

Die verhaal van Josef (2)

God hoor Josef se gebede, maar nie op die manier en tyd wat Josef vra nie. Dit lyk asof God verborge is. Maar tog vertrou Josef steeds vir God. Toe hy in die tronk sit en die bakker en skinker  se drome moes uitlê, sê hy vir hulle: God ken julle drome se uitleg (Genesis 40:8). Hy vertrou dat God hom sal help om hulle drome uit te lê. Hy het nie sy rug op God gedraai omdat God nie sy gebede verhoor het nie. Uiteindelik sou Josef sien wat God se plan met hom was. As hy dan op sy lewe sou terugkyk, sou hy besef het dat God die hele tyd by hom was en aan die werk was.

 

In 2 Konings 6:8 – 23 lees ons dat die koning van Aram mense stuur om Elisa te vang. Elisa was op daardie stadium in Dotam. Die koning omsingel die stad. Die môre vroeg sien die slaaf die leër van die koning om die stad – met perde en strydwaens. Hy is bang. Elisa het gebid: “Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien.” Die Here het die oë van die slaaf oopgemaak, en hy het gesien. God antwoord Elisa se gebed onmiddellik. In Josef se geval doen Hy dit nie. God was net so teenwoordig en aktief in sy stadige antwoord aan Josef as in sy vinnige antwoord aan Elisa.

Dikwels gee God nie vir my wat ek vra nie – Hy gee vir my wat ek sou gevra het as ek, soos Hy, alles geweet het. Ek weet nie genoeg om bitter te wees of om my rug op God te draai as Hy my gebede anders antwoord as wat ek gevra het nie. Ek kan nie die doel wat Hy vir my het, verydel nie. Ek moet God vertrou.

Na Jakob se dood is Josef se broers bang. Gaan Josef nie nou dat hulle pa oorlede is wraak neem nie? Maar dan antwoord Josef hulle: Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie. Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ‘n groot volk aan die lewe gebly het. Moenie bang wees nie. Ek sal sorg dat julle en julle kinders kos het (Genesis 50:19 – 21).

Hieruit leer ek ‘n ongelooflike les: Josef aanvaar dat agter alles wat gebeur het, die goedheid en liefde van God was. Maak nie saak wat ek verkeerd doen nie God gebruik dit ten goede. Dit is presies wat Paulus sê: Ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28). Paulus en Josef sê dit maak nie saak hoe sleg dinge vir my lyk nie, kan ek seker wees dat Hy my liefhet. As ek my deur Jesus Christus aan God gegee het, is ek syne en Hy is myne. Niks kan dit ooit verander nie.

Alles wat met Josef gebeur is deel van God se plan – ook die klein en slegte dinge. Meestal sien ons nie wat God alles vir ons doen nie. Everything is needful that he sends, nothing can be needful that he withholds (John Newton).

 

Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie. Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ‘n groot volk aan die lewe gebly het. Moenie bang wees nie. Ek sal sorg dat julle en julle kinders kos het (Genesis 50:19 – 21).

Josef sien God se hand selfs agter die slegte dinge wat met hom gebeur het. Dit stel hom in staat om sy broers te vergewe. Eeue later kom Jesus: Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie (Johannes 1:11). Jesus word ook verkoop. Judas gaan na die priesterhoofde: Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom. Hulle het hom toe dertig silwermuntstukke betaal (Matteus 26:14 – 16). Hy word ook verloën; Hy word onregverdig ter dood veroordeel. Jesus besef dat sy lyding deel van God se plan was. Vir Pilatus sê Hy: U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee  was nie (Johannes 19:11).

Jesus Christus sterf vir die mense. Sy vyande het gedink sy kruisdood sou alles beëindig, maar God gebruik dit om baie lewens te red. Vandag sit Jesus Christus aan die regterhand van God vanwaar hy die geskiedenis reël en ons beskerm.

As ek voor die kruis sou staan, sal ek nie kan sien dat God iets goed hieruit kan bring nie. Tog is dit die beste ding wat God nog ooit vir die mensdom gedoen het. Hiermee het Hy die bose, die sonde en die dood oorwin. Maar dan moet ek doen wat Jesus Christus gedoen het – ek moet God ten volle vertrou. Die dood van Jesus Christus was nie ‘n tragedie nie. ‘

Ek mag dalk nie alles verstaan nie, maar ek moet God vertrou.

image_pdfimage_print

You may also like...