As ek aan ‘n argument deelneem, is dit “ongeestelik”?

image_pdfimage_print

War may sometimes be a necessary evil. But no matter how necessary, it is always an evil, never a good. We will not learn how to live together in peace by killing each other’s children. -Jimmy Carter

 

As ek aan ‘n argument deelneem, is dit “ongeestelik”?

Dit is nie so eenvoudig om hierdie vraag te antwoord nie. Paulus skryf aan Timoteus: Moet jou nie met dwase en sinlose strydvrae inlaat nie, want jy weet tog dat dit net rusies veroorsaak. ‘n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra. Met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys. Dit kan wees dat God hulle bekeer en hulle tot kennis van die waarheid bring. Dan sal hulle weer tot nugtere insig kom en vry raak uit die vangstrik van die duiwel, waarmee hy hulle egvange gehou het om sy wil te gehoorsaam (2 Timoteus 2:23 – 26).

Dan lees ons al Paulus se argumente in sy toesprake in Handelinge. Wat dan van 1 Korintiërs 15 waar Paulus die opstanding van Christus en die opstanding van die dooies beskryf en waar hy argumente gebruik om sy saak te bevorder? Hier speel sy argumente ‘n duidelike geestelike rol. God bemagtig die apostels om te praat. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig (2 Petrus 1:21); Dit verkondig ons ook, nie met geleerde woorde wat die menslike wysheid ons leer nie, maar met woorde wat die Gees ons leer (1 Korintiërs 2:13).

Mense is hardkoppig en verwerp selfs argumente wat hulle behoort te oortuig. Selfs al is ‘n apostel die verkondiger van die woord het hy die Heilige Gees nodig om mense harte vir God se woord voor te berei. Paulus sê dat die boodskap van die kruis van Christus wel onsin is vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God (1 Korintiërs 1:18). Mense beskou God se boodskap as dwaas – ook omdat dit hulle status en trots bedreig.

Argumente speel ‘n belangrike rol, nie alleen vir die kommunikasie tussen mense nie, maar ook vir die oordra van God se woord deur sy agente – die apostels. Hulle gebruik argumente om mense te oortuig van God en wat Hy in Jesus Christus vir ons gedoen het. God is ook teenwoordig deur die Heilige Gees om mense se harte voor te berei vir die ontvangs van en die reaksie op hierdie argumente. Totdat God mense se harte verander, weerstaan hulle die waarheid van die evangelie.

 

 

image_pdfimage_print