Dissipelskap: Tel die koste

image_pdfimage_print

I divide all readers into two classes: those who read to remember, and those who read to forget. –Willia Lyons Phelps

Dissipelskap: Tel die koste

Daar word baie geskryf oor dissipelskap. So byvoorbeeld het twee boeke onlangs verskyn: Follow Me van David Platt en Multiply van Francis Chan. Ook op heelwat blogs word daar geskryf oor hierdie onderwerp. Ek het besluit om ‘n reeks oor dissipelskap te skryf waarin ek gebruik maak van hierdie boeke en verskeie blogs. Die sentrale tema van al hierdie geskryf, is dat ons dissipels is en dat ons dissipels moet maak.

In Lukas 14:25 – 33 praat Jesus oor die eise van dissipelskap.

Hy sê onder andere as iemand sy dissipel wil wees, moet hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en susters, ja, selfs van sy eie lewe. Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aankom nie, kan nie my dissipel wees nie … So kan niemand van julle my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie. Dissipelskap kom teen ‘n koste. Daarom moet ons eers ons harte ondersoek en vasstel of ons bereid is om die prys te betaal.

 As dit dan ‘n prys gaan kos, hoekom moet ons dissipels maak? Jesus Christus het sy dissipels geroep. Soos hulle Hom gevolg het, sien hulle hoe Hy siekes genees, dooies laat opstaan, maar hulle sien ook  sy liefde vir sondaars. Dit pas nou nie juis in wat die mense van destyds verwag het dat die Messias sou kom doen nie. Hulle volg Hom tot die einde … en toe sterf Hy aan die kruis. Hulle hoop vir ‘n beter wêreld sterf saam met Jesus aan die kruis. Nou volg drie dae van verwarring en ontnugtering. Alles waarop hulle gehoop het, is weg. Het hulle drie jaar van hulle lewens gemors om Hom te volg?

 Maar op die derde dag staan Hy uit die dood uit op; Hy het die sonde en die dood oorwin. Nou sal Hy sekerlik die stukkende wêreld heelmaak. Nee, Hy gee aan sy dissipels ‘n finale opdrag en vaar na die hemel op.

 Wat is hierdie taak wat Hy vir sy dissipels gee? “Julle moet dit wat Ek begin het, voltooi. Neem die boodskap wat Ek verkondig het en leef dit uit.” En sy opdrag? Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels; doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Matteus 28:18 – 20).

 Hoekom moet ons dissipels maak? Om dit ‘n opdrag is wat Jesus Christus aan ons gegee het. Volgende keer kyk ons na die opdrag aan die kerk.

image_pdfimage_print

You may also like...