Ek cope nie meer nie: Kry jou kop reg – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

Laat jou werklikheid deur feite beheers word 

Om die regte doel vir jou lewe te stel en te weet wat jy daar­mee wil maak, moet jy verstaan hoe jou kop werk, want eint­lik gebeur alles in jou kop. Die manier waarop jy oor dinge dink en die dinge waaraan jy dink, bepaal in ’n groot mate wie jy is en hoe jy optree. Dit bepaal dan ook in ’n groot mate of jy kan cope of nie.

Neem nou maar die eenvoudige voorbeeld wat sekerlik nie vir een van ons werklik vreemd sal klink nie. Sannie het nie ’n omkapmasjien om haar rok mooi af te rond nie. Sy wonder of sy nie haar buurvrou moet gaan vra of sy haar om­kap­­masjien kan leen nie. Op pad soontoe spring die on­se­kerheid en twyfel met ’n bekwame spoed aan die werk soos ’n honger mopaniewurm aan ’n blaar: “Sê nou net sy wil nie,” begin Sannie sê. “Dalk gaan sy sleg voel om nee te sê, of mis-kien gaan sy dink ek weet nie hoe om met die ding te werk nie.” Die stryd in Sannie se gemoed word feller: “Sê nou sy sê sommer in my gesig nee of maak dalk nie eers die deur vir my oop nie.” Teen hierdie tyd is Sannie by haar buurvrou se voordeur. Haar buurvrou sien haar aankom en maak oop. Sannie stoom die trappe op. Haar hart klop vinniger, sy hyg effens na haar asem en haar hande is nat van die sweet. Dan trek sy los: “Ek weet jy dink ek kan nie ’n omkapmasjien werk nie en dat ek dit natuurlik sal breek. Vat jou ou masjien. Al is dit die laaste omkapmasjien in die wêreld en jy wil dit vir my gee, sal ek nie met ’n tang daaraan vat nie! Hou die ou ding!” Geen wonder dat die buurvrou verslae byna haar koppie tee laat val nie.

Wat het hier gebeur? Wel, Sannie het in haar kop ’n werk­likheid gekonstrueer volgens wat sy gedink het gaan gebeur. Sy het haarself geglo en gedink dit is regtig soos sy dink. Toe sy uiteindelik by haar buurvrou kom, het sy opgetree volgens wat sy gedink het gaan gebeur en nie volgens die werk­like si­tu­asie nie. Nie die werklikheid nie, maar die persepsies in haar kop het haar optrede bepaal en beheers. Dit het selfs haar liggaam fisiek aangetas; daarom het haar hart begin klop en sy het begin sweet en hyg na haar asem. Die stelling is dus waar dat ons lewe en optrede nie deur die werklikheid beheers word nie, maar deur ons persepsies van dinge.

Dit is soos die man wat in vrede lê en slaap. Skielik gee sy vrou hom so in die slaap ’n taai oorveeg. Uit sy pajamas geskrik, vra hy wat nou aangaan.

“Wel,” sê sy vrou, “ek het gedroom jy soen ’n ander vrou. As jy dit weer doen, skei ek jou, hoor jy!”

Hoe ons dinge sien en daaroor dink, met ander woorde, ons persepsies, bepaal wat ons glo en doen.

Hoe ontstaan dié prentjie in jou kop?

In elkeen van ons se kop is daar eintlik ’n hele wêreld weg­gebêre wat bestaan uit ons idees oor al die persone wat ons ken, hoe ons oor dinge in die samelewing dink, soos die skool, kerk, werk of wat ook al, hoe ons ons verhoudings met ander sien, en so aan. Die geleerdes noem dit jou eie klein universum of wêreld. Dit sluit alles in wat jy ken en weet en hoe jy daaroor voel. Daarvolgens leef jy.

Gestel jy hoor die woorde “my man” (of “vrou”). Dadelik kom daar by jou ’n gevoel en sommer ’n klomp idees op. Jy kan sê wat jou man alles vir jou beteken. Jy kan oor sy karakter en selfs sy geskiedenis praat. As jy gelukkig saam met hom is, sal jy oor jou positiewe gevoelens kan praat, maar as jy onge­lukkig saam met hom is, sal jy emosioneel negatief reageer. Daardie prentjie wat jy in jou kop van jou man het, bepaal hoe jy teenoor hom gaan optree.

