Die Eerste Brief van Johannes: Die vierde vereiste vir kinders van God – om lief te hê (vervolg) (b) God se liefde as dryfeer om lief te hê (4:11-13) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Ná die digterlike gedeelte oor God as die bron van die liefde (4:7-10), volg ‘n stuk prosa oor die inspirasie wat God se liefde in ons bewerk (4:11-16). Die evangelie is gebou op die liefde van God, wat daarna soek dat ons in liefde daarop sal reageer. Die kennis dat God liefde is, moet tot ‘n lewe van liefde lei:

 

4:11 ‘Geliefdes!, aangesien God ons só liefgehad het, behoort ook óns mekaar lief te hê.’ Wie ook al God se onbegryplik-grote liefde ervaar het, is onder verpligting om dit aan ander deur te gee. Dit is die vrug van die Heilige Gees se werking in ons (Gal. 5:22). Johannes sê nie ons moet God liefhê omdat Hy ons só liefhet nie. Dit word moontlik geïmpliseer. Maar God se liefde kan nie op ‘n ander manier in die wêreld gesien word nie as dat ons mekaar liefhet. Dit is die regte reaksie op God se liefde vir ons (vgl. by 4:12; Joh 13:35; 17:21).

Liefde is ‘n gawe van God, maar ook ‘n opdrag, ‘n liefdesplig, nie ‘n opsionele ekstra nie. Dié opdrag is nie te swaar nie, omdat God se opgawe deel uitmaak van sy gawe – Hy stel ons ook daartoe in staat. Hy is die kragbron van ons liefdesbetoon, wat vryelik na ander kan vloei, deurdat Hy ons vry maak van hindernisse en die selfsug in onsself. Wat dit behels word in die volgende verse verder beskryf.

 

4:12 ‘Niemand het God ooit aanskou nie’ (nie sy stem gehoor of gestalte gesien nie, behalwe net die Seun; Jn 1:18; 5:37; 6:46), ‘maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons…’ en so kan mense God leer ken, sy liefde ‘sien,’ in mense wat aan Jesus verbind is se liefde vir mekaar. Deur sy liefdesoffer aan die kruis het Jesus die Vader se liefde geopenbaar. Die God van liefde woon in die gelowiges deur sy Gees. Deur die gelowiges se onderlinge liefde, maak Hy sy liefde aan ander bekend.

Johannes bestry die dwaalleraars wat beweer dat hulle God ken en liefhet, maar sy gebod om ander lief te hê, verontagsaam. Maar as ons mekaar liefhet, weet ons dat God liefde is, dat ons Hom ken en liefhet, dat Hy in ons woon en dat Hy ons vrymaak van onsself, om sy liefde uit te straal en uit te lewe na ander toe. Ons onderlinge liefde is die bewys dat God in ons bly (Jn 17:20-26).

‘…en het sy liefde in ons tot vervulling gekom’ – God bereik sy doel daarmee; sy soort liefde vir ons, en ons liefde vir Hom word ten volle uitgewerk/gerealiseer in die liefdesgemeenskap van die gelowiges en ons optrede teenoor ander buite die geloofsgemeenskap (vgl. 1 Jn 2:5).

Johannes beskryf drie waarhede oor die liefde van God om ons te lei tot liefde onder gelowiges: i God is liefde (4:8-9); ii God het ons lief (4:10-11); iii God bly in ons en werk sy liefde in en tussen ons uit (4:12).

 

4:13 Dat God in ons bly (4:12) word hier verder uitgewerk: ‘Hieraan weet ons dat Hy in ons bly en ons in Hom:…’ Waar 3:9 van die indiwiduele gelowige gepraat het, word hier na die gemeente, ‘ons,’ verwys, dat God in die onderlinge liefdesgemeenskap bly, en die gemeente op die regte spoor is as hulle mekaar liefhet.

‘…Hy het ons aan sy Gees laat deel kry.’ Gelowiges ontvang ‘n aandeel aan die Gees van God wat die hele kerk van Christus vul. Die Gees oortuig ons dat God, wat liefde is, in ons bly (Jn 14:23). Só help die Gees ons om mekaar lief te hê en deur ons onderlinge liefde seker te wees van ons kindskap van God (Rm 8:16). Om in God te bly, beteken dat ons sy gebooie gehoorsaam, naamlik dat ons in Hom moet glo en mekaar moet liefhê (vgl. die rol van die Gees daarin; 3:23-24; 4:1-3). Die onderlinge liefde beteken dat ons mekaar sal verdra en vergewe en dien (Efesiërs 4:1-5; Ef 5:1-2; Flp 2:1-5).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...