Die voorbeeld van die vyeboom

image_pdfimage_print

 

We will never be so holy as to meet God’s standard and we are never too wicked as to be beyond his rescue. —Paul Tripp

 

Die voorbeeld van die vyeboom

As deel van Jesus se profetiese rede lees ons in Markus 16:28 – 31 van die voorbeeld van die vyeboom. Jesus maak Hom gereed om te sterf. Sy dissipels verstaan nog nie mooi wat Hy hulle aangaande die koninkryk van God geleer het nie. In die gedeelte net voor hierdie een het Jesus sy dissipels geleer oor sy wederkoms. Net na hierdie gedeelte van die vyeboom sê Hy: Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit (13:32).

 

Die profetiese rede van Jesus is in reaksie op ‘n vraag van die dissipels nadat Jesus gesê het dat die tempel afgebreek sal word (13:2). Jesus sit op die Olyfberg regoor die tempel. Van sy dissipels vra vir Hom: Sê vir ons, wanneer sal dit gebeur en wat sal die teken wees van wanneer dit alles voleindig gaan word? In die eerste deel van sy antwoord praat Jesus oor die vernietiging van die tempel wat primêr op die vernietiging van Jerusalem fokus (13:5 – 23). In die tweede deel van sy antwoord fokus Jesus op sy wederkoms en die kosmiese gebeure wat daarmee gepaard sal gaan (13:24 – 27). Jesus het hulle van rampe en vervolging en ‘n groot verdrukking wat oor Jerusalem sal kom, vertel. Na die verskriklike gebeure sal Hy weer kom en verbasende kosmiese tekens sal met sy wederkoms gepaard gaan. Dit is hierdie onderrig oor die toekoms wat ons by die verhaal van die vyeboom bring.

 

Leer die les van die vyeboom: Sodra sy takke begin sag word en blare uitstoot, weet julle dat die somer naby is (Direkte Vertaling). In die lente maak die sap die tak wat in die winter hard en droog was, sag. Dan begin dit die blare uitstoot. In die Palestina van destyds was dit algemene kennis – vyebome was baie algemeen. Hier het ons ‘n eenvoudige analogie uit die natuur wat Jesus gebruik om ‘n punt te maak. Soos jy weet die somer is naby as die vyeboom blare uitstoot, kan die gelowiges in Jerusalem weet dat die vernietiging van die stad naby is as hulle die tekens wat Jesus pas beskrywe het, sien. Jesus maak dit nog duideliker as Hy die toepassing van die les vir sy hoorders verduidelik.

 

So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat dit naby is, voor die deur. Hierdie verwys uit wat ons uit die voorafgaande kan aflei na die vernietiging van Jerusalem. Toe Jesus gesê het dat die tempel afgebreek gaan word, het sy dissipels gevra wanneer dit sal gebeur: Wanneer sal die tempel afgebreek word.

 

 Amen, Ek sê vir julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot ‘n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Ons gaan weer terug na die dissipels se vraag oor die vernietiging van die tempel en daarmee gepaard die vernietiging van Jerusalem – hierdie dinge.  Jesus maak dit duidelik dat hierdie dinge nog in hulle leeftyd gaan plaasvind. Hierdie dinge kan dus nie na Jesus se wederkoms verwys nie. Ons weet Jerusalem is in die jaar 70 vernietig. Dit is nog binne die leeftyd van hierdie geslag. Dit mag wees dat die verdrukking wat met die vernietiging van Jerusalem gepaard gegaan het net ‘n voorafskadu was van die groot verdrukking voor Jesus se wederkoms. Jesus sê vir hulle dat dit wat eens baie belangrik in hulle lewens was onder die Ou Verbond – die tempel – binnekort sou verbygaan. Dié belangrikste sal egter nooit verbygaan nie.

 

Die hemel en die aarde sal tot ‘n einde kom, maar my woorde sal beslis nie tot ‘n einde kom nie (Direkte Vertaling). Hierdie sou ‘n verbasende stelling vir baie gewees het. Jesus sê dat sy woorde is soos die woorde van God. God se woorde staan vir altyd, want God staan vir altyd. Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig (Jesaja 40:8).

 

Wat is die primêre lesse wat Jesus wil hê ons uit hierdie gedeelte moet leer?

  1. Ons kan vertrou dat die toekoms vas in die hande van ons oppermagtige Here is. Niks sal Hom onverwags betrap nie. Die verdrukkings en hartseer van hierdie lewe dien sy groter doel. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hy liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28). Ons moenie bekommerd wes as dinge om ons oënskynlik inmekaar stort nie.
  2. Omdat die Here die toekoms ken, kan Hy ons waarsku van dinge wat gaan kom, sodat ons voorbereid is om dit te hanteer. Hy sal ons help om voorbereid te wees vir die dinge wat gaan kom.
  3. Ons kan op die woord van die Here vertrou as die vaste fondament vir ons lewe en hoop vir die toekoms.

 

Dit laat elkeen van ons met ‘n besluit om te neem. Sal ons op Jesus Christus en sy woord vertrou of gaan ons ons lewens op die sand van die wêreld en sy leuens bou?

 

 

 

 

 

image_pdfimage_print