Al die idees wat jy oor jou man het, is ook nie ewe belangrik nie. Nee, vir ons is party idees belangriker as ander. As jy byvoorbeeld dink jou man het op een of ander manier ’n ver­houding, al is jy nie seker nie, gaan dit maak dat jy so ’n bietjie agterdogtig gaan begin optree. As jy aan jou man dink, gaan hierdie ding jou die hele tyd pla. Dit word dus vir jou baie belangriker as ander eienskappe van jou man, soos dat hy eintlik nog altyd goed was vir julle, dat hy liefdevol optree teenoor jou en so aan. Daardie dinge is dan vir jou minder belangrik. Jou idee van jou man – wat jyself eintlik maak deur al die indrukke wat jy versamel en bymekaarsit – bepaal dus wat jy gaan doen en sê as jy by hom is of oor hom praat.

Een ding wat ons hier mooi moet besef, is dat daardie indruk jóú indruk is en nie objektief waar is vir almal en alles nie. Dit gebeur mos dat as twee mense van ’n partytjie af terugkom die een sou sê: “Ek hou niks van so en so wat daar was nie,” ter­wyl die ander een sê: “Nee, ek is mal oor hom.” Hoekom is dit so? Omdat ons verskillende prentjies in ons kop gemaak het van daardie persoon. As die twee mense weer daardie “so en so” raak loop, sal die een vriendelik reageer en graag met hom wil gesels, terwyl die ander een met ’n “Hallo, hoe gaan dit? Verskoon my, ek is ’n bietjie haastig!” homself uit die voete gaan maak.

’n Ander voorbeeld: ’n Persoon stap in die kroeg in en skreeu: “Die drankies is op my. Kroegman, jy kan ook sommer een kry.” Toe hy moet betaal, het hy nie ’n sent by hom nie en die kroegman foeter hom dat hy daar trek. Toe hy so half deur die mis weer bykom, skreeu hy weer: “Die drankies is op my, maar hierdie keer niks vir jou nie, kroegman. Jy raak te aggressief as jy drink.”

 Ja-nee, die prentjies van die kroegman en die vrygewige drinker oor wat daar gebeur, verskil hemelsbreed en het hulle totaal verskillend laat optree. So verskil ons interpretasies van dinge en mense. Party mense is vir jou belangriker as an­der, party dinge wil jy eerder hê as ander, en so aan. Al hierdie besluite word in jóú kop geneem aan die hand van hoe jy graag jou wêreld wil organiseer. Wat jy dink, bepaal wat jy doen.

Die voorbeeld hierbo geld alles wat ons ken of doen. Daar­om behoort verskillende mense aan verskillende politieke partye, of gaan hulle na verskillende kerke toe, of hou hulle van verskil­lende vakansieplekke. Die prentjie wat hulle in hulle kop­ het, lyk anders. Ons sê hulle opsomming van die situasie is verskillend, met ander woorde, hoe hulle hulle prentjies aanmekaargesit het, verskil, en daarom verskil wat hulle doen.

Wat belangrik is, is dat jy ook so ’n prentjie van jouself       in jou kop het. As jou prentjie positief is, sal jy positief voel    en positief optree. As jy dink jy is niks werd nie en ander          is belangriker as jy, gaan jy heeltyd minderwaardig voel en terug­staan.

Maar kyk mooi; hierdie is jou prentjie van jouself en nie noodwendig die prentjie wat ander van jou het nie. Jy moet net nie deur jou optrede vir hulle genoeg rede gee om so negatief oor jou te begin dink as wat jy oor jouself voel nie. Dit is jy wat minderwaardig vóél; jy ís dit nie noodwendig nie. Om die waarheid te sê, geen mens hoef minderwaardig te voel nie, want die Here het ons almal gemaak, vir ons almal unieke talente gegee en het vir elkeen van ons ’n spesiale plekkie op hierdie aarde. Maar sê dit nou vir iemand wat minderwaardig voel, dan sal hy vir jou sê: “Ja, maar … dis mý situasie, of mý armoede,” of wat ook al. Hulle sal redes soek om hulle idee te regverdig, want hulle glo hulleself. Jóú wêreld is vir jóú waar, kom wat wil.

Ek interpreteerdit volgens my wêreld.

Reageer

Gebeure

Dit is vir my die waar­heid

wat ek glo.

Skrywer:  Prof JAn van der Watt

image_pdfimage_print